• Login
  • Search Icon

Jongboere kyk na die toekoms van landbou

November 2012

ANSONÉ VENTER, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

Ontsouting van seewater, vertikale produksie, die gebruik van mikrobes en robot-arbeid, nanotegnologie, droogteverdraagsame plante en supergewasse. Dít is die toekoms van landbou het die span van Senwes Landboudienste die jongboere by vanjaar se Senwes Jongboer Toekomsfokusdag ingelig.

Op 20 September het sowat 300 jongboere vanuit die Noordwes Provinsie en die Vrystaat die Jongboer Toekomsfokusdag op NAMPO Park bygewoon. Dié dag word deur Senwes, in samewerking met Graan SA, die Vrystaat Landbou Jongboervereniging en die Agri NW Jongboer vereniging aangebied. Vanjaar is die nuutste presisieboerderytegnologie op toerusting en vee deur middel van praktiese demonstrasies ten toon gestel.

Met lesings en toesprake wat so kort moontlik gehou is, was dit nie lank voor die jongboere die indrukwekkende, praktiese gedeelte van die dag kon geniet nie. ‘n Kunsmisstrooier, ‘n hoogloopspuit, ‘n trekker met kruipbande en ‘n stroper, het deel van die meganisasiepresisiedemonstrasie uitgemaak.

Jongboere kon duidelik sien wat aangaan deur die demonstrasie op ‘n groot skerm dop te hou. Daarop is al die nuttige inligting oor die implemente en toerusting uiteengesit. Met behulp van kameras was dit moontlik om elke aksie dop te hou, selfs binne-in die stuurkajuit. Drs Japie van der Westhuizen en Pierre van Rooyen van SA Stamboek het die aanbieding oor presisieboerdery met plaasvee in die veilingslokaal op NAMPO Park behartig. Daar is aan jongboere verduidelik hoe om van BLUP-teelwaardes asook ‘n visuele assessering vir funksionele doeltreffendheid gebruik te maak om die beste ram vir jou kudde te selekteer.

Francois Strydom, Senwes se besturende direkteur, het aan jongboere gesê dat hulle gereeld besig moet wees met die toekoms en met daardie aspekte wat hul kan help om probleme te deurdink. “As jy heeldag besig is met die ontwerp van die toekoms, gaan jy dit beter regkry,” het Strydom gesê.

Publication: November 2012

Section: Other Articles

Search