• Login
  • Search Icon

Hitte kniehalter gars- en koringproduksie in die besproeiingsgebiede

March 2016

KIM COETZEE, LNR-Kleingraaninstituut, Stellenbosch

Die meeste produsente sal saamstem as ons sê dat 2015 nie ‘n jaar was wat ons gou sal vergeet nie. Dit was ‘n besonder moeilike seisoen vir ons gars- en koringprodusente, met baie warm, droë toestande wat die land oorweldig het.

Die droogte wat oor groot dele van die land strek, het gelei tot die verklaring van vier provinsies as rampdroogtegebiede. Die meeste van ons het seker al foto’s gesien van die geweldige droogte in die Vrystaat. Die Wes-Kaapse provinsiale kabinet het ook die nasionale regering formeel genader om die provinsie as ‘n rampgebied te verklaar. Dit sal produsente in staat stel om aansoek te doen vir finansiële ondersteuning van regeringskant.

Die besproeiingsgebiede van Suid-Afrika het ook ‘n ongewone winter ondervind. Die minimum temperature was nie so laag soos wat verwag is nie (Grafiek 1 en Grafiek 2). In die Vaalhartsbesproeiingskema was dit opmerklik hoe lank die pekanneutbome hulle blare behou het. Toe die bome uiteindelike kaal was, was dit maar net ‘n paar weke voor die bome begin bot het.

Hitte kniehalter gars- en koringproduksie in die besproeiingsgebiede
Hitte kniehalter gars- en koringproduksie in die besproeiingsgebiede
 


Hierdie matige winter is gevolg deur periodes met geweldige hoë temperature, veral gedurende die korrelvulperiode (Grafiek 3 en Grafiek 4).
 

Hitte kniehalter gars- en koringproduksie in die besproeiingsgebiede
Hitte kniehalter gars- en koringproduksie in die besproeiingsgebiede
 


Soos verwag, het beide gars en koring ondergemiddelde oeste gerealiseer, maar die grootste bekommernis vir die garsoeste was ‘n lae vetkorrelpersentasie. Beide die hoeveelheid korrels per aar en korrelgrootte word deur hittestres beïnvloed.

Produsente kon eenvoudig nie byhou met die plante se hoë waterbehoefte nie. In baie gevalle is ‘n vetkorrelpersentasie van slegs 40% gestroop. Van die garsoeste is direk as veevoer gelewer, aangesien dit eenvoudig nie winsgewend was om die saad te sif om sodoende die vetkorrelpersentasie te verhoog om moutgraad te verkry nie.

Van die produsente wat bietjie later gesaai het, het beter oeste gerealiseer as van hul bure wat in die normale plantvenster gesaai het. Die later aanplantings het van die hoë temperature vrygespring gedurende die kritiese ontwikkelingstadiums en hoër opbrengste gerealiseer (Grafiek 5 en Grafiek 6).
 

Hitte kniehalter gars- en koringproduksie in die besproeiingsgebiede
Hitte kniehalter gars- en koringproduksie in die besproeiingsgebiede
 

Hittestres gedurende korrelvulperiode affekteer die meeste fisiologiese funksies van ‘n plant. Fotosintese (die omskakeling van ligenergie na koolhidrate) asook die translokasie van voedingstowwe word beide beduidend geïnhibeer deur hoë temperature.

Blaarveroudering daarenteen word versnel deur hittestres. Hierdie vinnige verlies van groenblaarmateriaal tesame met die inhibisie van fotosintese, lei tot merkbaar minder koolhidraatproduksie en dus ‘n afname in opbrengs.

Die graanvulperiode word ook verkort deur verhoogde temperature.  In baie gebiede het produsente drie tot vier weke vroeër as gewoonlik geoes. Hierdie verkorte periode vir graanvul lei ook tot ‘n afname in opbrengs, aangesien die tyd wat die plant benodig om hulpbronne vas te lê, verkort word.

Navorsing dui egter dat die toename in daaglikse minimum temperature ‘n groter effek het op graanproduksie as maksimum dagtemperature. Graanopbrengs korreleer negatief met ‘n toename in minimum nagtemperature, soos waargeneem in die 2015-produksieseisoen (sien Grafiek 1 en Grafiek 2).

Hitte kniehalter gars- en koringproduksie in die besproeiingsgebiedeDaar moet egter ook daarop gelet word, dat die gemiddelde temperature vir die 2015-seisoen hoër as die afgelope vyf jaargemiddeld was, wat verder bygedra het tot ‘n afname in opbrengs en vetkorrelpersentasie.

Daar word voorspel dat Suid-Afrika eers gedurende die herfs van 2016 noemenswaardige reënval sal kry. Ons kan net hoop dat dit wel die geval is en dat die temperature ook sal normaliseer voor die gars- en koringseisoen begin.

By die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) streef ons egter daarna om nuwe kultivars vry te stel wat goeie opbrengste kan realiseer in selfs moeilike produksiejare.

In 2017 sal daar twee nuwe hoë-opbrengskultivars beskikbaar wees (Foto 1). Renoster is ‘n kort strooikultivar wat opbrengste van tot 12 t/ha kan realiseer. Koedoes is ‘n medium strooikultivar wat ook opbrengste van tot 12 t/ha kan produseer.

image

Beide hierdie twee kultivars het kort groeiperiodes. Die huidige kultivar, Duzi, word as ‘n medium na kort groeiseisoenkultivar geklassifiseer. Renoster en Koedoes is egter sewe tot tien dae voor Duzi stroopgereed.

 

Hierdie navorsing is moontlik gemaak met die befondsing
van die Wintergraantrust en Landbounavorsingsraad.

 

Publication: March 2016

Section: On farm level

Search