• Login
  • Search Icon

Interaksie tussen Russiese koringluis en koring onder droogtetoestande

September 2016

ASTRID JANKIELSOHN, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Opbrengs by gewasse word beïnvloed deur omgewingsfaktore soos onder andere lae grondvog, hoë temperature en insekte. Elk van hierdie eksterne faktore kan die plant negatief affekteer.

Waterstres is ‘n omgewingsfaktor wat veroorsaak word deur watertekort in gewasse. Dit verwys na die toestand waar ‘n plant se waterpotensiaal en turgor (druk binne selle) soveel verlaag word dat dit met die normale funksionering van die plant inmeng. Waterstres beïnvloed elke aspek van die plant se groei, insluitend anatomie, morfologie, fisiologie en biochemie.

Plante pas by waterstres aan deur fisiese veranderinge te ondergaan. Onder hierdie toestande verlaag die meeste plante se osmotiese potensiaal. Hierdie proses word osmotiese aanpassing genoem en stel die plant in staat om aan te hou om water uit die grond op te neem totdat die waterpotensiaalgradiënt tussen die weefsel en waterbron die punt bereik waar dit nie meer voldoende is om die groot hoeveelhede water, wat nodig is vir groei, op te neem nie.

Waterstres kan moontlik ook bydra tot groter uitbreek van plaaginsekte – nog ‘n bydraende faktor wat opbrengsverlies kan veroorsaak. Russiese koringluis en waterstres is twee hoofomgewingsfaktore wat opbrengsverlies in koring kan veroorsaak. Wanneer hierdie twee faktore in kombinasie voorkom, kan dit ‘n merkbare invloed op die opbrengs hê. Gereelde en relatiewe swaar reënval gedurende die groeiseisoen kan luispopulasies onderdruk, maar in droë toestande kan Russiese koringluis merkbare skade veroorsaak.

Dit gebeur hoofsaaklik om die volgende redes:

Die voedingstowwe in die plant is meer gekonsentreerd of beter gebalanseerd onder droogtetoestande

Insekte is in staat om verandering in die plant se chemiese samestelling, as gevolg van waterstres, te bepaal met behulp van chemiese reseptors. Die konsentrasie van verskeie aminosure wat deur waterstres in die plant veroorsaak word, is belangrik vir insekvoeding. Russiese koringluis is waterstres-verdraagsaam en kan voedingstowwe uit die plant onttrek – selfs met ‘n betekenisvolle verlaging van die waterpotensiaal in die blare.

Die plant word ‘n meer geskikte termiese omgewing vir die insek

Waterstres verander die plant en sy termiese omgewing en onder hierdie omstandighede is ‘n plant warmer as gevolg van ‘n afname in transpirasie. Insekte is beperk in terme van hul termoregulerende kapasiteit en die plant se temperatuur tydens waterstres kan die insekte in staat stel om meer effektief te groei en voort te plant. Onder hierdie omstandighede is die plant dus meer vatbaar en groter insekpopulasies word opgebou, wat dan lei tot verhoogde skade op die plant.

Verdedigingsmeganismes is laer

Waterstres kan genetiese verandering in insekte sowel as plante veroorsaak. Op die molekulêre vlak kan waterstres ‘n merkbare effek op die uitdrukking van die plant se weerstandsgene hê. Die geen/gene wat vir insekweerstand in die plant verantwoordelik is, kan geïnhibeer word deur waterstres en gevolglik het die plant nie meer weerstand teen ‘n insek nie. Die insekte kan ook ‘n verhoogde vermoë hê om met verhoogde temperature die weerstand in ‘n plant te oorkom. Dit kan dus gebeur dat koringkultivars wat weerstand teen Russiese koringluis besit, onder droogtetoestande nie noodwendig meer daardie weerstand besit nie.

image Droogtetoestande kan dus ‘n merkbare effek op koringopbrengs hê – nie net as gevolg van ‘n tekort aan water vir die plant nie, maar ook as gevolg van die sekondêre effek wat droogte op die Russiese koringluis se interaksie met die plant het. ‘n Mens moet daarvan bewus wees dat groter Russiese koringluispopulasies moontlik onder droogtetoestande kan voorkom en dat skade op koringplante groter kan wees.

Produsente met enige navrae of opmerkings, kan dr Astrid Jankielsohn by 058 307 3431 of jankielsohna@arc.agric.zakontak.  

Publication: September 2016

Section: Focus on

Search