• Login
  • Search Icon

Hoe beïnvloed droogtetoestande onkruiddodereffektiwiteit?

August 2016

ELBÉ HUGO, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Oneffektiewe en selfs geen beheer van onkruide nie, is tydens die afgelope groeiseisoen aangemeld waar een van die ergste droogtes nog ondervind is. Asof droogtetoestande nie genoeg is om produsente se gemoedere te toets nie, bied wisselvallige onkruidbeheer in droogte toestande 'n verdere uitdaging.

Onkruide word meestal moeiliker beheer tydens droogtetoestande as in 'n normale seisoen waar die verspreiding van reën meer konstant is. Vir onkruiddoders om effektiewe beheer te gee, moet daar 'n paar eksterne en interne faktore in balans wees, beide in die plant (onkruid) en die omgewing (grond en lug).

Onkruiddoders kan hoofsaaklik in twee hoofgroepe verdeel word in terme van die tyd van toediening naamlik voor-opkoms en naopkoms. Toediening voor-opkoms behels die beheer van onkruide voordat dit opgekom het (bo-kant die grondoppervlak verskyn het), terwyl na-opkoms toediening geskied wanneer onkruide reeds opgekom het en in die saailingstadium is.

Vir enige onkruiddoder om effektief te werk moet die "teiken" getref word en dit is die ontkiemende onkruid in die grond (voor-opkoms) en die aktief groeiende onkruidplantjie se blare (na-opkoms).

Wanneer droogtetoestande heers, beïnvloed dit beide teikens en het dit 'n direkte of indirekte uitwerking op die effektiwiteit van onkruiddoders. Hierdie artikel wil dus lig werp op die effek van droogte op die werking van grondtoegediende onkruiddoders (vooropkoms), blaartoegediende onkruiddoders (na-opkoms), asook die omgewingseffek (droogte) op die opname van onkruiddoders.

Droogte-effek op blaartoegediende onkruiddoders

Vir enige na-opkoms onkruiddoder om effektief opgeneem te word deur die onkruid, moet daar genoeg van die onkruiddoder op die blaar oppervlakte neergesit word, om sodoende vinnig opgeneem en vervoer te word na die plek van werking binne in die plant.

Die plek van werking dui aan waar die spesifieke onkruiddodermolekule sal inwerk op die plant se fisiologiese prosesse en/ of weefsel om afsterwing van die onkruid te veroorsaak. So byvoorbeeld blok glifosaat (na-opkoms sistemiese onkruiddoder) die fisiologiese pad wat bekend staan as die Shikimaat-siklus en verhoed die onkruiddoder-molekule die vorming van noodsaaklike boustene (aminosure) wat benodig word vir effektiewe fotosintese van 'n plant.

Paraquat (na-opkoms kontakonkruiddoder) se plek van werking is in die selwande waar dit toksiese suurstofverbindings (byvoorbeeld peroksied) vorm en die selwande dus vernietig. Hierdie tipe informasie mag dalk as oorbodig beskou word, maar 'n begrip van die werking van onkruiddoders kan produsente help om wisselvallige beheer van onkruide in droogtetoestande beter te verstaan en/of te verklaar (Figuur 1). Dié kennis kan dus meer voordelig ingespan word om die tyd van onkruiddodertoediening optimaal te bepaal.

Goeie absorpsie en vinnige vervoer van genoegsame onkruiddodermolekules is dus noodsaaklik vir effektiewe beheer. Die aktiwiteit van onkruiddoder-molekules binne-in die plant word direk beïnvloed deur die morfologie, anatomie, fisiologiese en biochemiese prosesse in die plant (onkruid).

Wanneer droogtetoestande voorkom, beïnvloed dit al die genoemde prosesse in die plant en sodoende dan ook die werking van onkruiddoders in die plant. Die eerste hindernis om te oorkom, is die verdikte waslagie (kutikula) wat meeste onkruidspesies kan ontwikkel tydens stremmingstoestande. Hierdie verdikte waslagie vorm 'n fisiese versperring wat die absorpsie en penetrasie van onkruiddodermolekules vertraag of verhoed. Daar word dus nie genoeg onkruid doder opgeneem deur die plant (onkruid) om effektief te werk nie.

Onkruiddoder-molekules word saam met water en die fotosintaat (meestal suikers) vervoer in die plant as gevolg van fotosintetiese prosesse. Gestremde (verlepte) plante se huidmondjies is meestal gesluit, vervoer prosesse word vertraag en die beweging van suikers/water in die plant is heelwat stadiger (Figuur 2).

Hoe beïnvloed droogtetoestande onkruiddodereffektiwiteit?

Verlepte plante se blare neem dus baie minder onkruiddoder op en vertraagde vervoer van onkruiddoder-molekules in die plant veroorsaak dat die onkruiddoder-molekules nie gou genoeg na die plek van werking vervoer word nie. As gevolg van hierdie vertraagde beweging deur die plant, is daar meer tyd om onkruiddodermolekules te "inaktiveer" en/of af te breek.

