• Login
  • Search Icon

Ken jou onkruiddoder: Deel 4

January 2013

Deel 4: Dubbeltjie (Devil's thorn)
 

image

Beheer van onkruide in mielies en koring
 

ELBÉ HUGO, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE EN HESTIA NIENABER, LNR-KLEINGRAAN INSTITUUT

Wetenskaplike naam: Tribulus terrestris
Afrikaanse naam:Dubbeltjie, platdubbeltjie, volstruisdoring
Engelse naam: Common dubbeltjie, Devil's thorn, burnut

image image

Kort beskrywing

Dubbeltjies is ‘n lastige eenjarige, inheemse, plat-groeiende onkruid wat horisontaal kan versprei tot 1 m in deursnee.

Die onkruid vertak maklik en het ‘n stewige, diep penwortelstelsel. Vertakte stingels is bruin-groen en behaard met kenmerkende enkelveervormige saamgestelde blare waarvan een paar altyd korter is as die teenoorstaande paar.

Blare vertoon helder blinkgroen aan die bokant. Weens die teenwoordigheid van fyn haartjies vertoon die onderkant dofgroen tot wit. Heldergeel blommetjies met ‘n deursnit van ongeveer 1 cm word enkel gedra op ‘n steeltjie.

Jong vrugte waarin saad voorkom, is groen en vlesig, maar word houtagtig met twee lang en twee korter stekels. Saadvrugte se stekels is baie skerp en haak aan diere se wol, pels en pote asook aan skoensole en trekkerbande en word sodoende versprei.

Dubbeltjies plant slegs met saad voor. Verlepte dubbeltjies (warm, droë toestande) kan giftig wees vir skape en sogenaamde geeldikkopsiekte veroorsaak.

Verspreiding

Dubbeltjies kom regoor Suid-Afrika voor, maar is veral in die westelike dele van die Noordwes Provinsie ‘n groot probleem op sanderige grond en kan ‘n sterk mededinger vir vog wees. Dubbeltjie-saad het die vermoë om onder baie droë toestande steeds suksesvol te ontkiem en groei.

Beheer

Bewerking
Weens die prominente penwortelstelsel kan dubbeltjies maklik meganies beheer word deur die penwortel onder die grond af te sny.

Chemies
Voor-opkoms onkruiddoders gee wisselvallige beheer waar dubbeltjies ‘n ernstige probleem is (hoë infestasievlakke). Genoegsame grondvog is nodig om die voor-opkoms onkruiddoders in die grond te aktiveer en effektiewe beheer te verskaf.

Na-opkoms doders gee beter beheer, maar dan moet dubbeltjies so vroeg as moontlik beheer word voordat dit die sesblaar-stadium bereik het. Weens die plat groeiwyse van dubbeltjies moet dit dus beheer word voordat vertakkings plaasvind. Hoe groter die dubbeltjies word, hoe minder effektief sal die na-opkoms onkruiddoders wees. Onkruid doders geregistreer vir die beheer van dubbeltjies in mielies en koring is saamgevat in Tabel 1 en Tabel 2.

Vir effektiewe beheer moet na-opkoms onkruiddoders met ‘n bymiddel wat die penetrasie van die onkruiddoder bevorder, gemeng word. Sien etiket vir aanwysings en tenkmengsels wat geregistreer is. Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom.

image

image

image

Publication: January 2013

Section: Input Overview

Search