• Login
  • Search Icon

Inspirasietoekenning
’n Beter Suid-Afrika is moontlik

November 2018

LOUISE KUNZ, SA Graan/Grain redaksiespan en HELENUS KRUGER (foto)

Graan SA het vanjaar as ’n organisasie besluit om die redakteur van die Landbouweekblad, mnr Chris Burgess, met die Inspirasietoekenning te vereer. Hy ontvang hierdie prestige-toekenning vir sy leiersrol in die organisering van die eerste grondberaad wat gedurende Augustus op Bela-Bela plaasgevind het. 

Volgens mnr Jannie de Villiers, HUB van Graan SA, het Burgess ongelooflike leierskap getoon om hierdie grondverskuiwende transformasie-inisiatief saam met ander rolspelers die lig te laat sien. “Dit is uit sy ondernemingsgees gebore en het die landbousektor verenig en produsente van alle agtergronde bymekaar gebring. Ons het na stories van produsente geluister en saam is van die grootste uitdagings in ons land aangespreek.” 

Vir Burgess is dit ’n besondere eer om die toekenning te ontvang. “Hierdie was in der waarheid ’n spanpoging en ek dra die toekenning aan my hele span op,” het hy gesê nadat hy die toekenning in ontvangs geneem het. Dit was vir hom inspirerend om te sien hoe mense bymekaar kom om uitdagings aan te spreek. Hy het Agri SA en ook ander rolspelers in die bedryf vir hulle bydrae en ondersteuning bedank. 

Burgess het bygevoeg dat hy nooit gedroom het dat dié inisiatief só suksesvol sou wees nie. “Ek is verstom oor die impak wat dit gehad het. Dit was verblydend om te sien hoe landbou kan saamstaan. Deur net met mekaar te praat, het oplossings vorendag gekom. Dit het bewys dat ons as ’n land dinge anders kán doen en vir ons nageslag beter kán maak.”

Hy glo die mense wat eintlik die toekenning moet ontvang, is diegene wat sonder huiwering ingestem het om as sprekers aan die beraad deel te neem. “Hierdie ongelooflike inspirerende individue het gedoen wat andere gesê het onmoontlik is. Hulle het ’n verskil in die land gemaak sonder om hul eie boerdery-ondernemings af te skeep.

Publication: November 2018

Section: Grain SA

Search