• Login
  • Search Icon

Is huidige sorghumkultivars vatbaarder vir siektes as in die verlede?

September 2014

NEAL MCLAREN, Universiteit van die Vrystaat

image

Sorghum word deur heelwat patogene aangeval met gevolglike opbrengsverliese. Van die belangrikste siektes sluit saailingverwelk en wortelvrotte (Foto 1a en 1b), stamvrotte (Foto 2a en 2b) en graanskimmels (Foto 3) in, terwyl blaarsiektes, soos blaarskroei (Exserohilum turcicum), roetvlek (Ramulispora sorghi) en antraknose (Colletotrichum graminicola; Foto 4a en 4b tot Foto 6) sporadies voorkom.

image

imageErgot (Claviceps africana; Foto 7), wat in die verlede tot reuse-opbrengsverliese gelei het, word egter tans met behulp van weerstandbiedende kultivars baie effektief beheer.

Weerstandbiedende kultivars bly een van die meer ekonomiese maniere om siektes te beheer en daar word jaarliks proewe uitgevoer om nuwe kultivars te evalueer vir hulle siekteweerstand. Inligting rakende sorghumsiektes is beskikbaar by die Universiteit van die Vrystaat, die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) sowel as by die onderskeie saadverskaffers.

Die afgelope paar seisoene het die vraag ontstaan of sorghumkultivars wat tans bemark word, meer vatbaar is vir siektes as in die verlede. Die vraag word veral gevra in die lig van toenemende fungisied-aanbevelings aan produsente.
Grafiek 1
dui die gemiddelde vatbaarheid van sorghumkultivars vir infeksie met E. turcicum (blaarskroei) tussen 1998 en 2011 aan.

Met evaluering word van ‘n visuele skaal (nul tot vyf) gebruik gemaak waar ‘n waarde van nul op geen infeksie dui en ‘n waarde van vyf op 80% - 100% blaarmateriaal wat aangetas is. Tussen 1998/1999 en 2004/2005 was daar ‘n toename in die waargenome siektegraad in die jaarlikse proefgemiddeld.


‘n Duidelike afname vanaf 2004/2005 kan waargeneem word en dié tendens geld ook vir ander siektes, soos antraknose en roetvlek. Dit dui aan dat telers aandag gee aan siektes in hulle teelprogramme en sodoende verseker dat nuwe kultivars redelike vlakke van weerstand toon teen hierdie siektes.

Daar moet ook in ag geneem word dat telers nie alle siektes kan aanspreek nie, veral siektes soos wortelvrotte, wat ondergronds voorkom en dus weerstandseleksie bemoeilik. Graanskimmel weerstandsteling is ook moeilik en die gemiddelde metings vir graanskimmels het konstant by 2,2 gebly, op ‘n skaal van nul tot vyf.

image

Daar is wel ‘n toename in siektevatbaarheid in van die hoër opbrengs kultivars en planttelers is bewus van die negatiewe verhouding – die sogenaamde genetiese ladingseffek en 'n balans tussen opbrengs en siekteweerstand moet gevind word.

Tans, as gevolg van die relatiewe hoë graanpryse en die verbeterde opbrengste, verkies heelwat produsente om hoër opbrengs kultivars te plant met die aanname dat fungisiedes gespuit kan word vir siektes, sou hulle voorkom.

Aangesien siektevoorkoms afhanklik is van omgewingsomstandighede en dus tot ‘n mate sporadies is, het dit gelei tot hoër inkomste in die lang termyn.

Die toenemende afhanklikheid van fungisiedes vir siektebeheer, is ook vir agente 'n geleentheid om hul produkte aggressief te bemark. Dit lei daartoe dat party produsente onnodig gifstowwe toedien.

‘n Persepsie is geskep dat die voorkomende toediening van fungisiedes (ses tot agt weke na-plant) plantgroei kan stimuleer tot so ‘n mate dat die verhoogde opbrengs die koste van toediening sal regverdig, selfs in die afwesigheid van siektes.

