• Login
  • Search Icon

Kies só die regte spuitkop

October 2016

GERRIT JANSEN VAN VUUREN, Villa Crop Protection

Die gebruik van landbouchemiese middels bly een van die belangrikste aspekte van gewasproduksie in Suid-Afrika. Ten spyte van die navorsing en kwaliteitsbeheer wat gepaard gaan met die vervaardiging van landbouchemiese middels, word die registrasiehouers van hierdie produkte jaarliks deur produsente gekonfronteer met klagtes oor "Jou gif wat nie gewerk het nie".

Skade as gevolg van wegdrywing van onkruiddoders na sensitiewe naburige gewasse, is ook nie 'n ongewone verskynsel nie. Hoewel lugtoediening maklik hiervoor die skuld kan kry, is dit egter 'n feit dat daar ook drywingskade as gevolg van grondtoediening plaasvind.

Om die volle potensiaal van 'n oesbeskermingsproduk te kan benut, is daar verskeie faktore wat in plek moet wees, waarvan akkurate toediening op die teikenarea, op die regte tyd (ten opsigte van beide die gewas en plaag) en onder geskikte omgewingstoestande sekerlik die belangrikste is.

Vir die doel van hierdie artikel word vervolgens aandag geskenk aan die keuse van die korrekte spuitkoppe as 'n belangrike komponent van akkurate toediening binne rygewasse.

Die toenemende gebruik van hoogs-tegnologiese hoogloopspuite het, interessant genoeg, 'n groot toename in klagtes van oneffektiewe plaagbeheer by landbouchemiese maatskappye tot gevolg gehad, wat dus 'n aanduiding is dat hierdie tegnologie nie noodwendig korrek aangewend word nie.

Ondersoeke deur verskeie landbouchemiese maatskappye het aan die lig gebring dat die verkeerde spuitkoppe in 'n groot persentasie van die gevalle op die stelsels gebruik is, of alternatiewelik dat die korrekte spuitkoppe teen verkeerde parameters (byvoorbeeld spuitdruk) gebruik is.

Die beste plaagdoder sal slegs so goed werk as wat dit toegedien word en die gebruik van die korrekte snuit vir die tipe toediening speel 'n kardinale rol in die effektiwiteit van die plaagdoder.

Dit is belangrik om te besef dat die teiken en gewassituasie die toedieningsvereistes – en dus keuse van spuitkoppe – voorskryf. Die feit dat 'n moderne hoogloopspuit glifosaat teen 30 km/h en vinniger en 'n spuitmengselvolume van 50 liter/ha kan toedien, beteken nie dat dit wel só gedoen moet word nie. Die spuitkoppe wat saam met die aankoop van die toerusting gekom het, is ook nie noodwendig geskik vir die tipe toediening wat die produsent in gedagte het nie.

Faktore wat keuse van spuitkoppe bepaal:

  • Aard van toediening: Algeheel-breedwerpig of bandtoediening oor die plantry?
  • Aksie van die produk: Sistemies of kontak? Produkte met kontakaksie vereis as 'n reël meer bedekking (meer druppels per cm²). In geval van tenkmengsels moet kontak-aksieprodukte as die bepalende faktor gesien word. Effektiewe bedekking vir die kontak- aksieproduk sal noodwendig ook effektiewe bedekking vir die sistemiese komponent beteken. Die teenoorgestelde geld nie noodwendig nie.
  • Aard van die teiken: Hoe krities is penetrasie binne die gewas en hoe maklik sal dit bereik kan word?
  • Is beperking van druppelwegdrywing van kardinale belang?

Spuitkoppe vir algeheel-breedwerpige toediening

Die spuitkoppe wat deur jare heen as effektief bewys is vir algehele toediening, bly steeds dié wat 'n platwaaier (flat fan)-spuitpatroon lewer. Daar is egter deesdae verskeie tipes van hierdie spuitkoppe op die mark – met nuwe ingeboude tegnologie – en dit is daarom belangrik dat die regte keuse gemaak word.

Twee nuttige ontwikkelings in dié verband is die sogenaamde dubbel-uitlaatwaaier (twin fan)-dubbeluitlaatspuitkoppe waar een spuitkop in twee rig tings uitspuit – wat veral penetrasie in die gewas in bevoordeel. Die tweede is luginduksie/venturi (air induction of AI)-spuitkoppe waar lug in die spuitkop ingetrek word en met die spuitmengsel meng en groter druppels lewer – wat help om wegdrywing te verminder.

Let daarop dat die storie van produksie van luggevulde "borreldruppels" deur laasgemelde spuitkoppe nie heeltemal waar is nie, aangesien baie van die formuleringsbestanddele en byvoegmiddels hierdie effek negeer. Die optimale aanwendings van verskillende tipes platwaaierspuit koppe vir algeheel-breedwerpige toediening word in Tabel 1 opgesom.

