• Login
  • Search Icon

Kille winde...

May 2010

Beste Grootneef

Soos N.P. van Wyk Louw geskryf het: “Die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin, en witter lig. Elke blom word vrug, tot selfs die traagstes...”. Die seisoen draai gewis met ‘n afskeid van goue blare van sekerlik een van die mooiste somers ooit. Nou le ‘n kille winter vir ons voor.

Die afgelope tyd het kille politieke winde ook oor ons land gewaai; met ontstellende nuus en wilde uitsprake. Indirek het dit gegaan oor die beeld wat die bree publiek van die “boer” het. En van persepsies wat oor jare van boere in Suid-Afrika gevorm is, soos dat alle boere kakiehemde dra, brandewyn en Coke drink, platvloers is en daarvan hou om werkers te mishandel. Hoe ver van die waarheid is dit nie?

Die vraag is, watter eienskappe is verweef in “om ‘n boer te wees”.

Indien daar in ‘n Sondagkoerant ‘n advertensie sou moes verskyn vir die pos “Boer in Suid-Afrika”, hoe sou die posvereistes vir hierdie beroep lees? Adv. Frans Stroebel het tydens die Graan SA Kongres verwys dat dit baie meer verg as bloot ‘n begeerte om te boer. Hy het uitgewys dat behalwe vir landboukennis, verg dit ook finansiele kundigheid, produksie-oordeel, meganisasie-ontleding, bemarkingsfinesse en die skepping van vennootskappe, personeelbestuur, rekenaarvaardigheid, polisiering en sekuriteitspesialisasie, en ‘n groot dosis vernuftige politieke voetwerk. Boonop moet die landbouer in ‘n mark meeding met produsente van ander lande wat op groot skaal deur hulle regerings beskerm en gesubsidieer word.

Van baie min ander beroepe word so ‘n kombinasie van vaardighede vereis. Die vraag wat adv. Stroebel stel is: Hoe is dit moontlik dat boere as ‘n groep, met so ‘n verstommende poel kundigheid, die swakste beeld in Suid-Afrika het? Hy merk op dat eerder om as die “hardwerkende produsente van wereldgehalte” erken te word, boere per definisie as “polities verkrampte mense regskenders en onsensitiewe grondbaronne” getipeer word.

As voorbeeld noem hy dat indien enige blanke man by ‘n beweerde misdaad van watter aard ook al in die platteland betrokke is, daar summier deur die media na so ‘n persoon as ‘n “boer” verwys word. In ander gevalle word normaalweg na “verdagtes” verwys.

Die vraag is ook hoe ernstig die owerheid die kommersiele landbousektor opneem. Adv. Stroebel druk weer eens ‘n vinger op die seerplek.

Die 2007-begrotingsrede het net vaagweg aan die landbousektor geraak. In 2008 en 2009 is die sektor nie eers in die toespraak genoem nie. Vanjaar was daar in die openingsrede bloot ‘n verwysing dat sukses in die landboubedryf gemeet sal word teen die aantal ontwikkelende produsente wat sukses in die landbou bereik. Volgens adv. Stroebel kan uit bogemelde afgelei word dat die landbousektor se lobby-invloed niksseggend is. Hy verwys ten slotte na Churchill wat tereg gese het “It’s never the facts, it is all about perception” – aldus adv. Stroebel.

Ou Neef, bo en behalwe die elemente, markpryse, insetkoste en die swak rugby wat die Cheetahs deesdae opdis, is dit ons grootste uitdaging. Die geleerde mense se jy kan nie ‘n persepsie verander nie, jy moet ‘n nuwe een skep.

Wat sou ons graag wou he moet die bree publiek van boere dink? Wat van: dankie, die boere produseer vir ons die goedkoopste kos in die wereld. En: danksy landbou is daar groei en ontwikkeling in die platteland. Wat van ‘n handeklap vir boere wat ten spyte van moeilike omstandighede steeds die grootste werkverskaffer in landelike gebiede is. Of: dankie boere, danksy kommersiele mentors, word talle nuwe boere suksesvol gevestig.

Harde werk wag op die landbousektor om ‘n nuwe beeld en persepsie te vestig oor die waarde wat die landbouer tot groei en ontwikkeling in Suid-Afrika kan ontsluit. Die sleutel hiertoe bly steeds voedselsekuriteit.

Bultfontein se manne het onlangs gewys hoe. Die Vrystaatse premier en Landbou MEC het op Bultfontein kennis gemaak met ‘n hartlike en ondersteunende landbousektor waardeur die persepsie gesmee is van boere wat omgee. Vir beide die premier en MEC loop daar nou ‘n bees in die Bultfontein-distrik, as simbool van hierdie nuwe werksverhouding.

Wat van soortgelyke projekte in elke distrik? Want die vet weet, die toekoms van ons kinders le in die verhoudinge en persepsies wat nou gebou gaan word. Nie doer in die stede nie, maar in elke plaaslike distrik, sodat die lied “maak dood die boere”, in die vergetelheid verdwyn.

Ou Neef, ons hoop vir kalmer politieke winde, ook aan die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: May 2010

Section: E-mails

Search