• Login
  • Search Icon

Is my beesproduksiestelsel reg vir my boerdery?

March 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

Lae winste gerealiseer in die gewasproduksievertakking verg dat ‘n produsent se boerderyvertakkings op ‘n ander manier benader moet word. Die veebedryf spring nie hierdie tendens vry nie. ‘n Groot aantal produsente wonder of ander veeproduksiestelsels nie dalk beter vaar nie. Hulle vra hulself af wat gedoen kan word om meer wins met beeste te maak en of ‘n osstelsel nie dalk ‘n beter opsie is nie. 

Om stelsels met mekaar te vergelyk, is gewoonlik nie so eenvoudig nie en onvolledige inligting kan waarskynlik tot verkeerde antwoorde lei. Dit is belangrik dat alle inligting beskikbaar moet wees en dat die inligting reg vertolk word. 

Ongeag van watter stelsel jy bedryf, moet die basiese aspekte van veeboerdery in plek wees. Dit sluit in:

  • Voortdurende, voldoende ruvoer – met ander woorde genoeg kos regdeur die jaar.
  • Die regte byvoeding om die diere se behoeftes en dié van die voer te balanseer.
  • Om in siklus met die hulpbronne te produseer.
  • Voldoende skoon water.
  • Tydige en voorkomende siekte- en parasietbeheer.

Beesproduksiestelsels
Die beesstelsels wat met mekaar vergelyk kan word, is die:

  • Tipiese speenkalfstelsel 
  • 18 maande-bemarkingstelsel
  • 36 maande-osstelsel
  • Speenkalfstelsel, waar die tipiese April-speenkalwers oorwinter word en kort na die winter verkoop word om vir die Kersmark afgerond te word. 

Elke stelsel is uniek en het ander reëls, uiteenlopende kuddesamestellings en bemarkingstye, asook risiko’s.

Droogte
Droogtes vorm deel van landbou in Suid-Afrika. Elke stelsel hanteer dieselfde klimaatrisiko’s verskillend en die effek van droogte sal die stelsels uiteenlopend beïnvloed. In ‘n droogtejaar sal ‘n gedeelte van die koeie tipies in ‘n speenkalfstelsel verkoop word, terwyl ‘n gedeelte van die kalwers ook in die ander stelsels verkoop sal word.

Die diere wat verkoop moet word, se pryse en gewildheid in die mark sal verskil. Koeie in ‘n speenkalfstelsel word gewoonlik moeiliker en teen ‘n laer prys verkoop. 

Volgens die ander stelsels kan die kalwers redelik maklik van die veld verwyder en gevoer word of aan voerkrale verkoop word. 

As die droogte verby is, tref die volgende terugslag gewoonlik die speenkalfstelsel. Ten einde die plaas weer op volle produksie te kry, sal koeie aangekoop moet word of verse moet teruggehou word.
 
Dit is weer eens ‘n onbeplande uitgawe en boonop sal die diere teen hoër pryse gekoop word as waarteen dit verkoop is. 

Die effektiwiteit van stelsels verskil ook dramaties. In die speenkalfstelsel is die koeie die enigste fabriek wat die kalwers (en die inkomste) produseer. As die koeie oor welke rede ook al ‘n lae kalfpersentasie het, sal die winsgewendheid beduidend beïnvloed word. ‘n Hoë kalf- en speenpersentasie is ononderhandelbaar. Dit bly ‘n uitdaging, maar dit is moontlik om oor tyd ‘n kalfpersentasie van bo die 90% te handhaaf. 

Ander stelsels se fabriek is nie net die koeie nie aangesien kalwers wat reeds geproduseer is, ook ‘n inkomste verskaf. Hierdie kalwers moet net groei, maar mortaliteit moet tot die minimum beperk word. Gewoonlik is hierdie kalwers op die plaas gebore en behoort hul mortaliteit oor die algemeen laag te wees. Die produksierisiko’s in hierdie stelsels is gewoonlik betreklik laer as dié van ‘n speenkalfstelsel. 

Hierdie aspek het ‘n beduidende effek op die winsgewendheid van die stelsel. Die kalwers in die speenkalfstelsel moet binne ‘n sekere tyd verkoop word om te verhoed dat die kos van die produserende koeie opgevreet word deur pryspenalisasie. 

Die ander stelsels het tot ‘n mate meer vryheid wat bemarking betref, maar die diere moet ook binne ‘n sekere tyd verkoop word om ‘n voervloeiprobleem te voorkom. 

Alhoewel die stelsels verskil, bly die kritiese suksesfaktore van die stelsels dieselfde. Koeie moet produseer en die kalf-, speen­persentasie en speengewigte moet fyn bestuur word. Die veegetalle moet ten alle tye binne die drakrag van die weiding bly. As daar ‘n tekort aan voer is, gaan dit die produksie benadeel. 

Lekke
Lekke wat verskaf word, moet by die behoefte van die diere en die voedingswaarde van die veld aangepas word. Beskou lekke nie as ‘n voerbron nie, maar as byvoeding. Die lekke se inname moet volgens verwagting wees om te verseker dat die diere die nodige elemente inneem. Tog moet die lekke die winsgewendheid van die stelsel verhoog, anders maak dit nie sin om dit te gebruik nie. 

