• Login
  • Search Icon

Hoe verloor jy jou kettie?

August 2010

Beste Grootneef

Die seisoen is aan die draai met die son wat al vroeër kop uitsteek. Hier en daar sien mens wraggies ‘n perskeboom wat dink die lente is al hier. Maar wag maar, so koue front of twee sal seker nog vir oulaas ‘n rypie oor die Vrystaat strooi. Net om te wys die natuur is eintlik baas.

Met die laaste valse vuvuzela-toet in B-mol, is dit nou terug na die gewone moeilikheid in onse republiek. Die afgelope maand is ou probleme mos met ‘n lagie sokker-suiker versoet. Nou lê hef aan weer voor met ‘n klompie harde landbousake.

Daar loop reeds gerugte oor ‘n nuwe groenskrif vir grondhervorming, wat waarskynlik nuwe voorstelle vir grondeienaarskap sal bevat. Die beginsel van vrywillige koper en verkoper sal seker ook weer onder die loep kom. Volgens die minister van Grondsake, het die staat ondanks ooreenkomste met verkopers, nog nie betaal vir 972 472 ha wat oor die afgelope drie boekjare aangekoop is nie. Ou Neef, dis die kiem in die pot. As jy nie die staat kan vertrou om jou vir jou plaas te betaal wat aan die staat verkoop is nie, wie sal dit waag om met die staat besigheid te doen? Dit lyk of die klompie gewillige grondverkopers dubbel en dwars uitgebuit word, want hierdie boere kan nie meer hul plase benut nie én die staat sloer om hul daarvoor te betaal! Nie vir enkele maande nie; volgens die minister in sekere gevalle reeds vir drie boekjare lank! Dit is skreiend.

Êrens moet die sweep geklap word, dis tog duidelik dat iemand eenvoudig nie sy werk doen nie. Miskien is die tyd ryp dat georganiseerde landbou die staat deur die hof dwing om sy administratiewe bevoegdhede uit te oefen. Mooi praat help al lank nie meer nie...

Ou Neef, hoe verloor ‘n mens jou kettie? Dis mos deel van jou! Jy koester dit: olie hom nou en dan; vee liefderyk die stoffies af; maak seker dat vuilheid nie aanpak nie; haal hom soms vir die lekker uitmekaar. As jy in ‘n veiligheidsbedryf is, soveel te meer. Want as jy mooi sorg vir jou kettie, sal hy mooi sorg vir jou wanneer jy hom nodig het.

Ek lees onlangs dat onse eie polisiemag knaend wapens verloor. Nie een of twee nie ou Neef, sommer 2 600 is gedurende verlede jaar “verloor”. Dit is nou uit die perd se bek, oftewel volgens die minister van Polisie tydens ‘n antwoordsessie in die parlement. Die 2 600 polisiewapens wat verlede jaar “verloor” is, kan ook met ‘n knippie sout geneem word – dis waarskynlik baie meer. Die 2 600 verlore wapens is bloot dié waarvan hulle weet wat weg is.

Die vraag bly: hoe verloor jy ‘n wapen? In die hardloop? Word dit verkwansel? Word dit uitgeleen soos ‘n biblioteekboek? Of val dit bloot van jou belt af? Hoe dit ook al sy, ons eie polisiediens “verloor” wapens op ‘n streep. Volgens die minister ongeveer 13 000 gedurende die afgelope vyf jaar, maar die skroewe word aangedraai op wettige vuurwapeneienaars om heraansoek te doen vir lisensies, met duur bekwaamheidstoetse en wat nog. Sogenaamd om onwettige wapens en misdaad te beperk. Nee wat, die staat moet hier voor sy eie deur vee met veilige wapenbeheer, want die polisiemag het in net een jaar vir 2 600 onwettige wapens gesorg...

Dit sal interessant wees om te verneem hoeveel wapens die weermag “verloor”. Is al die Ratels nog daar? Tel iemand dit nog? Ek verneem onlangs dat die lugmag in Zimbabwe ‘n nuwe uitskietstoel vir helikopters ontwerp het. Dit werk glo “chop-chop”.

Interessante tye vir die kunsmisbedryf – dit is nou as die Mededingingskommissie sy sin kry. Daar is glo sprake van ‘n skikkingsooreenkoms waarvolgens Sasol moontlik van sy kunsmisvermengingsaanlegte moet ver koop. Kêrels, alles goed en wel – hierdie aksies van die Mededingingskommissie moet net nie op die ou einde tot gevolg hê dat kunsmis skraps raak met planttyd nie...

Met die Augustus-winde in die lug, is dit weer tyd om die horison vir ‘n rookwolkie dop te hou. Praat met die mense, maak seker dat alles moontlik gedoen word om brande te voorkom. ‘n Vuur met ‘n wind van agter keer jy nie gou nie. Ons weet nie wanneer die eerste lentereëns gaan val nie.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: August 2010

Section: E-mails

Search