March 2015
PETRU FOURIE, ekonoom, Bedryfsdienste, Graan SA
Die 2013/2014-produksieseisoen, veral in die westelike dele van Suid-Afrika, sal as een van die beste in terme van landboutoestande onthou word, als te danke aan reën wat op net die regte tyd voorgekom het. In hierdie artikel word ‘n oorsig van die verloop van die oesskatting vir die 2013/2014-produksieseisoen (pas afgelope seisoen) gegee. Daar word gepoog om te kyk hoe die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) sedert die bekendmaking van die eerste produksieskatting (Februarie 2014) tot die finale mielie-oes (Februarie 2015) verander en afgewyk het. Die bekendmaking van akkurate en tydige inligting is van kritieke belang aangesien dit ‘n direkte impak op prysvorming in die vrye mark het.
Verloop van die  2013/2014-produksieseisoen
Die seisoen het afgeskop met  grondvogvlakke wat feitlik uitgeput was in die westelike dele van die land.  Hierdie situasie het egter handomkeer verander as gevolg van tydige reën wat  die grondvog beduidend aangevul het. In die meeste van Suid-Afrika se  produksiegebiede het voldoende opvolgreën geval wat tot rekordsomergraan- en  oliesaadopbrengste bygedra het.
 
  
  Onderskatting  van die witmielie-oes
Onderskatting  van die witmielie-oes
In Grafiek 1 kan die maandelikse  produksieskattingsyfers vir witmielies, vanaf die eerste skatting (Februarie)  tot die finale skatting (September), soos bekend gemaak deur die NOK, gesien  word. Die rooi lyn dui die gerealiseerde witmielie-oessyfer wat Februarie 2015  bekend gemaak is aan en die verskil tussen dié syfer en die maandelikse  skattings (geel) is duidelik sigbaar. Die toename in produksieskattings danksy  die gunstige produksietoestande kan vanaf Februarie tot Mei duidelik waargeneem  word, waarna die skattings vanaf Junie tot September feitlik dieselfde as die  finale skattings wat Februarie vrygetel is, was.
Oorskatting van  die geelmielie-oes
In Grafiek 2 kan die  maandelikse produksieskattingsyfers vir geelmielies, vanaf die eerste skatting  tot die finale skatting, gesien word. Oor die algemeen is goeie  geelmielie-opbrengste behaal en die toename in die  geelmielieproduksieskattingsyfers is ook duidelik sigbaar in die grafiek. Soos  die gunstige landboutoestande in die oostelike dele van die land voortgeduur  het, het die verwagte geelmielie-opbrengste ook toegeneem. Die NOK se eerste  skatting in Februarie vir geelmielies was 5,854 miljoen ton teenoor die  werklike grootte van die finale oes wat 6,540 miljoen was. Die NOK het die  geelmielie-oes gedurende die laaste twee skattings (Augustus en September) met  ongeveer 69 700 ton oorskat.
Norm waarbinne  die NOK moet skat
In Suid-Afrika het die graanindustrie  ‘n norm/grens vir die Oesskattingskomitee gestel waarbinne die oesskattings  moet wees, naamlik om vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot Mei)  nie meer as 8% vanaf die finale oes af te wyk en om vanaf die vyfde tot die  agtste skatting (Junie tot September) nie meer as 5% vanaf die finale oes af te  wyk nie. Grafiek 3 dui die boonste en onderste aanvaarbare grens  waarbinne die Oesskattingskomitee moet wees, aan. Indien die skatting (syfer)  op ‘n groter afwyking as die toelaatbare norm/grens dui, kan daar met retrospek  na ‘n oor- of onderskatting verwys word. In die grafiek kan gesien word dat die  afgelope seisoen se skattings afsonderlik vir wit- en geelmielies, vanaf  Februarie tot en met April buite die gestelde norm/grens geval het. Met dié dat  die wit- en geelmielie-oes albei gedurende Februarie tot en met April onderskat  is, het dit meegebring dat die totale mielie-oes ook gedurende daardie periode  onderskat is, waarna dit vanaf die vierde skatting (Mei) tot die finale  skatting, baie mooi tussen die voorgestelde norm/grense beweeg het.
Slotsom
Dit is vir Graan SA, saam met die  Oesskattingskakelkomitee (CELC), van kardinale belang dat geloofwaardige  skattings vrygestel moet word. Die bepaling van korrekte gemiddelde opbrengste is  een van die NOK se moeilikste take, aangesien klimaat so ‘n groot rol speel.  Uitgesluit die ongewenste afwykings wat afsonderlik vir wit- en geelmielies  gedurende Februarie tot April voorgekom het, was die res van die skatting baie  goed binne die norm/grens.
Publication: March 2015
Section: On farm level