• Login
  • Search Icon

Inset-oorsig

October 2014
image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Jy moet meet om te kan weet: Hoe vergelyk insetpryse met verlede jaar dieselfde tyd?

Die nuwe plantseisoen vir somergrane is voor die deur en meeste produsente koop nou hul insette aan. Uit die verlede is geleer dat die tyd van aankope, die handelsnaam en ekonomiese toestande die prys van 'n inset op ‘n sekere tydstip bepaal.

Met die aankoop van insette moet produsente seker maak dat hulle die “regte prys” vir hul insette betaal. Vind uit wat jou buurman betaal het; kry kwotasies by soveel as moontlik ander maatskappye (vir dieselfde produk); en neem kennis van internasionale en plaaslike tendense. Die prys en kwaliteit van ‘n produsent se inset kan die verskil tussen ‘n wins en 'n verlies beteken.

In hierdie artikel probeer Graan SA ‘n basis en tendens in verskillende insette vasvang vir sy lede om hul insetpryse teen te meet.

Saad

Mieliesaadpryse het vir die nuwe seisoen op ‘n gemiddelde basis met 5,5% sedert verlede jaar gestyg. ‘n Mens kan egter argumenteer dat gewilde kultivars se styging hoër is – volgens Graan SA se Produksie/Insetwerkgroep het mieliesaadpryse van gewilde kultivars met 7,2% gestyg. Op ‘n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 5,6% gestyg; graansorghumsaadpryse met 18% en sojaboonsaadpryse met 5,5%. Vir die volledige saadpryse per kultivar, sien SA Graan/Grain se Julie-uitgawe vanaf bladsy 64. Skandeer die QR-kode met jou selfoon om sommer direk daarheen te gaan.

Kunsmis

Omdat Suid-Afrika so ‘n groot hoeveelheid van sy kunsmisbehoeftes invoer, behoort plaaslike en internasionale pryse goed te korreleer. Tabel 1 toon internasionale pryse in randwaarde oor 'n jaartydperk aan, terwyl Tabel 2 gemiddelde plaaslike kunsmispryse aandui (pryslyste).

image

image

Uit die tabelle is dit duidelik dat plaaslike stikstof- en fosfaatpryse nie tot dieselfde mate gestyg het as dié op internasionale markte nie. Die plaaslike prys van kaliumchloried het egter nie tot dieselfde mate as internasionale pryse gedaal nie – én 100% van ons kaliumbehoeftes word ingevoer. Onthou egter dat hierdie pryse ten doel het om die tendense aan te dui en dat daar nie noodwendig na die fisiese prys gekyk moet word nie, aangesien die internasionale pryse vry aan boord in ‘n internasionale hawe is en die plaaslike pryse, gemiddelde pryslyspryse is.

Wenke met aankoop van kunsmis

  • Kry kwotasies by verskillende maatskappye vir dieselfde produkte wat benodig word.
  • Vind uit wat groothandelaars vir grondstowwe vra (byvoorbeeld Sasol vir stikstof en Foskor vir fosfaat).
  • Bereken die koste per eenheid plantvoeding.
  • Vind uit wat is die verskillende betalingsterme wat die beste pas.
  • Bestel vroegtydig.
  • Hou altyd die kwaliteit van produkte ‘n prioriteit.

Brandstof

Aangesien die groothandelprys van diesel gereguleer word, behoort daar nie groot verskille te wees tussen wat produsente vir diesel opdok nie. Behalwe vir die verskille tussen sones, is daar al wel opgemerk dat produsente binne dieselfde sone, verskillende pryse betaal. Verlede jaar September, was die groothandelprys van diesel in Gauteng R12,62 per liter, terwyl dit in September vanjaar R12,59 per liter was. Met ander woorde, ‘n daling van 0,21%. Dié groothandelprys behoort vir produsente ‘n goeie aanduiding te gee teen watter prys hulle diesel kan aankoop, aangesien dit reeds in groot maat gedoen word.

Landbou-chemikalieë

Basies 100% van die aktiewe bestanddele benodig om landbou-chemikalieë te vervaardig, word hierheen ingevoer. Internasionale tendense en die wisselkoers gaan dus ‘n bepalende rol speel in plaaslike prystendense. Tabel 3 en Tabel 4 dui tendense in die pryse van internasionale landbou-chemikalieë (aktiewe bestanddele) aan. Uit Tabel 3 en Tabel 4 kan gesien word dat veral die pryse van onderskeidelik imidacloprid en glifosaat skerp gedaal het (13% en 25% in randterme omgeskakel). Plaaslike pryse tot dusver was traag om die internasionale dalings na te volg (hoofsaaklik as gevolg van die swak rand – veral vroeër in die jaar). Op ‘n gemiddelde basis het swamdoders met 6,3% gestyg, onkruiddoders met 16,3% (waar van glifosaat 23% gestyg het) en insekdoders met 12% gestyg.

image

image

Landboumasjinerie

Tabel 5 toon prysveranderings in die landboumasjineriemark aan. Alhoewel die stygende tendens blyk om af te neem, is dit steeds duidelik dat hierdie pryse jaar op jaar skerp toegeneem het.

image

Om op te som – Graan SA probeer om insetpryse deurlopend te monitor en inligting aan ons lede beskikbaar te stel om deursigtigheid en ook kompetisie in die insetomgewing te bevorder. Maak hierdie seisoen bietjie meer oproepe, kry meer kwotasies en vir lede, kontak Graan SA om seker te maak die regte insette word teen die regte prys aangekoop.

Publication: October 2014

Section: On farm level

Search