• Login
  • Search Icon

Grondboonboeredag lok menigte

June 2012

PETRU FOURIE, EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

image

Grondboonprodusente regoor die verskeie produksiestreke het op Dinsdag, 20 Maart, na Hoopstad gestroom om die eerste Grondboon Meganisasie Inligtingsdag van sy soort by te woon. Hierdie dag het gefokus op kultivarinligting, masjinerie en algemene inligtingsoordraging.

Dié geleentheid het nie net grondboonprodusente nie, maar ook verskeie rolspelers in die bedryf getrek. Die groot opkoms het net bevestig dat daar nog belangstelling in grondboonverbouing onder Suid-Afrikaanse produsente heers. Twee grondboonverwerkers, PFarm en South African Groundnut Marketing (SAGM), was verantwoordelik vir hierdie dag en het met die samewerking van ‘n welbekende plantwetenskaplike (dr Schalk van Wyk), Graan SA en verskeie ander rolspelers, ‘n suksesvolle dag aangebied.

Produsente het bymekaar gekom om ‘n spilpuntland vol proefaanplantings bestaande uit meer as 150 verskillende lyne van Spaanse, Runners en Verginias te kom besigtig. Die proewe is op mnr Martiens Prinsloo se plaas, net buite Hoopstad, aangeplant en is die harde werk van dr Schalk van Wyk. Groot opwinding heers oor hierdie proewe aan gesien dit moontlike verbeterde kultivars met groter opbrengspotensiaal vir Suid-Afrikaanse produsente binne die volgende paar jaar kan beteken.

Ten spyte daarvan dat grondbone se winspotensiaal goed met dié van byvoorbeeld mielies vergelyk, het plaaslike grondboonaanplantings die afgelope paar jaar stelselmatig afgeneem en groot bekommernis is oor die kwynende bedryf uitgespreek. Redes vir hierdie afnames is grootliks die gevolg van stygende arbeidkoste en wetgewing rondom tydelike werkers asook die wisselende weersomstandighede wat ‘n duidelike impak gehad het.

Die groter risiko en intensiewe bestuur in ‘n tradisioneel ongemeganiseerde stelsel het ook meer teen dié gewas begin tel, maar met die verskyning van losmaat-ontvangs en meganisasie behoort grondboonverbouing ‘n aantrekliker opsie te word. Valtrac, Colombo en RovicLeers het dan ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul grondboonstropers en uithalers by hierdie boeredag ten toon te stel.

Volgens mnr Alfonso Visser (grondboonverwerker en eienaar van PFarm) is die groot uitdaging om grondboonverbouing in Suid-Afrika tot sy volle potensiaal te laat kom en om opbrengste op te stoot. Volgens hom is die mark, die wins sowel as die tegnologie, reeds daar.

Graan SA se vraag en aanbod-projeksies toon ook dat plaaslike grondboon-eindvoorraad die laaste paar jaar skerp gedaal het, vanaf 44 000 ton in 2009/2010 tot ‘n geskatte 14 000 ton teen die einde van die 2012/2013-bemarkingsjaar. As daar nog verder voorsiening gemaak word vir die benodigde pyplyn, word ‘n tekort van ongeveer 4 000 ton verwag teen die einde van 2012/2013 en wat bevestig dat daar heelwat ruimte vir verhoogde grondboonproduksie in Suid-Afrika is.

image

Publication: June 2012

Section: Other Articles

Search