• Login
  • Search Icon

Is daar triasienoordragprobleme in die Swartland?

March 2014

CHRIS CUMMING, PNS konsultant

Een van kanola se talle voordele as wisselbougewas is dat, soos bewys in die Departement van Landbou Bosbou en Visserye in die Wes-Kaap se langtermynwisselbouproewe, die daaropvolgende koringoes (en soms nog die een daarna ook) ‘n merkbare verhoging in opbrengs toon in vergelyking met koring wat in monokultuur verbou word.

Volgens sommige produsente word hierdie voordeel egter nie altyd verkry nie. Moontlike redes vir hierdie toedrag van sake kan soos volg wees:

Talle produsente in veral die Swartland worstel nog om raaigrasprobleme te bowe te kom en plant kanola om die gebruik van alternatiewe onkruiddoders in hul wisselboustelsels moontlik te maak. Meeste van hierdie produsente het raaigras wat weerstandbiedend is teen die chemiese onkruiddodergroepe wat in koring toegedien kan word vir die beheer van eenjarige grasse, met ander woorde die fops en dims (Groep A) en die sulfonielureums of te wel die SU’s (Groep B).

Dit bring mee dat die selektiewe eenjarige grasdoders wat in kanola benut kon word (almal Groep A), swak of geen beheer van raaigras tot gevolg het nie. So ook is Cysure (Groep B), wat op die Clearfield kultivars gebruik kan word, grotendeels nutteloos in hierdie situasie.

Een van die oorblywende opsies wat wel tot hierdie produsente se beskikking is, is om triasientolerante (TT) kultivars te plant en ‘n triasienonkruiddoder toe te dien. Omdat triasienonkruiddoders vir die suksesvolle beheer van onkruide redelik afhanklik is van toestande wat die oplossing en opname daarvan bevorder (klam grond en verkieslik reën kort ná toediening) is produsente geneig om hoër as die geregistreerde dosis van die triasienonkruiddoder toe te dien in ‘n poging om die beheer van raaigras te verbeter.

Dit is dus nie ongewoon om te hoor dat produsente 2 kg a.b. triasien per hektaar toedien, hetsy as ‘n enkeltoediening of as verdeelde toedienings, terwyl die geregistreerde dosis nie meer as 1 kg a.b. triasien per hektaar is nie.

Met die toepassing van bewaringsboerdery wat grondversteuring tot ‘n minimum beperk, word die triasienonkruiddoder op die grondoppervlakte gekonsentreer en word die probleem van triasienresidu-oordrag na gevoelige opvolggewasse vererger.

In droë jare waar minder triasien in die grondprofiel ingeloog word, kan verwag word dat skade aan die opvolggewasse kan voorkom. Koring, wat gevoelig is vir triasienonkruiddoders, se groei word aanvanklik onderdruk in die jaar ná hierdie hoë dosisse en behaal dus nie sy volle opbrengspotensiaal nie.

Wat is die oplossing?

Om triasienoordragprobleme die hok te slaan, is die begin om eerstens die geregistreerde dosis van die triasien, soos op die etiket voorgeskryf, op die regte groeistadium van die raaigras, toe te dien. Indien voldoende beheer nie verkry word nie, is die kanse baie goed dat ‘n hoër dosis nie beter resultate sal lewer nie.

Onkruiddoders wat te laat toegedien word (onkruide is te groot) is in die praktyk ‘n veel groter oorsaak vir swak beheer as wat die grootte van die dosis ooit sal wees. Indien moontlik, moet die triasienonkruiddoder kort voor ‘n reënbui toegedien word, sodat dit in die grond kan inloog.

Wortelopname verhoog die kanse van beter beheer van veral raaigras aangesien die jong saailing oor weinig blaaroppervlakte beskik vir blaaropname.

Indien ‘n swaar raaigrasdruk verwag word op landerye wat bestem is vir kanola (wat in baie gevalle so sal wees) kan trifluralien met planttyd toegedien word en indien nodig met triasien opgevolg word; sodoende is daar ‘n beter kans om die raaigras volkome te beheer.

Nog ‘n voordeel van trifluralien in kanola is dat dit, waar prakties moontlik, breedwerpig gespuit en met behulp van ‘n vlak skottel- of roltandegbewerking met die grond vermeng kan word om sodoende beter resultate te verkry.

Die kanola kan daarna geplant word. Sodoende word die uitstekende grasdodende eienskappe van trifluralien ten beste benut. Omdat trifluralien geen nadelige effek op kanola het nie, kan kanola breedwerpig uitgestrooi word ná die trifluralienbespuiting en daarmee saam ingewerk word.

Bespuiting met trifluralien en die breedwerpige uitstrooi van kanola, kan selfs in een aksie plaasvind mits dit nie dieper as 25 mm met die grond vermeng word nie. Indien daar oesreste van die voorafgaande gewas op die grondoppervlakte is, sal die rol van die grond ná saai aanbeveel word.

Ten einde te voldoen aan die vereistes van die kanolapaspoort, word aanbeveel dat slegs geregistreerde triasienbevattende produkte op kanola gebruik word. Daardeur word die landbouchemiese maatskappye wat wel die moeite en koste aangegaan het om die produk op kanola te registreer, ook ondersteun. Verder dien dit as motivering vir maatskappye om ander produkte op kanola ook te registreer.

Publication: March 2014

Section: Input Overview

Search