Kies só die regte spuitkop

Belangrike opmerkings met betrekking tot spuitkoppe vir algeheelbreedwerpige toediening:

Hoogte bo die teikenarea (top van gewas of grond [byvoorbeeld voor-opkomsonkruiddoders]) en oorvleueling
Aangesien platwaaierspuitkoppe minder volume op die kante van die spuitpatroon lewer (sien voorstelling van die spuitpatroon van 'n standaard platwaaierspuitkop in Tabel 1 op bladsy 63), is dit belangrik dat naasliggende spuitkoppe se spuitpatrone met 40% tot 50% sal oorvleuel om 'n eweredige bedekkingspatroon daar te stel.

Die hoogte hang tot 'n groot mate af van die spuithoek wat die betrokke spuitkoppe lewer. Vir 'n spuitbalk met 50 cm-spasiëring is dit gewoonlik 50 cm-hoogte vir 110°-spuitkoppe (byvoorbeeld 11004) en 75 cm hoog vir 80°-spuitkoppe (byvoorbeeld 8004).

Dit moet beklemtoon word dat hierdie spuithoogtes by hoogloopspuite steeds van toepassing bly. Indien die spuitbalk byvoo rbeeld op 1,5 m bo die teikenarea loop, word verkeerde oorvleueling op die teikenarea verkry.

Dwarsmontering
Naasliggende platwaaierspuitkoppe moet met ongeveer 10° dwars op die balk gemonteer word sodat die spuitkoppe nie in mekaar vasspuit nie.

Luginduksie/venturi-spuitkoppe – druppelgrootte versus spuitvolume
Soos in Tabel 1 aangedui, lewer luginduksiespuitkoppe 'n groot tot ultragroot (coarse to ultra-coarse) druppelspektrum – veral by die Turbo TeeJet-luginduksiespuitkoppe. Die gebruik van lae watervolumes met hierdie tipe spuitkoppe gaan noodwendig lae druppelbedekking op die teikenarea meebring.

Waar penetrasie en hoë druppelbedekking (byvoorbeeld kontakaksieplaagdoders) belangrik is, bestaan daar dus die vereiste om teen 'n hoër watervolume toe te dien. Indien drywingbeheer sowel as bedekking belangrik is, kan 'n dubbel-uitlaat turbo-tipe spuitkop eerder oorweeg word – wat steeds groter druppelspektrum lewer (hoewel effens kleiner as die luginduksiepunte), maar wat beter bedekking kan lewer.

Dubbeluitlaat-spuitkoppe
Hoewel hierdie spuitkoppe (twinjet) baie voordelig is wanneer dit kom by situasies waar penetrasie binne die teikenarea moeilik is as gevolg van baie blaarmateriaal of die hoogte van die teikenarea, is daar een nadeel aan hierdie spuitkoppe, naamlik die grootte van die spuitopeninge.

'n Dubbel-uitlaatspuitkop van 04-grootte (byvoorbeeld 8004) bestaan in wese uit 'n spuitkoppunt met twee openinge van 02-grootte – wat dus dieselfde volumevloei as 'n 04-enkelspuitkop lewer. Dit kan 'n probleem by laer volume-toedienings word, omdat die kleiner spuitkoppe maklik kan verstop indien daar nie 'n effektiewe filterstelsel is nie.

Kleur van die spuitkoppe
Hierdie is 'n kritiese aspek wat baie produsente en plaaspersoneel nie reg verstaan nie. Let op die foto's van die spuitkoppe in Tabel 1 en Tabel 2. Al die spuitkoppe is rooi, maar daar is duidelik verskillende tipes spuitkoppe.

Kies só die regte spuitkop

Die kleur van die spuitkop verwys na die volume lewering per minuut teen 40 PSI (2,8 bar)-spuitdruk soos bepaal volgens die ISO 10625-standaard. Al die spuitkoppe wat dus dieselfde volume lewering gee, sal 'n spesifieke kleur hê. Dit help dus nie om byvoorbeeld te vra vir "rooi spuitkoppe" wanneer spuitkoppe vervang word nie. Daar is letterlik meer as 'n dosyn verskillende tipes rooi (of ander kleur) spuitkoppe. Die kode moet volledig gespesifiseer word, byvoorbeeld XR8004VS, vir 'n vlekvrye staal Extended Range 04-grootte platwaaierkop.

Maak seker dat alle spuitkoppe op die balk dieselfde kode het. Foto 1 dui spuitkoppe aan wat beide dieselfde volume lewering gee, maar teen onderskeidelik 80°- en 110°-hoeke sal spuit teen 2,8 bar spuitdruk. Dit sal oneffektiewe oorvleueling – en gevolglik bedekking – op die teikenarea tot gevolg hê.