Sodoende bereik daar nie genoeg onkruiddoder-molekules die plek van werking nie en het dit swak onkruidbeheer tot gevolg. Die water-oplosbaarheid van onkruiddoders loop egter hand-aan-hand met effektiewe opname en translokasie (vervoer) binne-in die plant. Hoe meer oplosbaar in water – hoe vinniger sal die onkruiddodermolekules penetreer en vervoer word.

Droogte-effek op grondtoegediende onkruiddoders

Sodra onkruidoddermolekules op die grond val, word dit blootgestel aan verskeie faktore wat 'n rol speel in die afbreek, opneem en verspreiding van die onkruiddoder wat 'n direkte uitwerking op die effektiwiteit van die produk het.

Die teenwoordigheid van grondvog is van kardinale belang vir effektiewe grondwerking (aktivering) van voor-opkoms onkruiddoders. Sommige etikette gee grasie van tot vier dae na toediening vir reënval en/of besproeiing, maar nadat onkruiddoders vir langer as vier dae in die grond is sonder enige grondvog, sal onkruidbeheer drasties afneem.

Voor-opkoms onkruiddoders vermeng (los op) met die grondvog en word sodoende versprei in die boonste grond lagie (0 cm - 10 cm) wat die kiemingsone genoem word. Meeste onkruiddoder-molekules word deur die ontkiemende koleoptiel (eerste gedeelte van die stingeltjie) opgeneem, met beperkte opname deur die wortels van kiemende onkruide.

Wanneer daar dan nie genoeg grondvog in die boonste grondlagie is nie, kan kiemende onkruidsade nie genoeg onkruiddoder opneem nie. Verlaagde grondvog veroorsaak dat onkruiddoder-molekules nie in oplossing kan gaan nie en dus nie geaktiveer en opge neem word nie.

Swak onkruidbeheer is dan as gevolg van droogtetoestande en nie die swak werking van die produk nie. Om sake verder te kompliseer, kan onkruiddoder-molekules ook afgebreek word in die grond as dit nie gou genoeg deur ontkiemende saailinge opgeneem word nie. Sommige onkruiddoders is ligsensitief en wanneer dit nie vinnig genoeg in die grond kan inloog met behulp van grondvog of vlak bewerking (soos aangedui op etiket) nie, kan 'n groot persentasie van die onkruiddoder-molekules "vervlugtig".

Sommige grondmikrobes gebruik onkruiddoder-molekules as 'n "voedselbron" en is direk gekoppel aan die hoeveelheid organiese materiaal in die grond. Hoe hoër die organiese inhoud van die grond, hoe hoër is die mikrobe-aktiwiteit.

In die afwesigheid van grondvog bly die onkruiddoder-molekules dus onaktief in die grond en word oor tyd afgebreek – swak opname en inaktivering van 'n onkruiddoder is dan die gevolg van swak onkruidbeheer. Wanneer dit reën na 'n verlengde tydperk van toediening, sal die onkruidsaad begin ontkiem, maar die onkruiddoder- molekules sal nie meer geaktiveer kan word om beheer te verskaf nie.

Daar is wel bespiegelinge dat grondtoegediende onkruiddoders se residuele effek verleng kan word, aangesien dit dan nie geaktiveer word in die grond nie, maar daar is nie genoegsame bewyse om te veralgemeen nie. Wanneer daar by die voorgeskrewe dosisse gehou word, is die kanse skraal dat voor-opkoms onkruiddoders se nawerking verleng kan word as gevolg van droogtetoestande in die grond.

Onthou

  • Optimale opname van na-opkoms onkruiddoders geskied gewoonlik in warm, humiede toestande (hoë relatiewe humiditeit), maar met droogtetoestande is die lug egter te droog (baie lae relatiewe humiditeit) en temperature te hoog.
  • Te klein druppelgrootte het tot gevolg dat 'n groot persentasie onkruiddruppels kan verdamp wanneer dit op die blaaroppervlakte land.
  • Verkieslik moet onkruiddoders vroeg in die oggend toegedien word wanneer onkruide nog nie verlep het nie en die huidmondjies nog oop is.
  • Oormatige stof kan ook voorkom in droogtetoestande wat 'n verdere fisiese versperring op blaaroppervlaktes kan veroorsaak.
  • Moenie voor-opkoms onkruiddoders spuit wanneer geen reën voorspel word nie; verskuif eerder dan tydig na 'n na-opkoms beheerprogram voor onkruide te groot is.
  • Gebruik beproefde byvoegmiddels (adjuvants) saam met naopkoms onkruiddoders om penetrasie en verspreiding te verhoog tydens droogtetoestande.
  • Wisselvallige onkruidbeheer is eerder 'n gegewe in droogtetoestande as 'n uitsondering en dit verg beter bestuursvermoë van produsente.
  • Om dosisse te verhoog, sal nie beter onkruidbeheer gee in droogtetoestande nie.
  • 'n Voordelige feit is dat bestuiwing en saadvorming van onkruidspesies oor die algemeen vertraag word tydens droogtetoestande en is die aantal saad wat gestort word minder.

Vir enige verdere navraag, kontak dr Elbé Hugo by HugoE@arc.agric.za of 018 299 6298.

Publication: August 2016

Section: On farm level

Search