• Login
  • Search Icon

HONDEJAG op plase neem toe

October 2018

KARINA MULLER, SA Graan/Grain medewerker

Onwettige jag met honde op plase raak toenemend gesofistikeerd en georganiseerd. In ’n onlangse studie deur die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), het 75% van die respondente gemeld dat daar onwettig met honde op hul plase gejag word. 

Volgens ’n Agri SA-verslag hieroor, betree hierdie oortreders plase met die hoofdoel om onwettige jagbedrywighede uit te voer en groot bedrae geld word verwed op die hond wat die eerste dier vang.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het jare gelede reeds hul kommer oor sogenaamde “jaghonde” uitgespreek. Mnr Sian Hall, outeur van die boek Dogs of Africa het hierdie honde meer as tien jaar lank bestudeer en bevind dat hulle meestal in ’n swak kondisie was. Dit het geblyk dat die honde doelbewus verwaarloos word, om hulle meer aggressief te maak.

Op hul beurt sê die Universiteit van KwaZulu-Natal dat honde nie doeltreffende jagters is nie. Hulle skeur meestal stukke vleis uit lewende slagoffers. Dié universiteit het bevind dat bloukraanvoël- en mahemspesies oor die laaste tien jaar met 90% afgeneem het weens onoordeelkundige gebruik van honde.

Hoewel daar voldoende wetgewing in plek is – soos die Veediefstalwet, Wilddiefstalwet, Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet, Dierebeskermingswet, Strafproseswet en Natuurbewaringsordonnansies – word dit bloot deur onwettige jagters geïgnoreer.

'n Groot aantal van dié sake word nooit opgelos nie en lei tot frustrasie aan die kant van die grondeienaars. Agri SA maan egter in hul verslag dat uiterste versigtigheid aan die dag gelê word. 

Die verslag waarsku veral teen vigilante optrede, wat tot vervolging kan lei. Die organisasie beveel aan dat die polisie onmiddellik geskakel word wanneer grondeienaars honde wat verwoesting saai, op hul plase aantref. Grondeienaars word ook aangeraai om hul veiligheidsnetwerke om hulp te skakel.

Die SAPD raai aan dat die honde, indien moontlik, gevang word en aan die DBV oorhandig word. Sommige natuurbewaringsordonnansies laat wel toe dat die honde geskiet word, maar die SAPD beskou dit as ’n waagstuk. Hoewel grondeienaars die reg het om in selfverdediging te skiet om hul eiendom te beskerm, kan dit negatiewe gevolge hê.

Agri SA gee die volgende riglyne:

  • Maak bewyse bymekaar en beskerm die misdaadtoneel tot die polisie opdaag.
  • Moenie die saak met moontlike getuies bespreek nie.
  • Neem foto’s.
  • Kontak natuurbewaringsorganisasies en die DBV, wat honde kan konfiskeer.
  • Open ’n saak van doelbewuste saakbeskadiging as honde skade aangerig het.
  • As jag voorheen op die grond toegelaat is, moet ’n wettige proses gevolg word om bure, inwoners en lede van die gemeenskap in te lig dat dit nie meer die geval is nie.

Publication: October 2018

Section: Spotlight on farm Security

Search