• Login
  • Search Icon

Inset-oorsig

July 2014

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA en PETRU FOURIE, ekonoom, Bedryfsdienste, Graan SA

Een tree nader aan die regte kultivarkeuse vir somergewasaanplantings

Saadpryse is nou jaarliks ‘n warm onderwerp. Mieliesaadpryse het vir die 2014/2015-produksieseisoen gemiddeld met 5,5% gestyg. Op ‘n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 5,6% gestyg; graansorghumsaadpryse met 18% en sojaboonsaadpryse met 5,5%.

‘n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die Produsente Prys Indeks (PPI). Vir 2014 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 7,9%. Behalwe vir sorghumsaadpryse, val die ander saadprysstygings onder die PPI-koers.

Hoe groot rol speel saadpryse egter werklik in ‘n produsent se kultivarkeuse? Hopelik gaan hierdie artikel die keuse vir produsente vergemaklik.

Kultivars verskil van mekaar in een of meer van ‘n verskeidenheid eienskappe en elkeen het dus ‘n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskik baar wat goed benut kan word en die volgende is belangrike riglyne om te oorweeg vir kultivarbeplanning:

  • Moet nooit ‘n staatmakerkultivar binne een seisoen met ‘n nuwe of onbekende een vervang nie. Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ‘n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ‘n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër- en laer potensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Volgens Graan SA se Produksie/Insetwerkgroep het mieliesaadpryse van gewilde kultivars met 7,2% gestyg.
GMO-tegnologiefooie het ook sedert ‘n jaar gelede toegeneem. Roundup Ready se tegnologiefooi het met 3,9% toegeneem. Bt-tegnologiefooi (Mon 810) het met 5,7% en Mon 89034 met 10% toegeneem. By die stapelgene het die tegnologiefooi vir Mon 810 met 4,8% en vir Mon 89034 met 7,5% toegeneem.

Sien meegaande tabelle vir prysvergelykings tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

Mieliesaadpryse (kliek om te vergroot):

Agricol Link Seed Monsanto Pioneer Pannar K2 Agri

 

Graansorghumsaadpryse (kliek om te vergroot):

Pannar Agricol K2 Agri

 

Sonneblomsaadpryse (kliek om te vergroot):

Pannar K2 Agri Pioneer Agricol

 

Sojaboonsaadpryse (kliek om te vergroot):

Pioneer Pannar Link Saad Agricol K2 Agri

 

Riglyne met die aankoop van saad

Met die aankoop van saad is daar ‘n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, naamlik in 15, 20 en 25 kilogram sakkies of in pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings van 140 000, 150 000 en 180 000 pitte per sakkie beskikbaar.
  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik deur die LNR-IGG getoets is en dat die prestasie bewese is. Moenie onnodig groot risiko’s met ‘n nuwe kultivar loop nie.
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe en siekte- en plaagweerstand van ‘n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word. Raadpleeg die LNR-IGG se 2014 MIG of die betrokke kundiges.
  • Met aankope, maak seker dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes, ook aan dít wat op die sakkie staan, voldoen. Veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt-, of RR- of dubbelgeen-kultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Maak ook seker dat almal wat die saad hanteer, GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en dit ook van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ‘n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir kortings waar moontlik.
  • Ten laaste, kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad

Saadmaatskappye staan nie in vir die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie gedoen word deur die saadmaatskappy self of deur ‘n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat
ISO-geakkrediteer is nie. In die geval waar ‘n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Rhizobium-behandeling is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies

Met die aankoop van Bt-saad word ‘n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ‘n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ‘n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: Óf ‘n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ‘n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies dus uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ‘n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder meer so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as
400 m vanaf ‘n toevlugsarea aangeplant word nie, ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting gedek word, dit mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugsplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word moet ook dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en moet binne sewe dae ná mekaar geplant word.

Publication: July 2014

Section: On farm level

Search