• Login
  • Search Icon

Grond: die produsent se belangrikste bate

January 2010

MARTIENS DU PLESSIS, GRONDKUNDIGE, NWK BEPERK EN PROF CORNIE VAN HUYSSTEEN, DOSENT: GRONDKUNDE, UNIVERSITEIT VAN DIE VRYSTAAT
 
Grond is die mees fundamentele hulpbron vir die produsent waarsonder voedsel en natuurlike vesel nie geproduseer kan word nie. In hierdie derde artikel in die reeks is die fokus steeds op die belangrikste fisiese grondeienskappe.
 
Grondvervorming
Konsistensie
Wanneer ‘n krag op ‘n grondliggaam uitgevoer word, sal dit meegee, vervorm of kraak. Konsistensie is die weerstand wat grond teen vervorming bied en kan aan die kohesiekragte tussen gronddeeltjies toegeskryf word. Die hoeveelheid grondvog het ‘n groot invloed op die konsistensie van die grond. Hoe natter die grond, hoe makliker vervorm dit, terwyl dit in die droë toestand baie hard kan wees en baie weerstand teen vervorming kan bied.
 
Konsistensie word soos volg beskryf:
·         In die droë toestand: los, effens hard, hard of baie hard.
·         In die klam toestand: los, krummelrig, effens ferm, ferm of baieferm.
·         In die nat toestand: nie-klewerig, effens klewerig, klewerig of baie klewerig.
 
Die konsistensie beïnvloed die bewerkbaarheid van die grond en wortelverlenging deur die grond. Bewerking van grond met ‘n los konsistensie is makliker en wortels groei ook beter in los grond (maar nie te los nie), as wanneer die grond se konsistensie hard of baie hard is.
 
Grondsterkte
Grond bied weerstand teen vervorming en ‘n spesifieke krag is nodig om verby die weerstandsvlak te kom, waarby die grond sal begin vervorm. Hierdie weerstand teen vervorming is weens die wrywing van gronddeeltjies wanneer hulle oor mekaar gly en wanneer hulle uit hul gepaste posisies uitmekaar “geskeur” word. Grond sal normaalweg nie na hul oorspronklike posisie terugkeer nadat die stressor verwyder is nie.
 
Wanneer grond deur eksterne kragte soos landbouwerktuie inmekaar gedruk word, verkeer die grond onder stres en sê ons die grond is gekompakteer of verdig. Die effek hiervan op die fisika van die grond is onder andere dat die grondsterkte (of weerstand teen vervorming) in die verdigte sone verhoog word, die brutodigtheid word verhoog en die porositeit (hoeveelheid porievolume) word verlaag.
 
Kliek op   http://www.graansa.co.za/documents/SAGraan%20Jan2010_Grond.pdf vir die volledige artikel.

Publication: January 2010

Section: Wenartikels

Search