• Login
  • Search Icon

King III – goeie korporatiewe bestuur

October 2010

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder/CEO

Graan SA is tans deel van ‘n proses om die stand van korporatiewe bestuur en beheer in die organisasie te oudit onder leiding van die eksterne ouditeure.

Die eerste ontledings dui op bevredigende vlakke van korporatiewe bestuur en is ‘n veer in die hoed van diegene wat leiding gegee het en steeds gee in die voldoening aan die beginsels wat goeie korporatiewe bestuur en beheer onderlê. Met die implementering van King III vanaf September 2009, het hierdie aspek van die aanspreeklikhede en verantwoordelikhede van leiers van ‘n organisasie soos Graan SA, egter ‘n ander dimensie betree.

Voldoening aan die nuwe bepalings bou voort op die fondasies van King II voldoening, maar dui op ‘n meer prosesmatige benadering.

Daar gaan nie noodwendig ‘n einde kom aan voldoening nie en dit is binne hierdie konteks wat daar strategies beplan moet word ten opsigte van die voldoening aan korporatiewe bestuur en beheer.

Noodwendig sal ouditeure voortaan meer noulettend moet berig oor status, afwykings en verklaring van voorneme om te voldoen. Die korporatiewe gewete van die korporasie word ook nou meer omvattend met die intrek van meer en meer rolspelers wat gesamentlik verantwoordelik gehou kan word vir afwykings en wanvoorstellings.

Ouditeure se strategie in hierdie verband gaan ook aanpas om hulle gerusstelling te kan verdedig.

King III bou voort op baanbrekerswerk in die vorm van vooraf verslae. King II het byvoorbeeld aanbevelinge gedoen oor wenslike korporatiewe beheer en bestuur. King III neem korporatiewe bestuur en be heer verder en beklemtoon die belangrikheid van leierskap in strategieontwikkeling en -implementering.

Die rigtingbepalende rol wat sakeleiers speel in die doen van besigheid en die impak daarvan op die gemeenskap is van die meetbare uitkomste waaroor daar verslag gedoen word kragtens die bepalings van King III. Dit is ‘n omvattende en inklusiewe proses van voldoening, maar die wese daarvan is eintlik eenvoudig. King III plaas groter klem op risikobestuur, maar met ‘n vernuwende, inwaartse fokus in terme waarvan interne vermoëns meer prominensie geniet.

Spesifieke verslagdoeningsvereistes deur ouditkomitees het ten doel om meer beginselgedrewe prestasies aan te moedig. Leiers soos direkteure en by name verkose lede van die hoofbestuur van Graan SA, het dus te doen met nuwe uitdagings, waaronder deurlopende selfevaluering.

Mededingendheid is ‘n verdere gevolg van dié vlak van korporatiewe beheer en bestuur, met die verslagdoening deur onder andere die eksterne ouditeure van ‘n onderneming/maatskappy as rugsteun. Die vlak van besigheidsetiek is vervolgens afleibaar uit verslae oor korporatiewe bestuur en beheer en bepalend ten opsigte van hoe goeie korporatiewe burger enige maatskappy is – insgelyks ook ‘n vereiste waaraan Graan SA sal moet voldoen.

Regter Mervyn King het die wese van selfevaluering by geleentheid opgesom in tien eenvoudige vrae (sien die kassie) wat tegnies op almal van ons van toepassing gemaak kan word. Die geïnteresseerde leser kan by die volgende webskakel meer hieroor gaan lees: www.pwc.com/za/king3.

Publication: October 2010

Section: Editorial

Search