• Login
  • Search Icon

Is ons op die wenpad met entstowwe of verloor ons?

March 2014

GERHARD H VERDOORN, Suid-Afrikaanse Dieregesondheidsvereniging

Veesiektebekamping is iets waarmee die veeboer elke dag te doene het. Sommige daarvan, soos miltsiekte, kom sporadies voor, terwyl ander weer elke dag in die produsent se dagboek behoort te wees.

Die sage rondom Slenkdalkoors is nog nie vergete nie en noord van ons grense kruip dié gevreesde kleinveepes stadig maar seker nader. Vir die landbougemeenskap kan veesiektes haas nie net meer deur elke individuele produsent bestuur word nie, omdat die hele land se veekudde in gedrang kom as siektes soos bek-en-klouseer onder die veestapel invaar. Dink maar net aan die vernietigende uitwerking wat voëlgriep alreeds op die volstruisbedryf gehad het.

image

Staatsveeartsenykundige dienste

Een van die groot probleme is dat die staatsveeartsenykundige-dienste ernstig onder finansiële en mannekragtekorte gebuk gaan. Waar daar in die “goeie ou dae” oorgenoeg staatsveeartse was wat die landelike gebiede bedien het, is daar deesdae ‘n tekort van etlike honderde van hierdie essensiële manne en vroue wat na die gesondheid van die veestapel moet omsien. Private veeartse is ook maar dun gesaai en dus is elke produsent eintlik maar op homself aangewese.

Gelukkig is Suid-Afrika geseën met ‘n stewige dieregesondheidsbedryf wat veemedisyne, soos entstowwe, antibiotika, anti-inflammatoriese middels, endo- en ektoparasietmiddels en dergelike middels op groot skaal vervaardig en versprei deur ‘n verskeidenheid kanale waar die produsent dit geredelik kan bekom.

Geregistreer

Die Suid-Afrikaanse Dieregesondheidsvereniging (SAAHA) se lede bestaan uit ‘n samestelling van eg Suid-Afrikaanse maatskappye, multinasionale maatskappye en semi-staatsinstellings wat veemedisyne en verwante middels volgens internasionale standaarde vervaardig. Daar is geen twyfel dat die bedryf se middels enige dag met oorsese standaarde kan kompeteer nie.

Alle dieremedisyne en veeartsenykundige farmaseutiese middels moet geregistreer wees alvorens dit in die algemene handel versprei en verkoop mag word. Die middels en medisynes word of onder die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947) of die Wet op Medisyne en Verwante Middels, 1965 (Wet Nr. 101 van 1965) geregistreer.

Die antibiotika, parasietmiddels en entstowwe is meestal onder Wet 36 geregistreer, terwyl pynmiddels en narkotika onder Wet 101 geregistreer is. Daar is wel uitsonderings wat onder Wet 101 geldig is: Die sogenaamde outogene entstowwe word onder die wet toegelaat – dit is waar daar nie ‘n entstof vir ‘n bepaalde siekte bestaan nie en die veearts dan die reg gegun word om van die besmette diere te gebruik om ‘n entstof te vervaardig en op daardie bepaalde plaas vir die bepaalde dier of kudde te gebruik ten einde die siekte te bestry.

Sulke outogene entstowwe mag egter geensins kommersieel of op enige ander plaas aangewend word alvorens dit geregistreer is nie. Ongelukkig is daar enkele individue wat outogene entstowwe vervaardig en versprei – dit is net ‘n kwessie van tyd voor daardie bom gaan bars en ‘n geweldige negatiewe impak op Suid-Afrika se status as uitvoerder van diereprodukte gaan hê.

Dit is vir die produsent uiters belangrik om nie om die bos gelei te word oor enige entstowwe nie. As daardie houertjie nie ‘n volledige etiket dra waarop die registrasienommer ingevolge Wet 36 aangedui is nie, moet die plaashek onmiddellik gesluit word en die persoon wat die middel aanbied, moet die plaas belet word. Wie op aarde sal in elk geval ‘n ongeregistreerde middel, wat geen rekord van effektiwiteit het nie, net op sy kudde loslaat?

Onthou, entstowwe ontlok ‘n biologiese reaksie by die dier en as daardie entstof een of ander vreemde mikro-organisme bevat is dit miskien die einde van die hele kudde.

Mites oor entstowwe

Wat entstowwe betref, is daar ‘n klomp mites wat die ronde doen, en dikwels tot onbevredigende resultate lei. Entstowwe as sodanig is voorkomend van aard en moet daarom as deel van ‘n streng siektebestuursprogram aangewend word. Geen entstof kan gewaarborgde resultate lewer nie: Dit is bloot ‘n metode om die breë bevolking binne die kudde teen die bepaalde mikro-organisme te ent sodat die diere hulle eie verdediging daarteen kan opbou.

