• Login
  • Search Icon

Grondboonoestyd: ‘n Paar wenke vir sukses

February 2017

LOUREINE MULLER, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Deur die hele groeiseisoen probeer die produsent sy beste om ‘n goeie oes te lewer. Daar is wel ‘n klomp faktore soos plantdiepte, siektedruk en waterbeskikbaarheid wat ‘n groot rol in die opbrengspotensiaal van grondbone speel, maar die grootste invloed op die kwaliteit van grondbone is die bepaling van die korrekte oesdatum en oespraktyke wat gevolg word.

Dit is nodig dat produsente alreeds teen 130 dae na-opkoms gereeld monsters trek om ‘n rypheidsbepaling te doen. Soos die dae aanstap na 150 dae na-opkoms, sal die verkleuring binne die peule aanduiding gee van die rypheidsgraad van die aanplanting (Foto 1a en Foto 1b).

Waak daarteen om die rypheidsbepaling volgens die peulkrapmetode te doen, aangesien dit nie ‘n werklike weerspieëling van die rypheidsgraad in Suid-Afrika is nie.

Om ‘n goeie opbrengs te verseker, moet die produsent al by planttyd begin, waar planters by die uithalers aangepas moet word. Swak onkruidbeheer tydens die groeiseisoen beïnvloed die oesproses negatief, aangesien probleme met verstopping van uithalers en grootskaalse oesverliese voorkom.

Die beskadiging van peule tydens die oesproses moet verminder word. Dit is nodig om uithalers tydens die oesproses gereeld na te gaan om te verseker dat die werking daarvan so sagkens as moontlik geskied om peulbeskadiging tot ‘n minimum te beperk (Foto 2).

Die volgende besluit wat die produsent moet neem, is die keuse tussen hopies pak, in sakke of losmaat lewer. Daar is baie voordele sowel as nadele verbonde aan elkeen van hierdie oespraktyke.

Wanneer die produsent op die hopiepakmetode besluit, gaan hy beslis met ‘n hoëkwaliteitproduk eindig, maar dan moet hy besef dat insetkostes wat tydelike arbeid betref, gaan styg. Toesig op die land is ook van groot belang om te verseker dat die hopies op die korrekte wyse gepak word (Foto 3).

Daar is al telkemale gevind dat hopies binne 24 uur omval, aangesien die basis van die hopie nie korrek gepak is nie. Swak hopiebasisse veroorsaak ook dat die onderkant van die hopie klam bly en skade aan die oes veroorsaak.

Onthou dat die hopiepakmetode sterk aanbeveel word vir saadvermeerdering, aangesien die kwaliteit gelewer baie hoog is en die stadige droogmaakproses binne die hopies voordelig is vir die ontkieming van die saad gedurende die volgende seisoen se aanplantings (Foto 4).

Die meganiese oesproses kan in twee afdelings verdeel word, naamlik massalewering of in-saklewering. Indien daar op die massalewering van grondbone besluit is, moet dit in oorleg met ‘n verwer kingsaanleg wat wel oor drogingsfasiliteite beskik, gedoen word.

Oesdatums sal ook gekoördineer moet word om sodoende plek in die drogingsaanleg te verseker. Tydens die oesproses is dit belangrik dat gelet moet word op afdroog in windrye. Aanlegte verkies dat grondbone op ‘n vogpersentasie van 18% gelewer word, aangesien dit die tyd van afdroog binne die drogingsaanlegte verkort.

Hierdie metode word glad nie aanbeveel vir saadvermeerdering nie, aangesien vermenging ‘n groot probleem is. Massalewerings word ook in massastore geberg – wat verhoed dat saadlotte uitmekaargehou kan word.

Wanneer die oesproses in sakke geskied, is die voordeel dat die oes wel meganies geoes kan word. Weer eens is die vogpersentasie belangrik by die pluk van die bone. Die duimreël hier is ook ʼn vogpersentasie van 18% met pluk.

Verder kan die saadlotte ook by die verwerkingsaanleg uitmekaar gehou word – wat waarneembaarheid vergemaklik. Daar is egter een probleem met in-sakoes: Die sakke het ‘n neiging om voete te kry...wat ‘n negatiewe effek of die finale opbrengssyfers het.

Soms speel die weer nie saam gedurende oestyd nie. Droogte gedurende die uithaalproses kan veroorsaak dat meganiese toerusting nie doeltreffend werk nie en daar oorgeslaan moet word na die konvensionele oesmetodes waar snylemme met swaar gewigte gebruik word om harde grond te penetreer.

Selfs wanneer daar te veel reën gedurende die oestydperk voorkom, sal daar planne beraam moet word om die grondbone te oes. In dié geval sal die produsent moet terugval op die hopiepakmetode om sodoende sy oes te red.

Net soos tydens planttyd, is daar baie besluite wat gedurende oestyd geneem moet word. Die buigbaarheid van die grondboon produsent se planne in hierdie tyd bepaal op die ou einde die sukses van sy grondboonoes.

Publication: February 2017

Section: Focus on

Search