• Login
  • Search Icon

Graanbedryf word met passie gedien

October 2017

Johan Smit, besturende redakteur, SA Graan/Grain. Foto's: Alzena Gomes, Graan SA

Een van die geleenthede wat Graan SA effektief benut om erkenning te gee aan uitgetrede lede van die Hoofbestuur, jare diens deur personeel en ander prestasies, is die funksie wat jaarliks saam met die Juliemaand Hoofbestuursvergadering op NAMPO Park gehou word.

Tydens vanjaar se funksie op 26 Julie is afskeid geneem van drie Hoofbestuurslede wat tydens Kongres uitgetree het, naamlik mnre Hannes Haasbroek (Streek 24), Louis Claassen (Streek 16) en Francois Minnaar (gekoöpteer).

In sy afskeidsboodskap het Haasbroek sy streek bedank vir ‘n tweede geleentheid om as Hoofbestuurslid te kon dien. “Ek het familie gemaak hier: Familie wat mekaar ken, wat vriende is en saam deel in ‘n saak wat ons almal na aan die hart lê. Sterkte en voorspoed vir elke Hoofbestuurslid. Gee die produsente leiding, want hulle hoop is op julle,” het hy gesê.

“Dit was ‘n groot voorreg om hier te kon dien. Hou moed: Ek glo die produsente van dié land sal dit maak,” was Louis Claasen se boodskap. Hy het ook sy vertroue in en respek vir die personeel van Graan SA uitgespreek. Francois Minnaar het op ‘n oorspronklike wyse gaste toegerus met wenke om netelige situasies volhoubaar te kan hanteer.

Uitnemendheid is een van Graan SA se belangrike waardes en die skild vir uitnemendheid onder Hoofbestuurslede, is vanjaar toegeken aan mnr Richard Krige (Streek 27). “Daar is soveel passie waarmee die graanbedryf gedien word en dit is ‘n ongelooflike voorreg om deel daarvan te wees. Die bedryf het my laat groei as mens en as werkgewer,” het hy gesê.

“Graan SA Hoofbestuurslede is vir hul medeprodusente goud werd,” het Magda du Toit (korporatiewe skakeling en kommunikasiebestuurder: Monsanto) namens dié borg van die aand, in haar boodskap bena­druk. “Dit is lekker om vriende soos Graan SA te hê,” het sy bygevoeg.

Theo Venter, politieke en beleidsanalis: NWU Sakeskool, het gaste se lagspiere geprikkel deur teenstrydighede in die politiek uit te wys aan die hand van verskeie politieke spotprente wat oor jare in die dagbladpers verskyn het. Sy mening was dat die Suid-Afrikaanse samelewing opnuut ‘n oorlewingsdrang moet ontwikkel om te kan oorleef in die huidige stormagtige omgewing.

Bennie Zaayman (terreinbestuurder: NAMPO Park) het ‘n toekenning ontvang vir die 15 diensjare waarmee hy spog. Alte­saam agt personeellede is ook vereer vir vyf jaar diens aan Graan SA.

Hulle is:

  • Dr Marinda Visser (bestuurder: Grain Research and Policy Centre);
  • Luzelle Botha (komiteebeampte);
  • Lydia Kasumba (assistent-reken­-mees­ter);
  • Dirk Kotze (ledebemarking- en kommunikasiebeampte);
  • Ashley Mathisa (terreinwerker);
  • Louisa Mohlala (skoonmaker);
  • Nydia Odendaal (komitee­-beampte);
  • Xolile Speelman (Terreinwerker);
  • Madeleen Steyn (finansiële en kantoor­administrateur);
  • Coretha Usher (menslike hulpbron­ne­beampte);
  • Elda-Beth van den Berg (sekretaresse); en
  • Toit Wessels (assistent-bestuurder: NAMPO en Bemarking).

Publication: October 2017

Section: Grain SA

Search