• Login
  • Search Icon

Graan SA-voorlegging aan Grondkomitee: Só lyk die ware struikelblokke vir grondhervorming

September 2018

MARIËTTA CRONJÉ, SA Graan/Grain medewerker

Die regering se nalating om titelaktes – en dus volle besit-reg – vir grond wat vir hervormingsdoeleindes aangekoop is oor te dra, is op die oomblik die enkele grootste struikelblok wat graanprodusente in die gesig staar. Dit het tot gevolg dat nuwe era-boere nie finansiering kan bekom om grond te bewerk en gewasse te produseer nie.

Hierdie is een van die prominente aspekte wat deur Graan SA uitgelig is in die voorlegging wat kort gelede by die Parlementêre komitee oor grondhervorming ingedien is. ‘n Gebrek aan steunprogramme nadat grond aan nuwe era-boere beskikbaar gestel is, asook die groot leemte wat in die identifisering van begunstigdes aan wie grond oorgedra kan word ontstaan het, sluit nou hierby aan. Verskeie ander probleemareas is ook deur Graan SA uitgelig.

Finansiering is ‘n dilemma
Die finansieringsuitdaging strek wyd. Selfs die Land Bank kan ingevolge sy huidige mandaat nie ongewaarborgde lenings aan nuwe era-boere gee nie. Dit geld ook vir ander finansiële instellings. In die huidige bestel kwalifiseer nie een van die begunstigde nuwe era-boere vir lenings nie. Die verwyte dat hulle nie as boere slaag nie, is dus misplaas. Hulle misluk nie omdat hulle swak boere is nie, maar omdat finansiële aspekte en die kwessie van behoorlike eiendomsbesitreg dit vir hulle onmoontlik maak om te slaag. Dit is die stelsel wat misluk, nie die boere nie. 

Die beste oplossing vir dié uitdaging is om volle titelregte aan begunstigdes van grondhervorming te gee. Dit sal hulle in staat stel om finansiering te bekom of om geloofwaardige aandele in vennootskappe met kommersiële produsente te bekom. 

‘n Alternatiewe metode wat ook betekenisvol kan wees, is om die grond aan die betrokke begunstigdes te verkoop op terme en voorwaardes wat gunstig genoeg vir hulle is om volhoubare boerdery te begin en te bedryf. Só ‘n stap kan duisende hektaar grond vir produksie ontsluit. Dit sal ook die getal nuwe era-boere onmiddellik en aansienlik verhoog.

Bystand na vestiging
Die gebrek aan bystand nadat begunstigde boere op grond hervestig is, is ook ‘n groot struikelblok in die bevordering van volhoubare grondhervorming. Om net op grond te woon, sal nie die menswaardigheid van diegene wat negatief deur optredes van ‘n vorige bedeling geraak is, verhoog nie. 

Ontsluiting van die waarde van grond ten einde welvaart te skep, is die eintlike doel van grondhervorming. Dit kan slegs geskied indien ‘n behoorlike bystandstelsel daargestel en ordentlik in stand gehou word. Vennootskappe met veral kommoditeitsorganisasies is van uiterste belang. 

Vennootskappe en gesamentlike ondernemings met bestaande kommersiële produsente is ook die sleutel tot beduidende vordering in hierdie opsig.

Identifisering van begunstigdes
Nog ‘n belangrike aspek ten opsigte van die geslaagde vestiging van nuwe boere is die identifisering van begunstigdes. Op die oomblik is daar, sover bekend, geen kriteria vir die identifisering van begunstigdes nie. Die aard van herkapitalisasie-begunstigdes wat deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming uitgesoek is, hou bitter min verband met die vereistes wat geld vir bona fide-boere.

Die suksesvolle vestiging van nuwe era-boere in Graan SA se Ontwikkelende Landbouprogram word daaraan toegeskryf dat voorligtingsbeamptes daardie mense uitgewys het wat die beste potensiaal vir boerdery getoon het of waar die nuwe era-boer sy eie bydrae tot die koste van produksie kon lewer. Die huidige wantroue tussen die regering en die privaat sektor oor die identifisering van begunstigdes het ‘n uiters nadelige invloed op die vordering na behoorlike grondhervorming.

Staatsbegroting vir grondhervorming en ondersteuning
Ontledings van onvoldoende bewilligings vir grondhervorming wat deur verskeie instansies, waaronder die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, gedoen is, laat twyfel ontstaan of die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming werklik ernstig was om die tempo van volhoubare grondhervorming te verhoog. 

Groot was die verbasing oor fondse wat vir projekte soos bemarking en verwerking deur Agriparke bewillig is in plaas daarvan dat dit na nuwe era-boere gekanaliseer is. Besteding aan bemarking en verwerking asook infrastruktuur, kan slegs gedoen word nádat produksievermoë geskep is. Geen produksie is egter moontlik sonder finansiering nie.

In teenstelling daarmee, het boere wat in samewerking met Graan SA die voordele van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se herkapitalisasieprogram benut het, feitlik onmiddellik na die vlak van kommersiële produsente beweeg. Van hulle het bykomende grond aangekoop met die inkomste wat hulle uit eie oeste verkry het en die nuwe plaas het dadelik as sekuriteit gedien om oesfinansiering vir albei plase te verkry. 

Infrastruktuur in afgeleë landelike gebiede
Die gebrek aan paaie, verwerkingsgeriewe en opbergingsplekke in afgeleë landelike gebiede het ook regstreekse nadelige gevolge op die winsgrense van nuwe era-boere in hierdie gebiede. Onbehoorlike opbergingsplekke vir produkte soos mielies hou gesondheidsrisiko’s in, wat tot groter begrotingsvereistes ten opsigte van gesondheidsmaatreëls vir die regering kan lei. 

Die gebrek aan behoorlike paaie om hul produkte by markte te kry, voeg aansienlike uitgawes by boere se insetkoste. Weens swak padtoestande stel sommige vervoermaatskappye nie eens daarin belang om vervoer van produkte uit hierdie gebiede aan te pak nie. Hierdie ekstra kostes verlaag natuurlik boere se winsgrense – wat dit weer vir hulle ‘n groter uitdaging maak om ‘n volhoubare en winsgewende boerdery te bedryf.

Huidige beleidsbelemmeringe
Graan SA is ook bewus van ‘n hele aantal suksesvolle vennootskappe of gesamentlike ondernemings tussen kommersiële produsente en nuwe era-boere. Daar is ‘n gewilligheid om hierdie soort van samewerkende ooreenkomste aan te gaan, maar kommersiële produsente is soms versigtig om die veld te betree weens onsekerheid oor of watter ooreenkomste ook al aangegaan word, voldoende sal wees om as grondhervorming beskou te word. Produsente neem dus ‘n houding in van “wag en sien” in plaas daarvan om die inisiatief te neem om sodanige samewerking te begin en grondhervorming sodoende te bevorder. 

Die huidige skuldlas van kommersiële produsente, hoofsaaklik weens die droogte van 2016 en lae graanpryse, laat ook weinig ruimte vir die voorsiening van finansieringsekuriteit om bystand te verleen of ooreenkomste aan te gaan. Graan SA is van mening dat beleidsraamwerke met duidelike riglyne tot ‘n groot mate daartoe kan bydra om grondhervorming te bevorder en te versnel.

Publication: September 2018

Section: Grain SA

Search