• Login
  • Search Icon

Is blaarmyner 'n gevaar vir koring en gars onder besproeiing?

July 2014

GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Hou blaarmyner ‘n gevaar in vir koring en gars onder besproeiing? Wel, as ‘n mens in ‘n land instap waar blaarmyners opsigtelik teenwoordig is (Foto 1), sal jou antwoord op hierdie vraag onmiddellik “Ja” wees. Maar is dit werklik so?

Blaarmyner is sedert 2000 teenwoordig op koring in die Noord-Kaap. Sedert 2006 kom dit ook op gars in dié gebied voor. Dit het aanvanklik tussen Prieska en Douglas posgevat en het sedertdien versprei na meeste lande al langs die rivier op tot by Bloemhof. Sporadiese voorkoms is ook tydens die afgelope twee jaar by Frankfort in die Vrystaat aangeteken onder uiterste nat toestande. Die jongste berigte is dat blaarmyner in die Brits-omgewing sy opwagting gemaak het.

Meeste produsente is goed bekend met hierdie insek. Die volwassene is ‘n swart vliegie (Foto 2) van ongeveer 2 mm groot. Die wyfie druk met behulp van haar lêboor, gaatjies in die blare waarin sy soms eiers lê, terwyl sommige net vir voeding gebruik word. Larwes tonnel binne in die blaar, vanaf die gaatjies en vernietig die bladgroen sover hulle gaan (Foto 3). Die larwe verlaat ná ‘n sekere tydperk die blaar en vorm ‘n papie in die grond.

image

Hoeveel skade word deur hierdie larwe veroorsaak?

In die eerste plek moet ons kyk na die tipe skade wat veroorsaak word. Die bladgroen word heeltemal vernietig waar die larwe myn en die blaar is dus in daardie gebied dood. Insekdoders wat die larwes doodmaak, voorkom dus verdere blaaroppervlakteverlies, maar kan nie die skade wat aangerig is, ophef nie.

Die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) het proewe gedoen om te kyk na die hoeveelheid skade wat veroorsaak word. Tydens hierdie proewe is sekere persele bespuit en ander nie. Metings van die hoeveelheid blaaroppervlakte wat vernietig word, is op verskillende tye gedoen en die oesopbrengs is aan die einde bepaal.

Gedurende 2011 het daar in die Douglas-area groot besmetting op ‘n vroeë stadium plaasgevind. Tydens GS 13 was daar reeds 30% van die garshalms in die proef besmet, terwyl 96,7% van die koringhalms teen GS 15 (vlagblaar) gemynde blare bevat het. Dit is met eerste oogopslag baie erg, maar ons het besluit om die besmetting verder te ontleed om vas te stel watter hoeveelheid blaaroppervlakte beskadig is.

Skade op gars

Op die garshalms het die aantal blare per halm wat beskadig is gestyg tot 92% teen die einde van die seisoen, terwyl die persentasie blaaroppervlakte per blaar tot by 64% gestyg het (Tabel 1). Ook is gevind dat die onderste blare altyd eerste gemyn word en dat die boonste blare aangeval word namate die halm groei. Hou ook in gedagte dat die onderste blare eerste afgespeen word soos wat die plant groei.

image

Om ‘n idee kry wat in totaliteit met ‘n halm gebeur, is die gemiddelde persentasie blaaroppervlakte wat per halm beskadig is uit hierdie resultate bereken en toe is daar gevind dat teen GS 22, 59% van die blaaroppervlakte per halm beskadig was (Grafiek 1). Op hierdie stadium is besmetting ook op die vlagblaar en blaar onder die vlagblaar teenwoordig.

image

Skade op koring

Hoewel alle halms in die koringproef aan die einde van die seisoen beskadigde blare gehad het en ongeveer 90% van die blare per halm beskadig was, is gemiddeld slegs 45% van die blaaroppervlakte per blaar beskadig (Tabel 2). Die berekende skade aan die blaaroppervlakte per blaar was egter ongeveer 39% aan die einde van die seisoen (Grafiek 2). Dus is daar nog ongeveer 60% groen blaaroppervlakte per halm beskikbaar wat kan fotosinteer.

image

image

Oesopbrengs

Die bogenoemde data verteenwoordig die onbespuite kontrole.

In vergelyking met die bespuitingsbehandelings, was daar betekenisvolle afnames in die hoeveelheid blaaroppervlakte per halm gewees, maar toe die oesopbrengs bepaal is, was daar geen verskil in die oesopbrengs tussen behandelde en onbehandelde persele nie. Hierdie resultate stem ooreen met proewe in 2010 en 2012.

image

Hoekom?

