• Login
  • Search Icon

Ken jou onkruiddoder: Deel3

December 2012

Deel 3: Wildehawer (Wild oats)
 

image

Beheer van onkruide in mielies en koring
 

ELBÉ HUGO, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE EN HESTIA NIENABER, LNR-KLEINGRAAN INSTITUUT

Wetenskaplike naam: Avena fatua
Afrikaanse naam:Gewone wildehawer
Engelse naam: Common wild oats

image image

Kort beskrywing

Wildehawer is ‘n eenjarige gras (eenjarig = gaan deur hele lewenssiklus in een jaar). Dit kan tussen
60 cm – 90 cm hoog word en groei regop of in polle. Die halms van wildehawer groei regop en is haarloos; dit het ook twee tot vyf knope.

Blaarskedes is ook haarloos en kan tot 20 cm lank word. Die blare is haarloos, lynvormig en skerppuntig en kan tot 24 cm lank en 8 mm breed word. Die blaartongetjie is membraanagtig en tot 6 mm lank.

Bloeiwyses is oop, los pluime wat tot 40 cm lank word, terwyl die blompakkies langwerpig, smal en gapend is. Twee tot drie blomme kom voor. Die kroonkaffies het elk een naald wat gebuig en gedraai is, met ‘n donkerbruin onderkant.

Sade lyk soos tipiese hawersaad en is strooikleurig, behaard en gerond aan die een kant, met ‘n spleet aan die ander kant. Sade kan tot 9 mm lank en 2 mm breed word.

Verspreiding

Hierdie onkruid is ‘n strawwe mededinger en kom algemeen in die suidelike Kaap en die graanproduserende dele van die Vrystaat voor – veral waar monokultuur-koringverbouing plaasvind. Wildehawersaad word gewoonlik versprei deur besmette koringsaad en met masjinerie (soos byvoorbeeld stropers).

Beheer

Chemies
Na-opkoms onkruiddoders word toegedien nadat die onkruid en/of gewas reeds op is. Verskeie onkruiddoders is geregistreer vir die beheer van wildehawer in mielies en koring (Tabel 1 en Tabel 2).

Raadpleeg altyd die etiket vir aanwysings en volg die spesifieke aanduidings en dosisaanwysings slaafs na op elke produk se etiket.

In die winterreënvalstreek kan ploeg in die winter help om die onkruid te verminder, maar dit kan slegs gedoen word indien daar nie winterkoring geplant is nie. Omdat wildehawersaad die vermoë het om dormant in die grond te lê vir tot nege jaar, is die gebruik van gewasrotasie nie baie effektief vir die beheer van hierdie onkruid nie. Dit is ook baie moeilik om hierdie onkruid in winterkoring onder droëlandtoestande chemies te beheer en selektiewe na-gewasopkoms onkruiddoders moet gebruik word.

Weerstand teen hierdie onkruid kom reeds algemeen in Suid-Afrika voor. Produsente en chemiese adviseurs moet dus altyd weerstandbiedendheid in ag neem en nie onkruiddoders gebruik waarteen weerstand reeds voorkom nie. Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom.

image

image

image

Publication: December 2012

Section: Input Overview

Search