• Login
  • Search Icon

Hier’s die nuutste somergraansaadpryse

July 2017

CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA en MICHELLE MOKONE, landbou-ekonoom, Graan SA

Afhangende van die plantestand, maak saad as produksieinset tussen 10% en 17% van ‘n mielieprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Gegewe uitstekende navorsing in genetika en tegnologie, bly saad een van die belangrikste insette om opbrengste en produktiwiteit in die graanbedryf te verhoog. Dit is daarom krities dat produsente die regte kultivars kies, opweeg tussen prys en opbrengspotensiaal sowel as risikoverspreiding. Vir die 2017/2018-seisoen is dit ver blydend om te kan sê dat heelwat nuwe kultivars die kommersiële saadmark betree en vir produsente beskikbaar is om te plant. Daar is hierdie seisoen altesaam 39 nuwe mieliekultivars, sewe nuwe sojaboonkultivars, ses nuwe sonneblomsaadkultivars en een nuwe sorghumkultivar beskikbaar.

Kultivars verskil van mekaar in een of meer van ‘n verskeidenheid eienskappe en elkeen besit daarom ‘n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die LNR-Graangewasse stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word en die volgende is belangrike riglyne wat met die oog op kultivarbeplanning oorweeg moet word:

  • Moet nooit ‘n staatmaker-kultivar binne een seisoen met ‘n nuwe of onbekende een vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ‘n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ‘n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër en laer potensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Saadpryse
Mieliesaadpryse het vir die 2017/2018-produksieseisoen gemiddeld met 9,1% gestyg. Op ‘n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 4% gestyg, graansorghumsaadpryse met 7,8% en sojaboonsaadpryse met 4,5%. ‘n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die produsenteprysindeks (PPI). Vir 2017 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 5,33%. Dit wil sê mielie- en graansorghumsaadpryse het op ‘n gemiddelde basis die nasionale produksiekosteinflasie oorskry.

Let wel dat Monsanto hierdie seisoen ‘n aanpassing in hul 80 000 pitverpakking se pryse gemaak het. Dit is hoofsaaklik die kleiner pitte (meestal die minder gewilde pit-klasse) wat tans in 80 000 pitverpakkings beskikbaar is. Monsanto het hul pryse per eenheid (koste per pit) dieselfde gemaak, ongeag die verpakking (80 000 pitte of 60 000 pitte). Dit het meegebring dat hul pryse van 80 000 pit-sakkies vir die nuwe seisoen skerp toegeneem het, terwyl die pryse van hul 60 000 pit-verpakkings slegs gemiddeld 3,6% gestyg het. Sien Tabel 1 tot Tabel 4 vir prysvergelykings tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

Riglyne met die aankoop van saad
Met die aankoop van saad is daar ‘n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, naamlik in 15 kg-, 20 kg- en 25 kg-sakkies of in pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook 150 000 en 180 000 pitte per sakkie-verpakkings en sojabone 140 000 pitte beskikbaar.
  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik deur die LNR-Graangewasse getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ‘n nuwe kultivar neem nie.
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe, en siekte- en plaagweerstand van ‘n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word. Raadpleeg die LNR-Graangewasse se 2017 Mielie-inligtingsgids (MIG) of die betrokke kundiges.
  • Met aankope, maak seker dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes, ook aan dit wat op die sakkie staan, voldoen – veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeen-kultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Maak ook seker dat almal wat die saad hanteer, GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en ook van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ‘n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir kortings waar moontlik. Verskeie maatskappye het kortingstrukture vir volume aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
  • Ten laaste, kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad
Saadmaatskappye staan nie in vir die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ʼn ge registreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie. Ingeval ‘n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word.

Behandeling van Rhizobium is uitgesluit. Daar word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad, word ‘n tegnologie- ooreenkoms onderteken, waarin ʼn produsent onder neem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ‘n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: Óf ‘n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ‘n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word. Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies dus uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ‘n toe vlugs area:

  • Toevlugsareas moet onder andere so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ‘n toevlugsarea aangeplant word nie.
  • Dit moet ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting dek.
  • Dit mag nie uit minder as ses rye bestaan nie.
  • Toevlugplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word, moet dieselfde groeitempo as die Btmielies hê en moet ook binne sewe dae van mekaar geplant word.

Publication: July 2017

Section: On farm level

Search