• Login
  • Search Icon

Graan SA gee eerste treë met leierskapontwikkeling

October 2011

image

JOHAN SMIT, SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

Leierskapontwikkeling en opleiding is twee van die beleidsbeginsels wat vroeër vanjaar deur Graan SA se Hoofbestuur goedgekeur is. Sedertdien het die organisasie eerstehandse ervaring oor leierskapontwikkeling by sy Amerikaanse eweknie gaan opdoen. Nege jonger hoofbestuurslede is ook betrek by ‘n verhoudingsbou-werksessie met ander leiers van hul generasie uit owerheidsgeledere.

“Ons is opgewonde oor die vordering wat al gemaak is sedert Kongres. Die prentjie is al klaar wat leierskapontwikkeling betref, maar daar moet nou struktuur ingebou word,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, gesê. Die vooruitsig is verder om by Kongres in Maart volgende jaar te sê wat beplan word ten opsigte van die strategiese fokuspunte van leierskap en opleiding. Aspekte soos die beplande uitkomste, watter fasiliteite benodig word en wie die vennote is wat gaan inskakel en saamwerk, sal deel hiervan uitmaak.

“Intussen gaan ons voort met die sake soos wat dit loop en soos wat kapasiteit beskikbaar is. Die doelwit is om in die jonger generasie leiers te belê asook in ons senior manne,” het De Villiers bygevoeg. ‘n Ander aspek op die tafel is produsent-opleiding vir jong swartboere en selfs vir wit jongboere. Plaaswerker-opleiding – soortgelyk aan die destydse Boskop Opleidingsentrum-model – is ‘n behoefte wat oor bedryfsgrense in landbou strek en wat die geleentheid skep om ‘n enkel entiteit te skep wat die onderskeie sinergieë omhels.

Leadership Academy in Minneapolis

De Villiers het op uitnodiging van die National Corn Growers Association (NCGA) op 1 - 4 Augustus die eerste nie-Amerikaner in 26 jaar geword wat die eerste fase van hul jaarlikse Leadership Academy-program bygewoon het. Die uitnodiging het gevolg op dié organisasie se uitvoerende hoof, Rick Tolman, wat as spreker opgetree het tydens Graan SA se 2011 Kongres en op versoek gereël het dat hulle een stoel in die kursus aan Graan SA sal afstaan.

Te danke aan Syngenta Suid-Afrika, wat die reiskoste geborg het, kon De Villiers dié vierdag-kursus in Minneapolis bywoon om te sien wat hulle doen en om dit hier te kom dupliseer. Syngenta borg ook die program in Amerika.

Meer as 500 leiers uit NCGA-geledere het oor die afgelope kwarteeu dié “Leadership at its best” program suksesvol deurloop. Jaarliks word slegs 20 lede gekeur om dit by te woon, met die oog daarop om dinamiese en ontwikkelende leiers die blootstelling te gee.

Volgens De Villiers was die bestek van die programinhoud soos volg:

  • Inleiding ten opsigte van die NCGA
  • Praktiese spreker-opleiding
  • Hoe om die sosiale media (soos Facebook en Twitter) te gebruik
  • Persoonlikheidsprofiel-analise (Disc-profiel)
  • Scenariobeplanning, aangebied deur ‘n futuris
  • Produksiegeoriënteerde besoek aan Syngenta se streekshoofkantoor in Minneapolis
  • Organisatoriese leierskap- en organisasiestruktuur
  • Etiket tydens ‘n besigheidsete (kleredrag; tafeletiket)
  • Media-opleiding deur ‘n hardenuus-joernalis met ‘n praktiese werksessie
  • Besoek aan Syngenta se navorsingsfasiliteit in Minneapolis

Dié eerste fase word gevolg deur ‘n tweede fase wat gedurende Januarie 2012 in Washington DC aangebied word. Dit sluit openbare beleid, lobbying, parlementêre prosedure en ‘n besoek aan regeringsagentskappe in Capitol Hill, in.

Slegs ses kandidate word uitgenooi om ‘n gevorderde, verpersoonlikte kursus in September 2012 by te woon, waartydens intensiewe leierskap- en media-opleiding ondergaan word en kursusgangers se onderhandelings- en skryfvaardighede geslyp word.

Die president van die NCGA, Bart Schott, sê in ‘n persverklaring hy is trots daarop dat soveel belowende leiers gekies het om by die program betrokke te raak. “Wanneer hierdie vrywilligers byeen is, kan ‘n mens hulle passie vir die bedryf aanvoel. Dit is verblydend om te weet dat sulke sterk kandidate die organisasie se saak in die toekoms sal indra,” het hy gesê.

image

image

Nuwe generasie bou verhoudings in Johannesburg

Dit is so dat die nuwe generasie se leiers nie ‘n platform het waar hulle mekaar kan ontmoet nie. As ‘n eerste oefening om verhoudings te bou tussen jong landbouleiers uit verskillende agtergronde, het Graan SA ‘n R50 000-borgskap deur Santam Agri hiervoor ingespan.

Op 16 en 17 Augustus het die nege jongste lede van Graan SA se Hoofbestuur en ‘n gelyke hoeveelheid middelbestuursamptenare uit die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming mekaar in Johannesburg ontmoet. Benewens die bou van verhoudings is daar tyd ingeruim vir die oordraging van vaardighede en lewensafrigting.

Deelnemende gespreksleiers was:

  • Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC;
  • Roelf Meyer, besigheidsman en internasionale konsultant vir vredesprosesse;
  • Prof Mohammad Karaan, akademikus en lid van die Nasionale Beplanningkommissie;
  • Corwyn Botha, vorige uitvoerende hoof van Kaap Agri, oor leierskap; en
  • Jannie de Villiers van Graan SA, oor hoe jy woestyntye in jou lewe hanteer.

Hierdie eerste kontakgeleentheid het gelei tot oop debat en goeie gesprek – vrye spraak het gegeld eerder as om jou affiliasie te verteenwoordig. Die jongmanne se onderhandelingsvaardighede is byvoorbeeld getoets toe hulle as ‘n produsent en ‘n afnemer landbouprodukte onderling moes koop en verkoop. Selfs gedurende teetyd en etenstyd het die deelnemers ‘n werksopdrag uitgevoer om met mekaar interaksie te hê oor aktuele onderwerpe.

“Die uiters positiewe terugvoer van die deelnemers aan hierdie gesprek, beklemtoon die behoefte wat by jong leiers bestaan om brûe te bou wat die graanbedryf die toekoms kan inneem,” het De Villiers aan SA Graan/Grain gesê.

Graan SA hoofbestuurslede wat die geleentheid bygewoon het, was:

  • Koos Blanckenberg (Streek 26)
  • Jaco Breytenbach (Streek 19)
  • Jozeph du Plessis (Streek 2)
  • Phillip Erasmus (Streek 12)
  • Willie Linde (Streek 15)
  • Victor Mongoato (Streek 28)
  • Jaco Minnaar (Streek 22)
  • Chris Schoonwinkel (Streek 21)
  • Cobus van Coller (Streek 23)

Publication: October 2011

Section: Other Articles

Search