Die gebruik van spuitkoppe met kegeltipe spuitpatrone (byvoorbeeld holkegel/hollow cone) op die spuitbalk, word nie aanbeveel vir algehele breedwerpige toediening nie. Die aard van 'n kegelspuitpatroon maak dat oorvleueling en 'n eweredige bedekking nie optimaal geskied nie. Platwaaierspuitkoppe met die dubbeluitlaatopeninge bied dieselfde multidimensionele voordeel aan die spuitpatroon – wat bedekking en penetrasie binne-in die gewas bevorder.

Polswydte modulasie (pulse width modulation)-spuitstelsels en luginduksie/ venturi-spuitkoppe
Dit is belangrik om te weet dat luginduksie/venturi-spuitkoppe nie saam met polswydte modulasie-spuittegnologie gebruik kan word nie. Hierdie spuitkoppe benodig 'n konstante negatiewe druk by die spuitkop se lugopening – iets wat deur die polswydte modulasie-meganisme uitgekanselleer word.

Nuwe tegnologie: Koring/kleingraandoelontwerpte spuitkop
Een van die nuutste spuitkoppe op die mark is ontwikkel vir die beheer van siektes in graangewasse soos koring. Die doelontwerpte TeeJet AI 3070-spuitkop is 'n dubbeluitlaat/tweeling(twin)-tipe punt, maar wat teen onderskeidelik 30°- en 70°-hoeke na voor en agter toe spuit. Sien Figuur 1. Die voorste 30°-druppelpatroon verskaf goeie penetrasie na onder, binne die blare in, terwyl die agterste 70°-druppelpatroon bedekking van die boonste deel van die blaredak en are bied.

Kies só die regte spuitkop

Spuitkoppe vir band- of gerigte bespuiting

Waar toediening net bo-oor die plantry (grond of gewas) of rye geskied met onbespuite area tussenin word ander tipes spuitkoppe benodig. Platwaaierpunte kan gebruik word, maar die belangrikste verskil is dat dit 'n sogenaamde gelyke (even) tipe spuitkop moet wees, waar die spuitpatroon dieselfde volume lewering dwarsoor die spuitpatroon gee (sien die spuitpatroon van die gelyke waaier [even fan]-spuitkop in Tabel 2).

In baie gevalle sal die letter "E" as deel van die spuitkopkode op die spuitkop voorkom. Dit is belangrik dat hierdie gelyke tipe spuitkoppe nie op spuitbalke wat algeheel-breedwerpig spuit, gebruik word nie.

Die gebruik van twee of drie spuitkoppe, kegelpatroonspuitkoppe in die geval van gerigte toediening van insekdoders bo-oor die ge wasry (byvoorbeeld mieliestamboorder of in katoen), is baie voordelig vir goeie penetrasie en bedekking.

Uit bogemelde is dit dus duidelik dat daar nie 'n enkele silver bullet-tipe spuitkop is wat vir alle bespuitingscenario's ewe doeltreffend aangewend kan word nie. Die belegging wat die produsent in sy chemikalieë maak, kan in geheel ongedaan gemaak word deur die gebruik van verkeerde spuitkoppe. Volg die riglyne op die etiket wat watervolumes betref. Indien van moderne spuittoerusting teen verlaagde watervolumes gebruik gemaak word, is dit van kardinale belang dat die regte spuitkop gekies sal word – wat veral nie te min en te groot druppels sal produseer nie.

Na-opkomsbeheer van onkruide na 'n periode met strestoestande soos droogte mag die gebruik van hoër watervolumes vereis – om 'n verlengde periode van opname van die aktiewe bestanddeel deur groter druppels te verkry. Dit vereis eerder 'n spuitkop met 'n groter opening as wat die druk verhoog word – wat dan juis kleiner druppels sal produseer.

Binne die onderskeie kategorieë hierbo aangedui kom verskillende tipes sub-kategoriespuitkoppe voor. Hierdie artikel kan ongelukkig nie al hierdie spuitkoppe in detail hanteer nie en die meer algemene spuitkoppe, wat vir die meerderheid van toepassings gebruik kan word, is bespreek.

Vir verdere detail-inligting met betrekking tot toedieningstegnologie en meer diepgaande bespreking en die praktiese demonstrasie van spuitkoptegnologie, kan produsente oorweeg om die Toe dieningstegnologiekursus van die Villa Academy by te woon. Kontak hulle by 011 396 2233.

Nota: Vir die doel van die artikel is hoofsaaklik grafika van Teejet- spuitkoppe gebruik. Dit beteken nie dat hierdie fabrikaat bo ander aanbeveel word nie. Daar is ander betroubare fabrikate met soort- gelyke tipe spuitkoppe wat ook geskik sal wees vir die tipes toe- passings soos bespreek.

Publication: October 2016

Section: On farm level

Search