• Login
  • Search Icon

Inset-oorsig

December 2014

Belangrike ekonomiese aanwysers en insetprystendense in 2014
 

image


CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA en PETRU FOURIE, ekonoom, Bedryfsdienste,
Graan SA

Meeste van Suid-Afrika se produksie-insette word ingevoer. Ongeveer 70% van die land se kunsmisbehoeftes, alle aktiewe bestanddele vir landbou-chemikalieë, die meeste land boumasjinerie (veral trekkers) sowel as brandstofpryse (wat gereguleer word), word op invoerpariteit gebaseer. Hoewel ons saadtegnologie (soos GMO’s) ingevoer word, word die meeste saad ten minste plaaslik vermeerder.

Hoe beïnvloed hierdie feit Suid-Afrika se vermoë om voedsel volhoubaar te produseer en met internasionale eweknieë te kompeteer? Wat van toekomstige voedselsekerheid?

Weens hierdie groot persentasie invoere, speel die waarde van die rand ‘n enorme rol in die vasstelling van plaaslike insetpryse en het die 10,2%-verswakking van die rand jaar op jaar insetpryse opwaarts gedruk. Tabel 1 toon die prysbewegings van die belangrikste ekonomiese en insetprysaanwysers aan.

image

Produksieprysindeks

Die produksieprysindeks dui die prysstygings van goedere en dienste op die groothandel- of vervaardigingsvlak in die ekonomie aan. ‘n Onderskeid word tussen die prysstygings van totale en ingevoerde goedere getref. Die prestasie van die rand teenoor die geldeenhede van die vernaamste lande waar invoere vanaf plaasvind, het ‘n groot invloed op die pryse van ingevoerde goedere.

Op ‘n jaargrondslag, het die produksieprysindeks tot September 2014 met 6,9% gestyg. Vanaf Augustus 2013 tot Augustus 2014 het die pryse van ingevoerde goedere met 15,3% gestyg. Ingevoerde goedere het tot ‘n meerdere mate gestyg as gevolg van die plaaslike wisselkoers wat op ‘n jaar-tot-jaar-basis verswak het.

Verbruikersprysindeks

Die amptelike inflasiekoers word op grond van veranderings in die verbruikersprysindeks bereken en dui kosteveranderings op die kleinhandels- of verbruikersvlak aan. Die inflasiekoers het in September 2014 op ‘n jaargrondslag met 5,9% gestyg.

Voedselinflasie het oor dieselfde periode met 8,5% gestyg. In hierdie mandjie van voedsel het brood en grane met 5,9% toegeneem, terwyl vleis met 9,4% gestyg het. Vis en groente het met onderskeidelik 8,4% en 13% toegeneem. Olie en vette het met 1,1% gedaal.

Wisselkoerse

In Tabel 1 word die verstewiging van die jaarlikse eksterne waarde van die rand teenoor ander geldeenhede as ‘n positiewe verandering aangedui, terwyl ‘n verswakking as 'n negatiewe persentasieverandering aangetoon word. Die rand het op 'n jaargrondslag tot Oktober 2014 met onderskeidelik 10,2%; 10,7% en 3,8% teenoor die dollar, die pond en die euro verswak.

Omdat Suid-Afrika so afhanklik is van invoere vir insetmiddele, het dié verswakking van die rand teenoor die geldeenhede van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote, plaaslike insetprysstygings verder aangevuur.

Rentekoerse

Op ‘n jaargrondslag tot Oktober 2014, het die Reserwebank die bankkoers met 75 basispunte of 0,75 persentasiepunte na 5,75% verhoog. Handelsbanke het die prima uitleenkoers ook met 75 basispunte na 9,25% verhoog.

Internasionale ruoliepryse

Die gemiddelde maandelikse brent ruolieprys het vanaf Oktober 2013 tot Oktober 2014 met 19,6% vanaf 9 per vat na per vat gedaal. Hierdie daling kan hoofsaaklik aan die volgende faktore toegeskryf word:

  • Toename in produksie van Saoedi-Arabië
  • Toename in produksie van ruolie in die VSA (hoofsaaklik van skaliegasproduksie)
  • Laer vraag van China (laer ekonomiese groei)

Die ruolieprys in randterme het op ‘n jaargrondslag tot en met Oktober 2014 met 11,4% tot R973 per vat gedaal.

Brandstofpryse

Die plaaslike groothandelprys van diesel in Gauteng het met 1,1% vanaf R12,60 per liter in Oktober 2013 tot R12,46 per liter in Oktober 2014 gedaal. Oor hierdie tydperk het die gelande koste van diesel met 3,1% gedaal, terwyl die groothandelsmarge met 5,5% gestyg het en belasting met 6,1% toegeneem het.

Die dieselkorting is tans 187,8 sent per liter, terwyl dit 175 sent per liter verlede jaar was. Die dieselkorting bestaan uit die 104 sent per liter van die Padongeluksfondsheffing en 83,8 sent per liter van die belastingkomponent.

Internasionale kunsmispryse

Behalwe vir kalium, het die internasionale pryse van kuns mis grondstowwe vanaf Oktober 2013 tot Oktober 2014 skerp gestyg. Die pryse van DAP, ureum en ammoniak het met onderskeidelik 16,9%, 9,6% en 30,2% toegeneem. Die prys van kaliumchloried het tydens hierdie tydperk met 12,3% gedaal.

Plaaslike kunsmispryse

Omdat Suid-Afrika se totale kaliumbehoefte, en tussen 60% en 70% van die stikstofbehoefte, ingevoer word, is plaaslike kunsmispryse blootgestel aan dieselfde faktore as in die internasionale mark. Met die verswakking van die rand teenoor die dollar in die tydperk onder bespreking, is dus verwag dat plaaslike pryse tot ‘n meerdere mate as internasionale kunsmispryse sou styg.

Die pryse van MAP, ureum, KAN en kaliumchloried het oor ‘n periode van ‘n jaar tot en met Oktober 2014 met onderskeidelik 9,2%, 6%, 10,6% en 1,6% gestyg.

Saadpryse

Saad maak ongeveer 12% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopendeproduksiekosterekening uit. Vir die 2014/2015-produksieseisoen het mieliesaad gestyg met gemiddeld 5,5%, graansorghumsaad met 18%, sonneblomsaad met 5,6% en sojaboonsaad met 5,5%.

Trekkerpryse

In Oktober 2014 was die pryse van trekkers 10,7% hoër as die oorstemmende tydperk twaalf maande gelede. Die verswakking van die rand teenoor die geldeenhede van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote was die hoofsaaklike rede vir hierdie prysstyging.

Trekkerverkope

Vir 2014 het trekkerverkope tot en met Oktober met 3% gedaal, in vergelyking met dieselfde periode in 2013. Verlede jaar is daar in hierdie tienmaande-tydperk 5 815 eenhede verkoop, terwyl trekkerverkope vir 2014 op 5 638 eenhede staan. Hierdie laer verkope kan hoofsaaklik aan laer graanpryse en hoër trekkerpryse toegeskryf word.

Publication: December 2014

Section: On farm level

Search