• Login
  • Search Icon

Insetaankope: Tydige beplanning raak ál BELANGRIKER

October 2018

JOHAN LOXTON, namens die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie en CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA

Deeglike en vroegtydige beplanning vir die aankoop van insetmiddele raak by die dag belangriker. Die dae is verby waar ’n produsent ’n dag voor plant die foon optel om ’n inset die volgende dag op sy plaas te hê.

Dit kos enige maatskappy geld om voorraad vir lang periodes te hou – in stoorkostes en rente. Om hierdie rede pas feitlik alle insetmaatskappye die “net betyds”-beginsel toe. Die beginsel is op alle insetmiddele van toepassing, maar soveel meer op landboumasjinerie en toerusting, omdat dit gewoonlik hoëkoste-items is wat duur is om vir lang tydperke aan te hou voordat dit van die hand gesit word. Die meeste insette word boonop ingevoer – wat die leityd van bestelling tot aflewering verder verleng.

Om hierdie rede is dit vir ’n produsent van uiterste belang om die aankoopbeplanning van veral trekkers, planters, implemente en ander masjinerietoerusting vroegtydig te doen.

Behoorlike meganisasiebeplanning en die uitvoering daarvan ten opsigte van die spesifieke produksieprosesse wat vir die boerderyonderneming wat bedryf word benodig word, is primêr in die sukses van volhoubare gewasproduksie en die suksesvolle bedryf van die onderneming. 

Hedendaagse landboutoerusting, wat wissel van die mees basiese tot uiters moderne en hoogstegnologies-gevorderde produkte in die vorm van trekkers, stropers, selfaangedrewe spuite, planters, presisieboerderytoerusting en ander werktuie, verg enorme kapitaalbesteding wat uiters oordeelkundig besin, beplan en bestee moet word. Die tydige beplanning en uitvoer van hierdie aankope speel dus ’n belangrike rol om te verseker dat die vereiste toerusting beskikbaar is sodat die produksieproses betyds kan begin en volledig uitgevoer word gedurende die belangrike periode van die produksieseisoen.

Wat produsente sowel as die verskaffers van landboumasjinerie in Suid-Afrika terdeë moet besef, is dat ons vandag in ’n globale en steeds ekspansionistiese mark meeding vir die verkryging van genoegsame landboutoerusting vanaf die primêre vervaardigers van hierdie toerusting om in die markbehoefte te voorsien. Dit bring mee dat die vraag na sowel die basiese as gesofistikeerde landboutoerusting toenemend groei en sodoende beskikbare produksiekapasiteit deurlopend onder druk plaas. 

Dit het tot gevolg dat vervaardigers prioriteit verleen aan klantebestellings met vaste aankoopondernemings wat voorraadbestellings beperk en sodoende langer voorsieningsperiodes van toerusting meebring. 

Hierdie tendens is van toepassing op alle hoofkategorieë landboutoerusting soos trekkers, stropers, selfaangedrewe spuite, katoenplukkers, planters en selfs hooitoerusting. Vir die kommersiële produsent wat effektiwiteit, produktiwiteit en optimale winsgewendheid in sy onderneming as prioriteit stel en nastreef, is dit van uiterste belang dat sy meganisasiebeplanning, meegaande kapitaalbeplanning en voornemende aankoopprogram met soveel soos tien maande tot ’n jaar voor die datum van aanvang van die produksieproses tot uitvoer gebring word. 

Hierdie benadering sal verseker dat belangrike produkte oordeelkundig en volgens behoefte beplan en aangekoop word om betyds en volledig in ontvangs geneem te word vir die aanvang van die produksieproses.

Omdat die deurlopende en voldoende voorsiening van onderdele ’n kardinale rol in die effektiewe bedryf en beskikbaarheid van toerusting tydens die produksieproses speel, steun hierdie voortydige benadering in die beplanningsproses van die aankoop van toerusting ook ’n belangrike rol in die tydige beplanning en voorsiening van onderdele deur verskaffers en hul netwerk van handelaars. 

Ingeligte produsente is gereeld in gesprek met hul naaste handelaar van landboutoerusting, om sodoende op hoogte te bly van nuwe ontwikkeling op die gebied van toerusting en tegnologie, hoe hierdie produkte inpas by hul boerderybehoefte en dit ondersteun, die beskikbaarheid daarvan en die beplanning van hul aankope. 

Reg vir die Feesseisoen
Produsente behoort ook voor die Feesseisoen by hul plaaslike handelaars uit te vind hoe die handelaars hul kan ondersteun sou hulle onderdele gedurende die Feesseisoen benodig. Indien die produsent nie tevrede is met die handelaar se reëlings nie, kan hy dit met die nasionale verspreider opneem, aangesien dit vir die nasionale verspreiders prioriteit is om produsente ook gedurende die Feestyd met goeie diens te ondersteun. 

Nasionale verspreiders het spesiale reëlings in plek ten einde die voorsiening van onderdele gedurende hierdie periode te verseker.

Publication: October 2018

Section: On farm level

Search