• Login
  • Search Icon

Graanmark-oorsig

November 2014

23 Oktober 2014

image

WESSEL LEMMER, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Moet die vraag en aanbod-markinligting vir mielies voortaan van Maart tot Februarie strek?

Die bemarkingsperiode vir mielies wat die rapportering van vraag en aanbod-inligting betref, strek vanaf Mei tot April elke jaar. Mielies is die enigste gewas waarvan die produksieseisoen nie met die bemarkingsperiode ooreenstem nie.

Gevolglik kompliseer dit die beraming van die geprojekteerde eindvoorraad aan die einde van die bemarkingsperiode. Hierdie artikel bespreek enkele van die voordele om die bemarkingsperiode aan te aanpas, maar dui ook op van die implikasies wat dit kan inhou.

Waarom sou ons die bemarkingsperiode wou aanpas?

Deursigtige markinligting is van kardinale belang om ingeligte bemarkings- en prysingsbesluite te neem. Die vroeë leweringsyfers vir Maart en April aan die einde van die bemarkingsperiode word elke jaar vooruitgeskat en by die vraag en aanbod-projeksies ingesluit om sodoende die verwagte oordragvoorraadsyfer aan die einde van April jaarliks te bepaal.

Die grootte van die oordragvoorraadsyfer is bepalend vir binnelandse pryse. Sodra dit blyk dat oordragvoorrade teen einde April knap gaan wees, word pryse ondersteun. Indien oordragvoorrade aan die einde van die bemarkingsperiode groot gaan wees, plaas dit pryse onder druk. Duidelikheid oor dié syfer is dus belangrik.

Deur die bemarkingsperiode vir mielies twee maande vroeër te skuif, kan dit die onsekerheid hieroor in die markplek uitskakel omdat dit dan nie meer nodig sal wees om die syfer te raai nie.

Die variasie in eindvoorraadvlakke vergelyk met die variasie in vroeë lewerings

Vroeë produsentelewerings en die onaangewende voorraadsyfer aan die einde van die bemarkingsperiode, se koëffisiënt van variasie beloop onderskeidelik 0,56 en 0,52. Die variasiekoëffisiënt vir voedsel- en voerverbruik is 0,07. Die hoë variasie in die eindvoorraadsyfer vergelyk met die hoë variasie in die vroeë leweringsyfer.

Mielies se vroeë leweringsyfer vir Maart en April is onvoorspelbaar en bring groot onsekerheid vir produsente mee. Daar is geen betroubare beramingsmodel om die syfer akkuraat vooruit te kan bepaal nie.

Die gemiddelde bydrae wat die vroeë produsenteleweringsyfer tot die eindvoorraadvlakke aan die einde van April maak, beloop ‘n merkbare 34%. Dit beteken dat vroeë lewerings gedurende Maart en April gemiddeld tot 34% van die eindvoorraadvlakke op 30 April uitmaak.

Dit is genoeg om ‘n bepaalde invloed op pryse uit te oefen. Byvoorbeeld: Teen die einde van die 2013/2014-bemarkingsperiode het die vroeë leweringsyfer 81% van die eindvoorraadsyfer beloop en in 2006 was die bydrae so laag as 3%.

Wat bepaal die vroeë leweringsyfer?

Dit word deur weerstoestande bepaal wat die tydige aanplant en oes van vroeë mielies aandui. Die vroeë leweringsyfer word jaarliks geraai en in die jaarlikse vraag en aanbod syfer as ‘n willekeurige syfer ingelees omdat hierdie syfer nie vooraf bepaalbaar is nie. Weerstoestande is net te onseker.

Hoe word die vroeë leweringsyfer tans vooraf deur Graan SA bepaal?

Graan SA maak van ‘n sogenaamde Texas-gemiddelde gebruik om ‘n vroeë leweringsyfer te bepaal. Dit behels dat die komende Maart- en Aprilmaand se vroeë leweringsyfer bepaal word deur die afgelope vyf jaar se vroeë leweringsyfers te neem en die hoogste en laagste syfer vir die vyf jaar uit te skakel.

Die gemiddelde syfer van die oorblywende drie jaar word dan as die nuwe vroeë leweringsyfer gebruik. Die syfer wat uiteindelik realiseer, wyk altyd af van die voorafberaamde syfer.

Kan die onsekerheid oor die vroeë leweringsyfer uitgeskakel word?

Daar kan vir die volgende bemarkingsperiode uit die staanspoor voldoende voorsiening getref word om die onsekerheid oor die vroeë leweringsyfer in totaliteit te verminder. Die enigste wyse waarop dit verkry kan word, is om die bemarkingsperiode twee maande vroeër, vanaf Mei tot April, te skuif na Maart tot Februarie. Sodoende word enige onsekerheid oor vroeë lewerings uitgeskakel en is dit nie meer nodig om hieroor te raai nie.

Is die eindvoorraadvlak vir mielies jaarliks op sy laagste aan die einde van Februarie?

Wanneer die gemiddelde eindvoorraadvlakke vir elke maand oor die afgelope vyf periodes vergelyk word, is dit duidelik dat die laagste eindvoorraadvlak vir kommoditeite in die volgende maande val.

Mielies: April
Sojabone: Februarie
Sonneblomsaad: Februarie
Koring: September

Die surplus bo die benodigde pyplynvoorraad word in April gebruik om te bepaal of voorraadvlakke toekomstige pryse sal ondersteun of onder druk plaas.

