• Login
  • Search Icon

Hou koringmark gereeld dop

November 2018

Die wintergraanseisoen vorder goed, met die stroopproses wat in die meeste van dié dele van die land reeds aan die gang is. Na die vorige seisoen se uitdagende produksie-omstandighede in veral die Wes-Kaap vertoon hierdie seisoen se oeste aansienlik beter – met goeie reën wat op kritieke tye tydens die produksieseisoen voorgekom het. 

Daar is wel dele van veral die Suid-Kaap waar die reën eers later geval het. Die oeste in dié streek het nie noodwendig so goed gevaar soos in die Swartland nie. 

Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se tweede produksieskatting van wintergrane word die totale produksie vir die seisoen op 1,845 miljoen ton geskat. Dit is ongeveer 20% meer as die vorige seisoen se produksie, wat ongeveer 1,535 miljoen ton was. 

Die koringproduksie in die Wes-Kaap word op 890 400 ton vir die seisoen geskat – ten spyte van die effense afname in die oppervlakte wat dié seisoen aangeplant is. Dit laat die Wes-Kaap se gemiddelde opbrengs vir die 2018/2019-seisoen op 2,8 t/ha.

In die Vrystaat is daar dié seisoen ook uitstekende verwagtinge vir koringproduksie – met die oppervlakte aangeplant vir die seisoen wat met ongeveer 31% toegeneem het tot en met 105 000 ha. Die totale produksie vir die Vrystaat word vir die 2018/2019-seisoen op 367 500 ton geskat, met ’n gemiddelde opbrengs van 3,5 t/ha.

Internasionale koringmark
In die internasionale koringmark het groot veranderinge in die afgelope twee tot drie maande in die mark plaasgevind, wat hoofsaaklik ondersteuning aan pryse gebied het. Die grootste rolspelers in die internasionale koringmark het uitdagende toestande gedurende die produksieseisoen beleef. 

Tabel 1 toon die verwagte koringproduksie en eindvoorraad tussen die 2017/2018- en 2018/2019-seisoen vir van die grootste rolspelers in die internasionale koringmark. Uit Tabel 1 is dit duidelik dat die wêreldproduksie vir koring in die 2018/2019-seisoen met ongeveer 3% behoort te daal, gemeet teen die vorige seisoen se produksie. Die Europese Unie (EU), wat die grootste koringproduserende streek in die wêreld is, se produksie vir die 2018/2019-seisoen word op 138 miljoen ton geskat – wat 9% laer is as die vorige seisoen se produksie. Rusland, wat die grootste koringuitvoerland is, se produksie vir die seisoen word op 71 miljoen ton geskat – wat 16% laer is as die vorige seisoen se produksie.

Die koringeindvoorraad vir die 2018/2019-seisoen word op 261 miljoen ton geskat – wat 5% laer is as die vorige seisoen se wêreldeindvoorraad. 

Die laer eindvoorraad vir die seisoen is toe te skryf aan ’n kombinasie van laer produksie sowel as ’n effense toename in die verbruik vir die seisoen. Tabel 1 illustreer dat die grootste afnames in die eindvoorraad van koring vir die 2018/2019-seisoen in Rusland, die EU en die VSA geskat word, terwyl China se eindvoorraad na verwagting in die 2018/2019-seisoen verder behoort toe te neem – tot en met 136 miljoen ton. Daarvolgens sal China aan die einde van die 2018/2019-seisoen met 52% van die wêreld se koringvoorraad sit. 

Grafiek 1 toon die daaglikse VSA, Swartsee-streek en Duitse koringpryse sedert April 2013. Die internasionale koringpryse was sedert 2013 meestal in ’n afwaartse pryssiklus, totdat dit gedurende 2016 bitter naby aan ’n tien jaar-laagtepunt verhandel het.

In die internasionale mark is die tydperk tussen 2013 en 2017 gekenmerk aan bevredigende groei in koringproduksie, wat veroorsaak het dat die produksie teen ’n vinniger tempo as die verbruik toegeneem het. Die wêreldvoorraad het as gevolg daarvan geakkumuleer en die pryse is onder druk geplaas. Die laer internasionale pryse het tot ’n mate die verbruik gestimuleer, wat ’n effense toename in die afgelope twee jaar getoon het. 

Dít, tesame met die laer internasionale produksie die seisoen soos wat in Tabel 1 aangetoon word, het tot ’n groot mate bygedra tot ondersteuning van die internasionale koringpryse. 

Alhoewel daar tans steeds groot volumes koringvoorraad in die wêreld beskikbaar is, sal die produksie in die vernaamste produserende lande noodsaaklik wees. Dit sal grootliks die rigting van die prystendense in die volgende paar jaar bepaal. 

Wat is die prysdrywers?
Wanneer die geheelprentjie van die internasionale en plaaslike koringmark in oënskou geneem word, is dit noodsaaklik om vas te stel wat die grootste drywers van veral die plaaslike koringpryse is. Dit kan produsente grootliks bystaan in die besluitneming rakende die bemarking van koring. 

Suid-Afrika is ’n netto invoerder van koring en op ’n jaarlikse basis word gemiddeld ongeveer 50% van die plaaslike verbruik ingevoer. Die plaaslike produksie is nie noodwendig die grootste drywer van die plaaslike pryse nie – dit is eerder ’n kombinasie van die internasionale prys en die wisselkoers. 

Grafiek 2 toon die jaar-op-jaarverandering van die plaaslike koringprys, die koringprys in die Swartsee-streek, waarvandaan meeste koring ingevoer word en die wisselkoers sedert Oktober 2015. Grafiek 2 illustreer die redelike mate van korrelasie tussen veral die wisselkoers en die plaaslike koringprys. 

Die jaar-op-jaarverandering in die plaaslike koringprys en die wisselkoers volg redelik dieselfde tendens, maar dit is tog ook duidelik dat die internasionale markprys wel ’n effek op die koringprystendens het.

Ten slotte
Bemarking van graan speel ’n belangrike rol in die winsgewendheid van produsente. Dit is een van die boerderyaspekte waarop produsente genoeg klem moet lê. Dit is egter glad nie ’n eenvoudige aspek van die boerdery nie, aangesien daar soveel onsekerhede in terme van die markpryse en die verwagtinge vir die seisoen is. Produsente moet hulself daarom vereenselwig met die faktore wat die grootste impak op die plaaslike pryse het om sodoende van geleenthede in die mark gebruik te maak wanneer dit voordoen.

Die veranderlikes wat die grootste impak op die plaaslike pryse in die koringmark het, is ’n kombinasie van die internasionale markpryse en die wisselkoers – twee faktore wat glad nie eenvoudig is om te ontleed nie. 

Wisselvalligheid van veral die wisselkoers, maak die akkurate voorspellings van pryse ’n groot uitdaging. Produsente moet daarom gereeld deur die loop van die seisoen geleenthede in die mark identifiseer en vir verskansingsdoeleindes daarvan gebruik maak.

Publication: November 2018

Section: On farm level

Search