• Login
  • Search Icon

GRONDHERVORMING, POLITIEKE DROME EN LESSE TE LEER

September 2012

image

Die uitkoms van die ANC se beleidskonferensie het beslis ‘n paar lesse vir produsente ingehou. Ek het die geleentheid gehad om een aand saam met die afgevaardigdes aandete te nuttig om nie net ‘n gevoel vir die byeenkoms te kry nie, maar om ‘n hele paar goeie gesprekke met van die afgevaardigdes te voer.

Om vir drie ure langs van die hooggeplaasde amptenare en ministers te sit en sonder ernstige onderbrekings te kon gesels, was beslis die moeite werd. Ek dink Agri SA, wat dit gereël het, verdien hiervoor ‘n pluimpie!

Ek wil dalk met die agterkant voor begin: Aan die einde van die aand, ná ‘n lang gesprek, vra ek die mense om die tafel: “Wat is daar wat ons as graanprodusente vir die regering kan doen, gegewe alles waaroor ons gesels het?”

Onomwonde en sonder om te skroom of tyd te neem om te dink, antwoord dr Cassius Lubisi, direkteur-generaal in die kantoor van president Zuma: “To provide us with food security” – genoeg kos! In ons gesprek vooraf het dit geblyk asof hy nie goed ingelig is oor landbou nie, maar as hy hierdie konsep van voedselsekerheid reg begryp, dan verstaan ek ook die uitkoms van die beleidskonferensie baie beter.

Ek wil nie te kenne gee dat die hele debat oor grondhervorming enigsins verby of afgehandel is nie, allermins, maar wat ek wel weet is dat die regerende party die belangrikheid van voedselsekerheid as prioriteit verstaan en waardeer en dat dit as balans dien om nie sommer net die Zim-styl toe te pas nie.

Die boodskap was duidelik, nie net vir produsente en grondeienaars nie, maar ook vir sommige van die lawaaierige faksies wat ten gunste van nasionalisering skreeu. Die Grondwet gaan nie verander nie en Artikel 25 van die Grondwet van die land staan. Om landbougrond in produksie te hou, vereis ‘n beleid wat gebalanseerd is. Dit beteken dat grondwaardes en eienaarskap eerbiedig sal word binne die Grondwet.

Verstaan mooi dat die Grondwet wel ook onteiening insluit, maar dat dit alleen binne die raamwerk van die Wet kan en mag geskied. Laastens is daar nog die individu se reg om hom of haar tot die hof te wend om sy/haar regte te beskerm.

Ek wil ook ‘n pluimpie uitdeel aan prof Johann Kirsten, wat een van die heilige koeie ten tye van die konferensie aangepak het. Die uitstaande grondoudit wat behoort aan te dui waar ons met grondhervorming staan, verhoed landbou om te kan wys waar die sektor met transformasie trek.

Iemand moes genoeg braafheid aan die dag lê om iets hieroor te sê – welgedaan Prof! Dankie aan die landbou-unies wat op eie stoom en koste die oudit aangepak het in die vakuum van ‘n uitstaande oudit van die staat se kant af. Nou wag ons nog net op die staat om die grondoudit af te handel sodat ons jul vermoede kan bevestig.

Laastens wil ek ook uitkom by van die lesse wat te leer was in die proses. As sektor het ons waarskynlik ons ore te veel uitgeleen aan die radikales in die regerende party wat nasionalisering bepleit het. Moet ons nie maar liewer identifiseer met die stem van redelikheid nie en mooi na hulle (eerder as die lawaaimakers) luister nie?

Tweedens, goeie resultate kom nie sonder harde werk nie. Dokumente deurwerk, kommentaar skryf, sirkuleer, debatvoer en kapasiteit en takt beskikbaar hê om op die regte tyd, die regte goed te sê om ‘n verskil te maak. Derdens, die gesindheid om ‘n oplossing te soek en nie net te kritiseer nie. En ten einde ook te glo dat alles ten goede sal mee werk en nie sommer op dag een, as die wind wes draai, begin neul nie.

Produsente, daar is ‘n stem van redelikheid binne die regerende party en hulle is steeds in beheer. Daar is ‘n balanserende gewig met die naam “voedselsekerheid” wat saam met die Grondwet van die land vir ons beskerming bied vir dít wat vir ons belangrik is. Kom ons bly gefokus op dít wat ons goed kan doen en dit is om voedsel uit die grond voort te bring vir ons land en sy mense.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: September 2012

Section: Editorial

Search