• Login
  • Search Icon

Hierdie wenner wil nooit ophou leer nie

November 2012

ELMARIE SCHOEMAN, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

Israel Motlhabane van Wesselsbron is as vanjaar se Graan SA/Absa Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar aangewys.

Hy is op ‘n plaas in die Hoopstad-omgewing gebore en het sy eerste plaas, Annasvlei, in die Wesselsbron-distrik in 1995 by ‘n veiling gekoop. Voor hy begin boer het, het hy ‘n taxi-besigheid, ‘n konstruksiemaatskappy en tuindienste besit, maar hy het nooit ophou droom oor die dag wat hy uiteindelik sy eie plaas sal besit nie. In 2009 het hy ‘n tweede plaas, Uitkyk, ook in die Wesselsbron-distrik deur die PLAS-stelsel verkry en hy besit nou byna 900 hektaar waarvan 600 hektaar bewerkbaar is.

Israel het deur die jare geleer om die raad van kenners rondom hom te vra. Graan SA hoofbestuurslid, Chris Schoonwinkel, het daarvan getuig dat Israel gereeld vrae vra en van meer ervare produsente wil leer. Israel het genoem dat die toekenning nie vir hom is nie, maar vir almal wat hom die afgelope 15 jaar bygestaan en ondersteun het. “Ek wil graag die mense by Graan SA bedank, hulle lei ons op die regte pad. Aan Chris Schoonwinkel, my mentor, dankie vir alles,” het Israel gesê.

Absa is die medeborg van die geleentheid en ook die borg van die Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar-toekenning. Brienne van der Walt (groephoof: Absa AgriBesigheid) het tydens die geleentheid opgemerk dat Suid-Afrika ‘n generasie benodig wat ‘n loopbaan van kommersiële boerdery kan maak en dat elkeen van die Ontwikkelende Graanprodusent-finaliste die vermoë het om daardie gaping te vul.

“Ons is trots op julle en ons volg julle loopbane met belangstelling,” het hy gesê.

Absa beloon Israel se wenplek met ‘n prysgeld van R27 500.

Publication: November 2012

Section: Other Articles

Search