• Login
  • Search Icon

Insetoorsig

March 2014

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Die meerderheid van produksie-insette wat in Suid-Afrika gebruik word, word ingevoer – nagenoeg 80% van kunsmisbehoeftes;
99% van landbou-chemikalieë en alle groot landboumasjinerie-items. Selfs die plaaslike brandstofprys, wat ‘n gereguleerde prys is, word op invoerpariteitspryse bereken.

Dit bring mee dat hierdie pryse afgelei word van internasionale pryse en die waarde van die wisselkoers.

Die wisselkoers het van Januarie 2013 tot Januarie 2014 met 23% verswak en selfs verder verswak in Februarie 2014 (Grafiek 1). Dié verswakking in die waarde van die rand het kommoditeitspryse aan die verkoopskant baie positief beïnvloed, maar aan die aankoopkant het dit en gaan dit nog ‘n groot negatiewe effek hê.

image

In hierdie artikel word gekyk na dié effek wat die wisselkoers op plaaslike insetpryse gehad het.

Kunsmis

Omdat sowat 80% van plaaslike kuns misbehoeftes ingevoer word, kan ‘n mens verwag dat plaaslike kunsmispryse internasionale pryse nougeset sal navolg.

Dit is al getoets dat die korrelasie tussen internasionale en plaaslike kunsmispryse baie goed is.

Kunsmispryse het internasionaal op ‘n jaartydperk in dollarterme skerp gedaal. In Tabel 1 kan gesien word dat die internasionale pryse van ammoniak, ureum, DAP en kaliumchloried met onderskeidelik 35%, 13%, 11% en 25% gedaal het. Om die impak van die wisselkoers op hierdie pryse te sien, is dié pryse in randwaarde omgewerk.

Internasionale pryse van ammoniak en kaliumchloried het steeds met onderskeidelik 20% en 7% gedaal, terwyl die pryse van ureum en DAP nou met onderskeidelik 7% en 10% gestyg het (Tabel 2). Dit is dus duidelik dat die 23% verswakking van die rand ‘n groot impak gehad het op hoe internasionale kunsmispryse in die plaaslike mark deursyfer.

In Tabel 3 kan gesien word hoe plaaslike pryse op internasionale prystendense en die wisselkoers gereageer het. Dié tabel wys dat die plaaslike KAN-prys eerder met die ureumprys kompeteer as wat dit die afnemende tendens van internasionale ammoniakpryse nagevolg het. Dit is ook duidelik dat die plaaslike mark tans bevoordeel word wat die tendens van MAP aanbetref.

image

Brandstof

Plaaslike brandstofpryse word gereguleer en die basiese brandstofprys word op ‘n in voerpariteitsprys bereken. Internasionale brandstofprodukpryse word beïnvloed deur die ruolieprys. Vanaf Januarie 2013 tot Januarie 2014 het die ruolieprys in dollarterme met 4,4% gedaal. Oor dieselfde tyd perk het die ruolieprys in randterme met 17,8% gestyg (Grafiek 2).

image

Vanaf Februarie 2013 tot Februarie 2014 het die groothandelprys van diesel met 16,2% gestyg, vanaf R11,29 per liter na R13,11 per liter tans. Om die impak van die wisselkoers uit te druk: Van dié R1,82 per liter styging, was die bydrae van die wisselkoers R1,68 per liter.

Om op te som: Die verswakking in die waarde van die rand het presies die teenoorgestelde effek op insetpryse gehad as wat dit op plaaslike graanpryse gehad het. Die rand het die afgelope jaar insetpryse plaaslik skerp laat toeneem, terwyl dit eintlik op internasionale markte sywaarts en afwaarts beweeg het.

Publication: March 2014

Section: Input Overview

Search