• Login
  • Search Icon

Klem-in-die-kaak - 'n gevaar vir mens en dier

March 2014

JAN DU PREEZ, besturende direkteur, Instituut vir Suiweltegnologie

Tetanus of klem-in-die-kaak is nie ‘n aansteeklike siekte nie en word deur ‘n bakteriese toksien of gifstof (neurotoksien tetanospasmin) veroorsaak. Die senuweesisteem van perde en skape en soms beeste, bokke, varke en mense en by uitsondering honde en katte, word aangetas. Tetanus kom ook by die mens voor (soönose) waar dit pynlike spierspasmas in die kou- en nekspiere veroorsaak. In mense van ontwikkelende lande is tetanus ‘n publieke gesondheidsprobleem.

image

Besmetting

Tetanus is ‘n siekte wat bykans alle diere asook die mens, aantas. Perde en mense is baie vatbaar vir die siekte, terwyl beeste minder vatbaar is. Jong lammers word dikwels aangetas.

Die siekte word deur die toksien van die bakterie Clostridium tetani veroorsaak. Die bakterieë vermeerder in die dooie weefsel van ‘n wond van die dier. Die kragtige toksien word vanaf die wond van die dier geabsorbeer en beweeg langs die senuwees na die brein en rugmurg. Dit veroorsaak tipiese senusimptome.

Wonde waarin die bakterieë die algemeenste vermeerder is dié wat deur kastrasie en die afsit van sterte (veral by skape) veroorsaak word. Perde word gewoonlik aangetas as hulle beslaan word met ‘n perdeskoen of in ‘n skerp voorwerp trap. Hulle kan ook tetanus kry as wonde besmet word met die bakterieë waar anaërobiese- (afwesigheid van suurstof) toestande gunstig is.

Die bakterieë kan ook soms die naelstring besmet, vermeerder en sy toksien produseer. Die gebruik van rekkies vir stertafsit en kastrasie by lammers is veral gevaarlik en moet by onbeskermde lammers (dragtige ooi nie ingeënt voor lam) vermy word. Hierdie rekkies veroorsaak die afsterwe van weefsel (nekrose) van die vel wat ideale toestande vir die vermeerdering van die bakterieë skep; grootskaalse verliese is al as gevolg van hierdie metode gely.

In koeie ná kalwing, waar die nageboorte (plasenta) vassit of agterbly, kan tetanus ook voorkom. Beeste het gewoonlik hoë vlakke van neutraliserende teenliggaampies teen die neurotoksien van die bakterieë. Ná kalwing daal die teenliggaampies baie en sodoende raak die koei meer vatbaar vir tetanus.

Met die skeer van skape waar skeerletsels voorkom en by die onthoring van diere kan tetanus ook voorkom. Soms ná operasies en inentings van diere is dit ook moontlik dat iatrogeniese (oorsaak is onbekend) tetanus voorkom.

Die broeitydperk (van besmetting tot simptome) by tetanus duur twee tot 14 dae. Vrektes kom gewoonlik binne vier tot tien dae voor. C. tetani is baie algemeen in mis, veral perdemis, en in die grond wat baie organiese materiaal bevat, soos dié van krale en stalle, en wonde wat hiermee in aanraking kom word dan maklik besmet.

Siektetekens by lammers

‘n Lam met tetanus toon tipiese senusimptome:

  • Hy gaan lê en vind dit uiters moeilik om op te staan.
  • Later word hy so styf dat hy omval en nie weer kan opstaan nie.
  • Die bene is styf uitgestrek en die hele liggaam trek styf.
  • Die nek word teruggetrek en die kakebeen toegeklem (lockjaw).
  • Wanneer die dier gesteur word, kan hy tetaniese spasma ontwikkel.
  • Ander diersoorte ontwikkel ook tipiese senusimptome.

Voorkoming en beheer

Tetanus word die beste voorkom deur immunisering (inenting). Diere wat vir die eerste keer op die ouderdom van drie maande of ouer ingeënt word, moet ‘n tweede inenting ná vier tot ses weke ontvang. Hierna word hulle slegs een keer per jaar ingeënt om immuniteit te behou.

Om diere (lammers) wat jonger as drie maande is tydens kastrasie en stertafsit en teen moontlike naelstringinfeksie ná geboorte teen tetanus te beskerm, moet die moederdier vir die eerste keer agt weke en weer vier weke voor partus (geboorte) ingeënt word, en daarna een keer jaarliks, twee tot vier weke voor lam.

Op hierdie manier verkry die jong diere biesmelk-immuniteit wat hulle vir bykans vyf weke sal beskerm. Op die ouderdom van drie maande kan hulle dan geïmmuniseer word soos voorheen beskryf.

Perde en in ‘n mindere mate skape, is veral vatbaar vir tetanus en behoort jaarliks ingeënt te word. Alhoewel moederdiere (byvoorbeeld ooie en merries) teen tetanus ingeënt word en daar ‘n biesmelk-immuniteit ontwikkel in die lam of vul, moet goeie higiëne altyd gehandhaaf word gedurende kastrasies, stertafsit of chirurgiese prosedures.

Publication: March 2014

Section: Other Articles

Search