Die groot vraag wat dus die meeste frustrasie veroorsaak, is hoekom daar nie betekenisvolle oesopbrengsverskille tussen die behandelde en onbehandelde persele is nie, ten spyte daarvan dat so ‘n groot hoeveelheid halms besmet was?

Om skade te simuleer, is daar in die glashuis proewe gedoen, waar daar tydens blomstadium twee behandelings toegepas is, naamlik die knip van die vlagblaar en dan die knip van die vlagblaar en die tweede blaar. Opbrengs is per halm bepaal en daar is in drie proewe met verskillende koringkultivars vasgestel dat 16,4% en 33,9% oesverlies kan plaasvind indien ons hierdie blare tydens blomstadium sou verloor.

Twee proewe met gars toon onderskeidelik ‘n 7,7% en 12% verlies wanneer die vlagblaar en dan die vlagblaar en die tweede blaar geknip word. Groot blaarskedes is by gars teenwoordig, wat ‘n omvangryke bydrae in fotosintese kan lewer. Dus kan die teenwoordigheid van blaarmyner op die boonste blare aan die einde van die seisoen tog betekenisvolle oesverliese by veral koring veroorsaak. Hoekom kan dit dan nie in die veld gemeet word nie?

As ons hierdie oesopbrengsverliese in die veld wil realiseer, beteken dit dat ons letterlik elke halm in ‘n gegewe koringland se boonste twee blare moet verloor. Hoewel ons tot 100% besmette halms kan realiseer, is die persentasie blaaroppervlakte wat beskadig word nie naastenby so groot op die boonste twee blare nie. Die neiging is ook om eerste die onderste blare te myn. Onmiddellik is die gevolgtrekking dat die skade wat veroorsaak kan word, dan heelwat minder moet wees.

Hierdie glashuisdata is toe gebruik om geraamde berekenings te maak sou ons die boonste twee blare totaal kan verloor op sekere persentasies van halms (Grafiek 4). Die geraamde waardes wys dat, sou hierdie hoeveelheid skade op 10% van die halms plaasvind, die skade laer as 5% gaan wees, terwyl 10% oesverlies op 30% van die halms kan plaasvind.

image

Indien ons na die skade in die veld terugkyk, sien ons dat die halms aan die einde van die seisoen slegs ongeveer 40% van hulle blaaroppervlakte verloor het (Grafiek 2). Daarom is daar besluit om die persentasie blaaroppervlakte ook in berekening te bring (Tabel 3).

image

Uit hierdie tabel is dit duidelik dat wanneer 50% van die halms per land 50% van hulle blaaroppervlakte op elk van die boonste twee blare verloor het, die oesverlies ‘n geraamde 8,48% kan wees.

Is blaarmyner gevolglik skadelik?

Visueel kan die beskadiging van die blare deur blaarmyners jou onmiddellik na ‘n plaagbeheerspuit wil laat gryp. Uit die bogenoemde data en beramings wil dit egter blyk om minder erg te wees as wat ons so met die blote oog kan waarneem. Daarom ook dat veldproewe nie werklike oesopbrengsverliese kan uitwys nie. ‘n Paar punte wat in die beheer van blaarmyner hier na vore kom is:

Moenie vaskyk in ‘n besmette kol in die land nie, maar kry ‘n totale prentjie van wat in die land aan die gebeur is. ‘n Kol is miskien 100% besmet en al die blare kan dood wees, maar hierdie kol maak dalk net 10% van jou land se oppervlakte uit. Volgens Tabel 3 kan dit dus ‘n 3,4% oesverlies teweegbring. Nou moet die produsent self gaan besluit of dit die moeite werd gaan wees om koste aan te gaan om ‘n hele land te bespuit om slegs 3,4% oesverlies te voorkom.

  • As jy weet blaarmyner is in jou omgewing, deursoek jou lande, veral rondom vlagblaarstadium en onthou die onderste blare word eerste gemyn.
  • Onthou ‘n bespuiting kan nie skade ophef nie.
  • Deursoek die hele land, nie net ‘n klein kolletjie nie – dit kan die moeite werd wees.
  • Maak seker dat jou insekdoder effektief toegedien word.

Vir verdere besonderhede, kontak dr Goddy Prinsloo by 082 875 3401 of prinsloogj@arc.agric.za.

Publication: July 2014

Section: On farm level

Search