Kuddegesondheid
Die diere se gesondheid moet altyd uitstekend wees en beide inwendige en uitwendige parasiete moet tydig en verkieslik voorkomend beheer word. Die neem van gereelde mismonsters kan ‘n bydrae lewer om die dosering en die effektiwiteit daarvan te bepaal. 

Kuddesamestelling
Die onderskeie veestelsels se kuddesamestelling verskil dramaties. Vir ‘n plaas wat ongeveer 100 grootvee-eenhede (GVE) kan dra, kan ‘n speenkalfstelsel ongeveer 60 koeie akkommodeer, terwyl ‘n 18 maande-bemarkingstelsel ongeveer 44 koeie kan dra en ‘n 36 maande-bemarkingstelsel net uit 32 koeie sal kan bestaan. Die res van die drakrag sal deur vervangingsdiere, kalwers of groeiende diere opgeneem word. 

Bemarking
Beesproduksiestelsels het ook hul eie bemarkingstye en verskeie tipes diere sal dan bemark word. Die lentespeenkalfstelsel sal hoofsaaklik speenkalwers en ou bemarkbare diere tydens April lewer, terwyl die 18 maande-stelsel hoofsaaklik afgeronde 400 kg-beeste gedurende Maart tot Mei aan die mark kan lewer. 

In die 36 maande-bemarkingstelsel sal volgroeide afgeronde osse van Oktober tot Desember aan die mark gelewer word. Vir hierdie tye is daar verseker ander pryse wat geld en dit is belangrik om kennis te neem van die vraag en aanbod in die mark. 


In Grafiek 1 word die langtermyntendense van produsentebeesvleispryse van C-grade getoon, terwyl Grafiek 2 die langtermyntendense van produsentebeesvleispryse van A-grade uitbeeld.

Soos verwag word, is die veepryse gedurende Aprilmaand laag en in Desember hoog. Die hoofdrywer hiervan is die aanbod van en vraag na vleis. As die speenkalfprys ontleed word (Grafiek 3), is daar duidelike ooreenkomste tussen die algemene vleisprystendens en die prys van speenkalwers.

Soos in Grafiek 3 gesien kan word, is die algemene speenkalfpryse van Maart tot en met Junie laag, waarna die pryse weer ná Desember begin styg. Hierdie prystendense van veral die speenkalwers reflekteer die aanbod en dit raak die primêre produsent omdat hy gewoonlik binne hierdie tye sy speenkalwers moet bemark. 

Dit is egter nie net vraag en aanbod wat die pryse van vee bepaal nie, maar ook ander aspekte soos die algemene stand van die ekonomie, die mielieprys en die prys van hoendervleis – om maar net ‘n paar te noem. 

Dit word algemeen aanvaar dat speen­kalfstelsels die laagste winsge­wendheid moet lewer. “Die voerkrale be­ïnvloed altyd die pryse,” word gereeld gehoor. Deur die berekening 100% korrek te maak en alle inkomstes en uitgawes in te sluit, kan die regte antwoord egter verkry word. 

Die 18 maande-bemarkingstelsel, waarvolgens die diere as markklaar bemark word, wil voorkom om die beste stelsel te wees om te volg. 

Indien die 18 maande-bemarkingstelsel ingespan word, sal dit belangrik wees om seker te maak dat daar ‘n mark vir die afgeronde diere sal wees. Onthou net: Jy gaan met ander vleisprodusente, wat maandeliks vee aan verbruikers en slagters kan lewer, moet meeding. Dit sal ‘n goeie praktyk wees om vooraf met ‘n vleiskoper ooreen te kom om jou markklaar-diere te koop.


Wat die produksie in die stelsel betref, sal die vee waarmee geboer word die vermoë moet hê om afgeronde diere te produseer voor die diere begin wissel. Indien die diere reeds wissel en dan eers afgerond word, sal dit die prys van die vleis benadeel – en só ook die winsgewendheid van die stelsel. 

Sodra die speenkalwers ná die winter verkoop word, is dit belangrik om seker te maak dat die verwagte prysverhoging en massatoename die ekstra voerrekening sal kan diens. Maak daarvan seker voor jy die besluit neem om die speenkalwers terug te hou vir bemarking op ‘n latere stadium.

As alles in ag geneem word, sal die stelsel nie regtig die winsgewendheid van die veeboerdery beïnvloed nie, maar eerder die effektiwiteit en produksie van die huidige stelsel waarin jy jouself bevind. Deur die effektiwiteit en produksie van jou huidige stelsel te verhoog en dalk klein bemarkingsaanpassings te maak, kan die winsgewendheid dramaties verhoog word. 

Die vervangingsbeleid van die koeie is ook ‘n aspek wat meer aandag vereis. As koeie te vinnig vervang word, moet daar meer vervangingsdiere gedra word – wat die plek van diere wat moet produseer, opneem. As die koeie egter te lank in die kudde gehou word, sal dit verseker die produktiwiteit van die kudde benadeel. 

Ras speel ook ‘n rol. Sommige rasse se koeie bly langer produktief, terwyl ander rasse se koeie vinniger vervang moet word. Maak seker jy weet wat jou kudde se koeidoeltreffendheid is en gebruik dít as norm om te bepaal wanneer koeie vervang moet word. Dit het ‘n reuse impak op winsgewendheid. 

Vir meer inligting rakende beesproduksiestelsels kontak Pietman Botha by 082 759 2991.

 

Publication: March 2018

Section: On farm level

Search