Binne enige bevolking is daar ‘n spektrum van individue waarvan sommige baie vatbaar sal wees vir die effekte van ‘n bepaalde mikro-organisme en ander weer uiters weerstandig teen die organisme sal wees. Dus beteken dit dat die entstof die meeste diere in die kudde sal beskerm, maar dat enkele individue geneties net nie oor die vermoë sal beskik om daardie organisme te beveg nie.

Dink maar aan hartwater as ‘n voorbeeld: Sommige beeste kan die pak van hartwater vat, terwyl ander bloot neerslaan en vrek. As ‘n kudde dus geënt word, selfs presies volgens voorskrif, sal daar altyd individue wees wat nie nodige positiewe reaksie daarop gaan toon nie.

Aanwending

Dit bring ons by die entstowwe se aanwending: Vanaf die vervaardiging wat uit ‘n SAAHA-oogpunt heeltemal bo verdenking moet wees, tot die veilige berging daarvan, die vervoer daarvan en die uiteindelike toediening daarvan. As die sogenaamde koue ketting tydens vervoer of berging gebreek word, is dit amper soos ‘n waarborg vir oneffektiwiteit. Almal weet tog dat sekere entstowwe koud gehou moet word en as dit effens warm raak, is dit daarmee heen.

Entstowwe het ook net ‘n bepaalde rakleeftyd voordat dit ontbind. Dit gaan hier nie oor die effektiwiteit wat afneem nie, maar oor die moontlikheid dat die entstof, wat self biologies van aard is, moontlik endogene toksiene kan vrystel as dit ontbind en diere ernstig daarmee vergiftig of selfs dood. Moet dus nooit ‘n entstof ná die vervaldatum gebruik nie, al sê een of ander slimjan dat als nog in orde is. ‘n Bees kos baie meer as ‘n botteltjie entstof.

‘n Verdere uiters belangrik aspek van entstowwe is dat die steriliteit van toediening noodsaaklik is. Steriliseer hande en toerusting, soos spuite en naalde alvorens die inenting aangepak word. Vuil toerusting is ‘n waarborg vir ‘n fiasko.

Inentingsproses

Wanneer dit by die fisiese inentingsproses kom, moet die produsent doodseker maak hy of sy het die etiket se aanwysings gelees, verstaan en weet presies hoe om die entstof toe te dien. Indien daar enige onsekerheid oor toedieningsprotokol is, skakel die registrasiehouer wat dan graag die produsent sal inlig oor die korrekte gebruik van die entstof. Maak ook seker of die bepaalde entstof wel in daardie geografiese gebied sal werk, want dit is dalk so dat sommige stamme van die mikro-organisme nie in alle geografiese gebiede beheer kan word nie.

Dit kan gebeur dat sekere organismes muteer en dat bepaalde entstowwe nie heeltemal na wense werk nie. Indien die produsent doodseker is dat die koue ketting streng gehandhaaf is, die diere korrel-ingeënt is en alles volgens aanwysing gedoen is, moet die produsent die saak by die registrasiehouer aanmeld. Dit is nie alleen in belang van die produsent nie, maar ook in belang van die registrasiehouer om voor te bly met die ontwikkeling van entstowwe teen weerstandbiedende stamme van ‘n mikro-organisme.

Opvolgwerk

Om die opvolgwerk te doen as diere ingeënt word, is ook van uiterste belang. Die produsent se dagboek, veral die een op die selfoon wat ‘n boodskap stuur as daar iets belangriks aandag moet geniet, is dus van onontbeerlik ten einde die opvolgaksies streng na te kom.

‘n Groot vraag wat dikwels rondgaan is: Hoe gemaak met vee wat ingekoop word? Is die produsent verseker dat sulke diere wel korrel-ingeënt is? Indien jy enigsins onseker is, dring daarop aan dat die verkoper van sulke diere ‘n sertifikaat van ‘n veearts verskaf wat aandui dat die diere wel ingeënt is.

Die goeie nuus is dat SAAHA-lede gedurig nuwe entstowwe ontwikkel om aan die behoefte van die Suid-Afrikaanse vee- en pluimveebedryf te voldoen. Daar is dus geen kans dat produsente op ‘n dag sonder geskikte entstowwe sal wees nie. In dieselfde asem moet produsente uiters bedag wees op entstowwe wat aangebied word deur individue, en selfs enkele veeartse, wat nie geregistreer is nie. Dis so goed soos om suikerwater in jou trekker se dieseltenk te gooi.

Navrae kan aan die SAAHA gerig word by 011 805 2000 of kontak die outeur by nesher@tiscali.co.za of 082 446 8946.

Publication: March 2014

Section: Other Articles

Search