• Login
  • Search Icon

Hoe nou vorentoe?

December 2017


JANNIE DE VILLIERS, HUB

Die jaar het uitgeloop. Rekordoeste in die noorde en ‘n droogteramp in die suide. Dan is daar ook ‘n hoogs emosionele vlaag van plaasmoorde wat almal ontstig. Die leierskap gaan weer en weer deur al die hoogte- en laagtepunte van die jaar. Almal sug diep. Dalk is dit met dankbaarheid dat die jaar verby is of sommer net ‘n sug van: “Hoe nou vorentoe?” 

Die graanbedryf se leiers gaan dié Desember iewers langs die see of onder ‘n Bosveldboom of hoog op in die berge díép moet gaan delf na oplossings vir 2018. As die landboutoestande gunstig is, maak dit alle steiltes meer draaglik, maar dit moet darem ook ‘n bydrae lewer om die bankbalanse weer te herstel.

Hier teen die einde van die jaar het ons ‘n uitstekende ligpuntjie gekry vanuit ‘n oord waaruit ‘n mens dit nie sommer verwag het nie. Die Portefeuljekomitee vir Landbou, Bosbou en Visserye het Graan SA genooi om hulle te gaan inlig oor die komende somerseisoen en wat die gereedheidstatus vir die vernietigende kommandowurm wat verlede jaar hier kop uitgesteek het, is. 

Wat nuut was, was nie net dat albei ons Ministers (Zokwana en Cele) teenwoordig was nie, maar dat die voorsitter van die portefeuljekomitee Graan SA versoek het om die komitee jaarliks te gaan inlig, want dan sal hulle werklik weet wat daar buite aangaan. 

Dit is met so ‘n stekie oorgedra – asof hul eie mense dit nie na behore doen nie. Sy het ook verneem na die verslag oor die droogte wat ek verlede jaar by die komitee voorgehou het en Graan SA se hele strategie rakende die hektare wat ons weens die mynaktiwi­teite in Mpumalanga verloor en weer suksesvol in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal vestig. 

Dit is hierdie tipe vertroue tussen die besluitnemers in ons land en die landbousektor waaroor ons vir jare al droom en aan werk. Ons kon ook rapporteer oor die samewerking met die Departement wat kommandowurms betref. Dit gee my moed dat al die pogings van ons kant af nie sommer net by die agterdeur van die Parlement uitgewaai het nie.

Nog ‘n vars briesie so voor die hittegolwe van Januarie en Februarie ons oorval, was die uitkoms van die Agri SA Kongres. Nie soseer die inhoud daarvan nie, maar al die veranderinge wat goedgekeur is. Daar is nuwe leiers vir die volgende tydvak verkies en die bestuurstruktuur is verander na ‘n struktuur soortgelyk aan dié van ‘n maatskappy (dus met ‘n direksie). 

Ons het ook alreeds vroeër melding gemaak van die nuwe kundigheid wat bekom is om die organisasie beter te posisioneer vir dít wat voorlê. Heelwat van ons besighede in en rondom landbou het ook nader gestaan (korporatiewe lede) om aan te dui waar hulle sentiment lê as dit gaan oor verskille met die staat in fundamentele sake soos eiendomsbesit. Dit is regtig verblydend. 

Ek het egter ‘n klompie jare gelede tydens die Bosoorlog en selfs in die raadsale van ons land, geleer dat as die skote klap, nie almal wat rondom jou staan noodwendig vorentoe hardloop nie. Derhalwe hoop ek maar net dat dit nie in dié geval so sal wees nie. Ons het almal se hulp en ondersteuning nodig vir dít wat voorlê. Sterkte aan Dan Kriek en die nuwe leierskap!

Ek wil die jaar afsluit deur vir oom Boris Kaplan (Tiger Brands) te groet. Hy is gedurende die laaste week van Oktober vanjaar oorlede. Sy gesig is verewig in die Mielies/Maize-tydskrif se spotprente van die negentigerjare as een van die sogenaamde “Fat cats”.

Oom Boris was die gentleman tussen die meulenaars, maar ‘n uiters gedugte onderhandelaar. Hy het die kopers en handelaars op menige rade (Mielies, Oliesade en Droëbone) verteenwoordig. Ek het soveel by hom geleer. Hy het die graansektor beslis met onderskeiding gedien en in ‘n betreklik beter toestand agtergelaat. 
 

Publication: December 2017

Section: Features

Search