• Login
  • Search Icon

Graanmark-oorsig

September 2015

image

WANDILE SIHLOBO, ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA en TINASHE KAPUYA, hoof: Handel en Beleggings, Agbiz

Suid-Afrika se graanuitvoere: Bydrae tot uitvoergroei en bronne van die bedryf se uitbreiding

Suid-Afrika se oorkoepelende landbou-uitvoere het oor die afgelope dekade volhoubaar gegroei. In nominale terme het totale landbou-uitvoere tussen 2009 en 2014 met 118% gegroei – vanaf R47 miljard tot R106 miljard.

Watter produkte het hierdie groei gedryf? Groenteprodukte en plantmateriaal het die afgelope ses jaar ‘n groot bydrae gelewer en was verantwoordelik vir 36% van die groei wat ons in landbou-uitvoere gesien het. Ander produkkategorieë sluit eetbare groente en knolle (5,2%), kakaopreparate (5%), suiwel- en eetbare diereprodukte (4,6%) in.

Watter streke het hierdie groei gedryf? Afrika is verreweg die vernaamste bron van groei en is vir 67% van Suid-Afrika se uitvoergroei vir landboukommoditeite tussen 2009 en 2014 verantwoordelik. Asië het tot 18,2% van groei bygedra, terwyl Europa 10% tot Suid-Afrika se totale groei bygedra het. Die Midde-Ooste het ‘n beskeie 3,2% tot die groei bygedra en Oseanië 1,2%.

Tussen 2009 en 2014 het Afrika nie net die grootste bydrae tot Suid-Afrika se uitvoergroei gelewer nie, maar ook die mees gebalanseerde uitvoergroei gebied, met groter landbou-uitvoere wat oor talle produksektore versprei is.

Trouens, die meeste van die kommoditeitsektore het tussen 2% en 7% tot die groei in landbou-uitvoere bygedra. ‘n Uitsondering was die relatiewe groot bydrae van groenteprodukte en plantmateriaal tot Suid-Afrika se landbou-uitvoere in Afrika aan die een kant (13,6%) en die relatiewe swak bydrae van graan (0,1%) aan die ander kant.

Die teleurstellende groei in graan was veral onrusbarend, aangesien dit die enigste kommoditeitsektor was wat feitlik geen groei ervaar het nie op ‘n kontinent waar al Suid-Afrika se landbouuitvoere verstommend gegroei het. Indien Suid-Afrika se relatiewe bydrae van graanuitvoere tot sy totale landbou-uitvoergroei in Afrika gestagneer het, is die vraag dus in watter streek hulle die meeste tot totale landbou-uitvoergroei bygedra het.

In hierdie artikel kyk ons kortliks na die bydrae van graanuitvoere tot Suid-Afrika se totale landbou-uitvoere.

Suid-Afrika se graanuitvoergroei per produk (kommoditeit) en per streek

Graanuitvoergroei per streek
As ons na absolute groei eerder as na relatiewe groei kyk, word dit duidelik dat die graanbedryf op sy eie nie so sleg gevaar het as wat ‘n mens dalk dink nie.

Tussen 2009 en 2014 het Suid-Afrika se totale graanuitvoere meer as verdubbel en in nominale terme vanaf R4,1 miljard tot R8,7 miljard gegroei. Suid-Afrika het oor dieselfde tydperk gemiddeld R6,7 miljard se graan (in waarde) per jaar uitgevoer.

Statistiek toon dat indien ‘n mens die Amerikas en die Swartseestreek (met ander woorde Rusland en die Oekraïne) uitsluit, is meer as twee-derdes van Suid-Afrika se graanuitvoere na Afrika-markte toe uitgevoer, met Asië wat tussen 2009 en 2014, ‘n gemiddelde van 23%, verbruik het.

Die Oseanië-streek het 9% van Suid-Afrika se graanuitvoere verbruik, terwyl Europa (EU) 3% tussen 2009 en 2014 verbruik het. In dieselfde tydperk het die Midde-Ooste (MO) 2% van Suid-Afrika se graanuitvoere verbruik.

Graanuitvoergroei per produk (kommoditeit)
Mielies is verreweg die graan wat die meeste uitgevoer word, met 80% van die totale volume. Koring het 10% van Suid-Afrika se totale gemiddelde graanuitvoere uitgemaak, terwyl rys en sorghum onderskeidelik 8% en 2% uitgemaak het.

