• Login
  • Search Icon

Het jy die grootste NAMPO Oesdag nog belééf?

July 2017

ALZENA GOMES, skakelbeampte, Graan SA en foto’s: ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain

Graan SA-lede se gemoedstoestand by dié jaar se NAMPO Oesdag was uit die staanspoor behoorlik iets om oor huis toe te skryf. Die goeie luim wat die onlangse uitstekende oeste in die noorde, ooste en weste vergesel het, is sommer vroeg-vroeg elke oggend by die NAMPO Park-ledehek ingedra.

In Graan SA se poging om elke jaar ‘n meer positiewe en beter ervaring aan ons lede te bied, verseker die moeitelose en doeltreffende elektroniese kaartjiestelsel geen oponthoud nie. Die eksklusiewe ledeparkering is maar één van die talle voordele wat Graan SA-lede tydens die NAMPO Oesdag ontvang.

Reeds vertroud met die eksklusiewe gholfkarretjie-ritte, geborg deur Absa AgriBesigheid, is lede met ‘n aangepaste roete na die splinternuwe ingang van die ledelokaal vervoer. En wat ‘n belewenis was dít nie!

Hierdie jaar is die gebruiklike Graan SA-ledelokaal en uitstalruimte nuut onthul as die Graan SA NAMPO Belewenissentrum, waar elke besoeker die organisasie se fokusareas kon besigtig – alles onder een dak. Daarbenewens kon belangstellendes die fliekteater besoek vir ‘n visuele voorstelling van Graan SA en sy bedrywighede, insluitend die landbou-ontwikkelings- en skoleprogram, navorsingsinisiatiewe, bewaringslandbouprogram, NAMPO geskiedenis en vele meer.

Bo en behalwe al dié nuwe ontwikkelinge, het Graan SA ook met trots ‘n NAMPO kenteken (logo) bekend gestel vir die toekoms, met verskeie NAMPO handelsmerkklere- en promosie-items wat te koop aangebied is, kon elke Oesdagganger hul eie stukkie NAMPO huis toe vat.

Met die intrapslag is lede by die ledelokaal met heerlike aromas van die John Deere Financial-geborgde koffie begroet en meer as 3 000 cappuccino’s en warm sjokolades is deur ons baristas bedien. Dit is reeds die derde jaar dat mnre Sifiso Shoba en Sibu Babuyile ons met die wonderlikste koffie bederf – soveel so dat hulle al deel is van die NAMPO familie.

Lede kon deur die dag ligte versnaperinge en ‘n gebruiklike koue lafenis vir die kele na middagete geniet en is die netwerkgeleenthede met medeprodusente en die Graan SA-ekonome goed benut. Bykomend daartoe is lede op hoogte gehou van die jongste markverwikkelinge met die vertoning van lewendige Safexmarkinligting.

Steeds met ‘n gedrewe fokus en missie om die beeld van landbou te bevorder, het Graan SA sy sosiale mediaplatforms ten beste benut om die NAMPO Oesdag aan lede en die publiek bekend te stel. Die organisasie het in die oploop na NAMPO met die meeste van die meer as 700 uitstallers hande gevat om alles wat die 51ste Oesdag gaan bied, te bemark. Deurentyd is die klem op interessante en deelbare inhoud geplaas, met die doel om gesprekvoering te stimuleer.

Beide videografika en kort tekste van wat op NAMPO Park gebeur het, is uitgesaai en gedeel – met ‘n skerp fokus op die bevordering van Graan SA se beeld. Dié hoogtepunte en kort video’s het deurentyd verseker dat lede wat self nie die Oesdag kon bywoon nie, niks misgeloop het nie.

Die Graan SA Facebook-blad het ‘n rekordtotaal van 1 005 142 interaksies, 62 900 videokyke, 2 095 909 indrukke en ‘n 1 909 toenamein aanhangers tydens die week gehad. Graan SA se Twitter-blad het 123 500 twiets gehad, 279 hertwiets en 383 skakel-klieks, terwyl die Graan SA Instagram-blad 5 452 interaksies op 103 foto’s ontvang het.

‘n Hele paar bekende gesigte het NAMPO besoek en minister Senzeni Zokwana (Minister van Landbou, Bosbou en Visserye), die immergewilde Cheetahs-rugbyspan, me Annette Steyn (die DA se skaduminister van Landbou, Bosbou en Visserye), sowel as mnr Mike Mlengana (direkteur-generaal: Landbou, Bosbou en Visserye) het die Graan SA-ledelokaal besoek. En om alles te kroon, is ons vroulike besoekers behoorlik met die VIA-vroueprogram bederf wat in vol sterkte weer na NAMPO teruggekeer het.

Indien jy enige van die gebeurtenisse misgeloop het, besoek gerus die NAMPO Oesdag Facebook-blad of die Graan SA YouTuberekening vir ‘n kykie na die video-opnames. Graan SA het groot waardering vir ons lede se ondersteuning en sien uit daarna om al ons lede volgende jaar, 15 tot 18 Mei, in die ledelokaal terug te verwelkom.

Publication: July 2017

Section: Grain SA

Search