Hierdie aanname is dat voorkomende bespuiting die fisiologiese aktiwiteit van plante bevorder en sodoende strestoleransie en staanvermoë verbeter.

Strobulerien fungisiedes is in dié verband aanbeveel aangesien hierdie chemiese groep die plante langer groen hou en sodoende ‘n verlengde groeiperiode verseker. Soos met alle aannames is daar wel ‘n bietjie waarheid in, maar die hele prentjie word nie weergegee nie.

Dat die toediening van fungisiedes wel tot groeistimulasie lei, is bevestig deur ‘n reeks proewe met fungisiedes op sorghum in Texas en Nebraska, wat aangedui het dat van die behandelings wel volwassenheid vertraag en blare vir langer groen laat bly het.

Alhoewel plante beter vertoon het, is hoër opbrengste nie verkry nie. Aanvangsproewe verlede seisoen op Cedara, ‘n hoëpotensiaalproduksiearea, het getoon dat triasool fungisiedes opbrengste met tussen 0,5% en 8% kan verhoog in die afwesigheid van hoë siektevlakke, maar kultivars het verskil ten opsigte van groeistimulasie en van die kultivars het geen groeistimulasie getoon nie.

‘n Soortgelyke proef in Limpopo, met slegs twee kultivars, het geen noemenswaardige reaksies getoon nie en getoon dat weersomstandighede en die potensiaal van die produksiegebied ‘n rol speel. Proewe wat gedoen is deur die Universiteit van die Vrystaat, in samewerking met die LNR-IGG, is die afgelope seisoen op Greytown, Potchefstroom en Standerton herhaal om die effek op blaarskroeibeheer en die herhaalbaarheid van die groeistimulasie-effek van fungisiedes te evalueer.

Op al die lokaliteite was blaarskroei óf afwesig óf slegs op baie lae siektevlakke teenwoordig. Alhoewel tendense waargeneem is, is geen statistiese betekenisvolle opbrengstoename as gevolg van fungisiedes by enige van die drie lokaliteite aangeteken nie.

Plante het wel vir langer groen vertoon, maar die verlengde groei is nie omskep in verhoogde graanopbrengs nie. Sorghumstudies in die VSA betwyfel die ekonomiese waarde van die praktyk van voorkomende fungisiedtoedienings en dié gevolgtrekking word hier bevestig.

Indien produsente wel met die praktyk wil voortgaan, word daar aanbeveel dat sekere rye nie gespuit word nie en dat behandelings ekonomies vergelyk word.

Die vraag ontstaan dus wanneer om te spuit al dan nie. Dit kan ‘n redelike moeilike besluit wees, veral aangesien meer as een toediening nie noodwendig ekonomies is nie. Die tyd van toediening is kritiek. Die beste tyd om hierdie besluit te neem, is tydens of net ná blom.

Blaarsiektes kan op enige groeistadium voorkom en hoe groter die afname in gesonde blaararea, hoe groter is die opbrengsverliese. Ernstige siekteontwikkeling kom meestal tydens, of vroeg ná blom voor.

Alle plante het ‘n mate van toleransie vir blaarsiektes en ten spyte van kultivarverskille, kan 20% blaarskade as die norm aanvaar word. Dit geld wanneer letsels beperk is tot die onderste, ouer drie of vier blare, siende dat hierdie blare op blomstadium nie veel bydra tot die opbrengs nie.

Indien meer as 20% letsels bereik word en dit begin versprei na hoër blare tydens vogtige weer, moet fungisiedtoedienings oorweeg word. Onder besproeiing kan die drumpel effens laer wees. Hierdie aanbeveling is ook een wat meer navorsing regverdig.

Dit is noodsaaklik dat produsente op ‘n gereelde basis plante inspekteer vir siekte-ontwikkeling, spesifiek ná blom. Siekte-ontwikkeling oor tyd moet gemonitor word om die tempo te bepaal en dus vas te stel wanneer die kritieke vlak van blaarskade bereik word, voor fungisied toegedien word. Maak gerus ook gebruik van kundiges om verliesrisikobepalings te doen voor daar onnodig gespuit word.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search