Rog, gars, hawer, bokwiet, manna en kanariesaad vorm die res, wat saam minder as 1% van die totale graanuitvoere uitmaak. Die meeste van die groei wat in die graanbedryf ervaar is, het van rog gekom, wat vir twee-derdes van die algehele groei verantwoordelik was (volgens waarde het rog gegroei van geen uitvoere in 2009 nie tot R4 miljoen in 2014).

Die groei in mielie-uitvoere het tot 15% van die groei in die graanbedryf bygedra, met koring en rys wat elkeen vir 11% verantwoordelik was.

In terme van graanprodukverspreiding per streek het al Suid-Afrika se koring-, rys-, gars- en sorghumuitvoere na Afrika toe gegaan. Koringuitvoere het van R230 miljoen in 2009 tot R1,2 miljard in 2014 toegeneem – 40% van Suid-Afrika se graanuitvoergroei in Afrika.

Mielies is die enigste graanproduk waarin Suid-Afrika ‘n mate van markdiversiteit buite die Afrika-kontinent toon en ironies genoeg bly dit die een streek waar Suid-Afrika se graanuitvoergroei die swakste was. Trouens, Suid-Afrika se mielie-uitvoere na Afrika het met 15% (in absolute terme) vanaf R3,5 miljard in 2009 tot netonder R3 miljard in 2014 gedaal. In relatiewe terme het die bydrae van mielies tot die groei van graanuitvoere met 5% gedaal.

Intussen kom die helfte van Suid-Afrika se groei in graanuitvoere na Afrika vanuit rysuitvoere, wat meer as versewedubbel het vanaf R100 miljoen in 2009 tot R768 miljoen in 2014. Dit is die moeite werd om daarop te let dat Suid-Afrika al sy rysbehoeftes invoer. Die meeste van Suid-Afrika se graanuitvoere buite Afrika is feitlik uitsluitlik geelmielies. Namate mielie-uitvoere na Afrika gedaal het, het Suid-Afrika markte in Asië en die Midde-Ooste gekry waar groei in graanuitvoere hoofsaaklik deur mielies gedryf word. Tussen 2009 en 2014 was mielies byvoorbeeld vir 70% van die groei in graanuitvoere na Europa verantwoordelik, terwyl dit in Asië 100% deur mielies gedryf word.

Die toename in uitvoergroei na alle streke buite Afrika het egter op ‘n baie laer basis begin. In Asië het mielie-uitvoere eksponensieel vanaf R125 miljoen in 2009 tot R2,9 miljard in 2014 gegroei, terwyl mielie-uitvoere in die Midde-Ooste oor dieselfde tydperk meer as verdubbel het vanaf R64 miljoen tot R142 miljoen.

Dit was as gevolg van die mielie-uitvoere na Saoedi-Arabië in 2014. Oor die algemeen is Asië se invoervraag verantwoordelik vir die grootste bydrae tot die groei van Suid-Afrika se graanuitvoerbedryf, met 85% van die groei oor die afgelope ses jaar. Die grootste markte in hierdie streek is Japan en Taiwan (Chinese Taipei).

Gevolgtrekking

Ten spyte van Suid-Afrika se fenomenale groei in landbou-uitvoere na Afrika oor die afgelope ses jaar, was die bydrae van die graanbedryf tot hierdie groei onderdruk en het dit trouens gekrimp.

Terwyl al die grane buiten mielies feitlik uitsluitlik na streeksmarkte in Afrika uitgevoer word, is heelwat van die graanuitvoere buite die kontinent in ‘n groot mate dié van mielies.

Die groeibydrae van Suid-Afrikaanse graanuitvoere tot die algemene groei van landbou-uitvoere na Afrika was min as gevolg van die mielie-uitvoere wat aan die een kant afwaarts neig, tesame met uitvoere in sorghum, gars, hawer en rys – wat vanaf ‘n laer basis groei – aan die ander kant.

Namate mielie-uitvoere in Afrika daal, is die bron van graanuitvoergroei in Asië, die Midde-Ooste en dele van Europa. Ontluikende markte in Asië, veral Japan, Taiwan en Suid-Korea, is onder die groot verbruiksmarkte wat die eksponensiële groei van Suid-Afrikaanse graanuitvoere na Asië dryf.

Suid-Afrika se graanuitvoere

Suid-Afrika se graanuitvoere

Publication: September 2015

Section: On farm level

Search