• Login
  • Search Icon

Hoe word koringopbrengs deur Russiese koringluis beïnvloed?

September 2015

ASTRID JANKIELSOHN, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Daar is baie faktore om in ag te neem wanneer daar gekyk word na die verwagte opbrengs van ‘n gewas. Een van hierdie faktore is skade deur insekte wat die uiteindelike opbrengs kan beïnvloed.

Hierdie insekte word weer op hulle beurt deur verskeie faktore in die omgewing beïnvloed. Om skade deur ‘n insekplaag te bepaal, is dit nodig om spesifieke omgewingsfaktore in ag te neem en dus elke produksiegebied op sy eie te beskou.

Russiese koringluis is internasionaal die belangrikste insekplaag op droëlandkoring en veroorsaak wêreldwyd verliese in opbrengs. Opbrengsverliese in koring sal toeneem as die skadelikheidsvlakke van Russiese koringluis toeneem.

Die skadelikheidsvlak neem toe wanneer die koring wat in ‘n spesifieke omgewing geplant word, nie voldoende weerstand het teen die luise wat in die omgewing voorkom nie. Dit kan gebeur wanneer ‘n koringkultivar geen genetiese weerstand het teen Russiese koringluis nie, of as die weerstand nie voldoende is teen die spesifieke Russiese koringluis biotipe wat in die omgewing voorkom nie.

Genetiese weerstand in koring is die mees suksesvolle en goedkoopste beheerstrategie teen Russiese koringluis, maar die voorkoms van verskillende Russiese koringluis biotipes maak hierdie beheerstrategie minder suksesvol, aangesien verskillende biotipes die genetiese weerstand in koring kan oorkom.

Daar is tans vier Russiese koringluis biotipes in Suid-Afrika bekend: RWASA1 tot RWASA4. RWASA4 is die mees skadelike Russiese koringluis in Suid-Afrika en kan die meeste van die weerstandsgene wat in Suid-Afrikaanse koringkultivars is, oorkom en die koring sodoende beskadig.

Die invloed wat enige van die Russiese koringluis biotipes op die koring het, sal egter bepaal word deur die interaksie tussen die biotipes en ook die interaksie met die omgewing.

Die verskillende biotipes in ‘n omge wing kompeteer met mekaar en die mees suksesvolle biotipe sal meer dominant wees. Die sukses van ‘n Russiese koringluis biotipe in ‘n spesifieke produksiegebied word nie alleen gemeet aan die vermoë van die luis om te oorleef nie, maar ook om suksesvol in die gebied voort te plant en te vermeerder. Daar is verskeie omgewingsfaktore wat die sukses van die Russiese koringluis in ‘n spesifieke omgewing sal bepaal, maar die twee faktore wat waarskynlik die grootste invloed het, is die gasheerplant en temperatuur.

Hierdie twee faktore beïnvloed elke biotipe verskillend en sal dan ‘n spesifieke biotipe se kompeterende voordeel oor die ander bepaal (Figuur 1).

Hoe word koringopbrengs deur Russiese koringluis beinvloed?

RWASA2 en RWASA3 het ‘n vinniger populasiegroei as RWASA1 op Tugela wat die weerstandsgene Dn1 en Dn5 bevat en op hawer (Grafiek 1). RWASA3 het ook die hoogste populasiegroei op wilde hawer (Grafiek 1).

Hoe word koringopbrengs deur Russiese koringluis beinvloed?

Afhangende van die gasheerplant en ander omgewingsfaktore in ‘n spesifieke omgewing wat die Russiese koringluis biotipes beïnvloed, sal een biotipe meer suksesvol wees en dus meer dominant in die spesi fieke omgewing voorkom. RWASA1 het gedurende die tydperk tussen 2010 en 2014 dominant in die Wes-Kaap voorgekom, terwyl RWASA2 en RWASA3 dominant in die Oos-Vrystaat was (Grafiek 2). RWASA4 het van 2011 tot 2014 net in die Oos-Vrystaat voorgekom (Grafiek 2). Om die uiteindelike invloed van Russiese koringluis op koringopbrengs te bepaal, is dit nodig om te bepaal hoe elke omge wingsfaktor elke biotipe se populasiegroei afsonderlik sal beïn vloed (Figuur 1). Wanneer ons dan na ‘n spesifieke produksiegebied kyk, sal ons kan bepaal watter biotipe dominant sal wees en hoe hierdie biotipe voorts die koring sal beïnvloed.

Hoe word koringopbrengs deur Russiese koringluis beinvloed?

imageProdusente met enige navrae of opmerkings, kan dr Astrid Jankielsohn by die LNRKleingraaninstituut kontak by 058 307 3431 of jankielsohna@arc.agric.za.

Publication: September 2015

Section: Focus on

Search