• Login
  • Search Icon

Kaalstert volstruise

May 2013

– Mei 2013

image

Beste Grootneef

Die winter het so eerste skrikmakertjie gestuur met vroeë sneeu op die Maluti's. En dit vroeg in April! Ou Neef, as daardie eerste ysige suidewind oor die vlaktes jaag, is dit tyd om die gewere reg te kry – die jagseisoen is op ons!

Vanoggend hoor ek oor die draadloos 'n ding. Ek het al gehoor hulle sê in die stede gaan dit so rof, hulle steel die suiker uit jou koffie, maar vanoggend hoor ek dat in Oudtshoorn se wêreld pluk "diesulkes" nou volstruise se vere in die nagte. As die boer die volgende oggend by die volstruiskamp kom, staan die arme struise daar met oë wat dwars oor mekaar kyk en 'n kaal stert. Ou Neef, kan jy glo, hulle stroop nou volstruisvere in die nagte!

Onlangs ry ek deur die nou berugte De Doorns op pad na die kolonie. Oral langs die pad staan nuwe entrepreneurs en druiwe smous. Toe die polisievangwa voor my begin spoed verminder, sien jy net hoe die herverdelaars laat spaander!

Ek sien ook langs die paaie al hoe meer wildsheinings opgaan. Dis immers moeiliker om 'n springbok te vang as 'n merino. Dit is egter interessant om te sien dat die meeste nuwe wildsheinings nie teen die teerpad gespan word nie, maar met so buffer van 500 tree of wat van die pad af, net om dit bietjie moeiliker te maak vir sluipers wat snags met skietlampe en knaldempers op die agterpaaie ronddwaal.

Anderdag gesels ek met ou George, ons windpompman. Hy vertel my toe van die bloutjie wat hy geloop het. Hy is "gekontrakteer" om 'n paar windpompe vir die plaaslike owerheid op te sit. Sy kwotasie vir 'n nuwe windpomp en arbeid was om en by R40 000 per pomp. Die werk is gedoen en die windpompe pomp te lekker. Toe George begin navraag doen oor die betaalslag, vind hy uit die persoon met wie gekontrakteer is, is lank reeds deur die munisipaliteit betaal – 'n hele R120 000 per windpomp! Die "middelman" is egter vort met sy buit, sonder om arme George te betaal. Daar sit hy toe hande in die hare; hy kan nie sy pompe terugvat nie aangesien die munisipaliteit bewyse het dat hul reeds deur hul nek betaal het, drie keer die waarde van die pomp!

Ou Neef, verder hoor ek vanoggend dat die onderwysvakbonde nou weer op 'n sloerstaking is, blykbaar met geen oggendklasse nie en ook geen middagaktiwiteite nie. As ek nou so daarna luister, weet ek nie eintlik hoe gaan die pedagoge hul dae verby kry nie. Die resultaat is eintlik maar net dat kinders die geleentheid ontneem word om te leer.

In ons ou dorpie is daar nie meer een potysterdeksel op die mangate oor nie – alles aangerol vir die skrootysterman. Daar gekom word die deksel met 'n hamer in stukke geslaan, sodat niemand dit ná die tyd as 'n mangatdeksel kan herken nie. Ná die inweeg van die brokstukke, word die pad gevat met 'n paar silwerstukke wat klingel in die broeksak – op soek na nog 'n verdwaalde mangatdeksel wat dalk voorheen misgekyk is. Of 'n staaldropper, stukkie doringdraad of wat ook al yster is, wat losgewoel kan word.

Ou Neef, dalk was dit deur al die eeue so, maar vanoggend voel dit of die skelmheid van diesulkes mens wil oorweldig. Dit raak al hoe moeiliker om slimmer as hulle te wees.

Oor die gerugte van oorloë daar diep in Afrika skud Buurman net sy kop. Sy oplossing vir 'n vreedsame oplossing is dat al wat 'n troep is onttrek word uit lande waar ons niks verloor het nie en om hulle daarna te ontplooi om die paar renosters wat nog in die Kruger Wildtuin oor is, op te pas!

Hoe wil ons dan daar doer gaan oorlog maak en ons eie grense lek soos 'n sif? Lesotho se beeste wei al dieper die Vrystaat in, met grensboere eintlik op hul eie. Jitte, sit 'n paar patrollies dáár neer – dit sal sin maak!

Ou Neef, sterkte op die Oosgrens – sluit maar die skapies snags toe.

Kleinneef

Publication: May 2013

Section: E-mails

Search