• Login
  • Search Icon

Grondboonkalender: Juniemaand

June 2013

— Tyd om te besin oor die afgelope seisoen
 

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

image

Daar is geen grondboontjiejaar wat dieselfde is as die vorige een nie. Elke seisoen bring sy eie uitdagings.

Die voorkoms van reën en wisselende nagtemperature het hierdie seisoen ‘n groot impak gehad op plantdatums asook die hoeveelheid aanplantings wat dié jaar gemaak is. Daarby het koel nagtemperature ook veroorsaak dat die bruikbare hitte-eenhede per dag verminder het, wat langer groeiperiodes tot gevolg gehad het.

Temperature tydens aanplantings het ook grootliks die sukses van die aanplantings bepaal, aangesien die wisselings gunstige toestande geskep het vir die voorkoms van Aspergillus kroonvrot wat veroorsaak word deur die patogeen Aspergillius niger Tiegh. (Foto 1 en Foto 2).

Hierdie patogeen kom algemeen in die grond voor en dus sal daar wel jaarliks ‘n baie klein persentasie van saailinge omkom as gevolg van die patogeen. Die afgelope seisoen se voorkoms van kroonvrot was aangespoor deur grondtemperature wat ongunstig was vir ontkieming, wat veroorsaak het dat ontkieming baie traag was en tot 21 dae geneem het in sekere gevalle.

Hou in gedagte dat hoe langer dit vir ‘n saailing neem om te ontkiem en gevestig te word, hoe groter is die impak van onkruiddoderskade en hoe groter is die tydperk wat die ontkiemende saailing blootgestel word aan patogene wat siektes veroorsaak. Daarom is dit baie belangrik om te let op grondtemperature tydens planttyd.

Alhoewel die seisoen laat begin het, was die vooruitsig in Januarie baie goed. Die grootste demper was egter ‘n onverwagte droogte wat groot gebiede getref het. Mielie-aanplantings het swaar onder die droogte deurgeloop met groot verliese. Produsente moes toekyk hoe mielies stelselmatig verdroog, terwyl grondboonlande nog groen staan.

Bewerkingspraktyke was hierdie seisoen een van die groot faktore wat bepaal het of daar ‘n grondboonoes gaan wees al dan nie. Droë -landaanplantings wat op die geripte lande gedoen is, het grondbone die geleentheid gebied om diep, goed gevestigde wortelstelsels te vorm. Hierdie praktyk het selfs op besproeiingslande ‘n groot impak gehad.

Lande wat diep bewerk is, het nie so vinnig tekens van verlepping getoon as lande wat vlak bewerk is nie. Vlakbewerkte besproeiingslande het swaar getrek onder hoëhittetoestande en is gereeld besproei, dus het dit die voorkoms van peulvrot verhoog (Foto 3). Dit is uiters belangrik om in gedagte te hou dat grondbone nie van “nat voete” hou nie.

Blaarsiektedruk was relatief lig die afgelope seisoen en dus was blaarvlekbespuitings net nodig op plekke waar daar wel tekens van blaarvlek was. Beheerpraktyke was daarom baie effektief. Aan die einde van die seisoen het grootskaalse roes (Puccinia arachidis Speg.) egter voorgekom (Foto 4). Dievoorkoms van roes het verband gehou met hoë humiditeit en hitte wat voorgekom het.

Gedurende oestyd is opgelet dat produsente oorhaastig begin oes het. Die moontlike redes hiervoor kan wees: Dat die gewoonte om Aprilmaand te oes, baie prominent is; dat die peulkrap-metode dié seisoen getoon het dat die peule gereed is vir oes, terwyl die binnekant van die peule egter nog onvolwasse was; en dat die 150 dae handreëls slegs toegepas is sonder om rypheid in die land vas te stel. Hierdie praktyke het veroorsaak dat aanplantings te vroeg geoes is en grootskaalse verkrimping veroorsaak het. Gevolglik is die gradering van die oeste ook baie swak.

Grondboonproduksie is ‘n deurlopende proses van besluitneming. Dit is ‘n hands-on boerdery waar die produsent konstant op hoogte moet wees van wat in die land aangaan. Een jaar se foute moenie ‘n produsent afsit van die aanplant van grondbone nie.

Die voordele, buiten die fisiese oes, is groot en sluit in: Die opbou van die landbougrond deur die peulgewas se vermoë om stikstof terug te plaas in die grond en sodoende ‘n besparing op kunsmisaankope vir die volgende seisoen; die grondboonhooi wat verkoop kan word of selfs gebruik kan word vir vee; die kontant-invloei wanneer die mielie-oeste nog op die land is; en die meganisasieopsies wat nou bestaan om die produksie van die gewas te vergemaklik.

‘n Grondboonprodusent het ‘n liefde vir die gewas – voordele asook struikelblokke ingesluit. Selfs in droogtejare sal ‘n grondboon ‘n oes lewer, al is dit ‘n klein oes. Menige produsente het al genoem dat grondbone hul deur moeilike tye kop bo water laat hou het. Sorg vir die grondboon-oes en die grondboon-oes sal vir jou sorg (Foto 5).

Publication: June 2013

Section: Input Overview

Search