Indien daar ‘n tekort bo die pyplynvoorraad is, neig pryse hoër en sodra daar ‘n surplus bo die pyplynvoorraad is, kan toekomstige pryse laer neig.

Om die bemarkingsperiode twee maande vroeër te skuif, het ten doel om die produksieseisoen en bemarkingseisoen in lyn te bring en die geraai oor vroeë lewerings vir die komende bemarkingsperiode uit te skakel.

Die surplus bo die pyplynsyfer aan die einde van April, wanneer voorraadvlakke op hul laagste is, gaan steeds belangrik wees om te bepaal of eindvoorraadvlakke pryse ondersteun of nie.

Hoe rapporteer SAGIS die inligting?

Die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) rapporteer inligting op ‘n maandelikse basis. Hierdie inligting sluit vraag en aanbod-verwante inligting in asook weeklikse produsentelewerings en in- en uitvoersyfers.

Dit is belangrik om daarop te let dat enige markdeelnemer of rolspeler op grond van die maandelikse Sagis-inligting sy eie bemarkingsperiode kan bepaal – dit is nie voorskriftelik nie.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se Vraag en Aanbod Ramingskomitee kan dus die bemarkingsperiode van Maart tot Februarie gebruik en hoef nie die bemarkingsperiode van Mei tot April te gebruik nie.

image

Het ‘n bemarkingsperiode iets te doen met die amptelike bemarkingsjaar?

Dit is belangrik om daarop te let dat die bemarkingsperiode waarvolgens geprojekteerde vraag en aanbod-syfers (markinligting) gerapporteer word, niks te doen het met die amptelike bemarkingsjaar wat deur die bedryf gebruik word nie.

Die skuif van die rapportering van vraag en aanbod-inligting vir mielies vanaf Mei tot April na Maart tot Februarie elke jaar, het slegs ten doel om die produksieseisoen en bemarkingsperiode soos dit met die ander kommoditeite die geval is, te laat ooreenstem.

Dit sal waarskynlik ook net die NLBR se Vraag en Aanbod Ramingskomitee wees wat hierdie bemarkingsperiode vir die rapportering van markinligting sal gebruik.

Dit is baie belangrik om te besef dat die skuif van die bemarkingsperiode niks te doen het met die amptelike bemarkingsjaar vir mielies wat in die bedryf gebruik word nie. Produsente moet spesifiek daarop let dat dit nie die doel is om byvoorbeeld liggingsdifferensiale twee maande vroeër vir mielies te laat afkondig nie, ook nie dat jaarstoor twee maande korter gemaak moet word nie.

Dit het ook nie ten doel dat die belastingjaar van sekere ondernemings met die amptelike bemarkingsjaar moet saamval nie. Die versoek vir ‘n nuwe bemarkingsperiode het slegs daarmee te make dat die raaiery oor die vroeë leweringsyfer vir mielies gedurende Maart en April elke jaar hierdeur uitgeskakel kan word.

Hoe sal die vraag en aanbod-projeksie verskil indien die bemarkingsperiode sou verander?

Met die bemarkingsperiode wat twee maande vroeër skuif, is die geprojekteerde eindvoorraad teen einde Februarie 2015 ongeveer 1 miljoen ton meer as teen einde April 2015.

Dit stem min of meer ooreen met die hoër beginvoorraad aan die begin van dieselfde bemarkingsjaar. Die eindvoorraad van mielies bereik elke jaar ‘n laagtepunt in April.

Ter wille daarvan om die surplus bo die pyplyn met die eindvoorraad op sy laagste vlak gedurende die jaar te vergelyk, sal die Aprilsyfer altyd ‘n belangrike aanduider bly van die voorraadsituasie en die verband met pryse. Om dit dus korrek te bereken, sal dit steeds nodig wees om die vroeë leweringsyfer vir Maart en April ook te beraam.

In Tabel 2 word Graan SA se vraag en aanbod-projeksies van 30 September gegee en vergelyk met ‘n vraag en aanbod-projeksie wat vanaf Maart tot Februarie strek.

image

Gevolgtrekking

Die vroeë lewering van mielies vind vanaf Maart plaas en val gevolglik nie in die bemarkingsperiode wat vanaf Mei tot April strek nie. Ons het in hierdie artikel dus gesien dat hierdie syfer onsekerheid skep oor die finale oordragvoorraad wat prysvlakke bepaal.

Indien die bemarkingsperiode geskuif word, kan dit die probleem uitskakel. Die laagste voorraadvlakke vir mielies is egter teen die einde van April en nie soos vir die ander somergewasse, aan die einde van Februarie nie.

Sou die bemarkingsperiode geskuif word, is die laagste voorraadvlakke van die jaar wat gedurende April bereik word, steeds die belangrikste bepaler van toekomstige pryse. Gevolglik sal die syfer steeds bereken moet word en ongelukkig daarmee saam ‘n raaiskoot gewaag moet word vir die vroeë leweringsyfer.

Ten slotte is dit belangrik om daarop te let dat die skuif van die bemarkingsperiode vir markinligtingsdoeleindes hoegenaamd niks te doen het met die amptelike bemarkingsjaar nie en dat ‘n instansie soos die NLBR se Vraag en Aanbod Ramingskomitee ongestoord daarmee sal kan voortgaan.

Publication: November 2014

Section: On farm level

Search