• Login
  • Search Icon

Graan SA Bloemfontein-kantoor: Ontwikkeling van boere vir voedselsekerheid in Suid-Afrika

June 2013

SUSAN ENGELBRECHT, SKAKELBEAMPTE, GRAAN SA

We can help poor farmers sustainably increase their productivity so they can feed themselves and their families. By doing so, they will contribute to global food security. But that will happen only if we prioritise agricultural innovation…The world faces a clear choice. If we invest relatively modest amounts, many more poor farmers will be able to feed their families. If we don’t, one in seven people will continue living needlessly on the edge of starvation. This is an argument for making the choice to keep on helping extremely poor people to build self-sufficiency.”– Bill Gates, 2012 Jaarlikse brief van die Bill en Melinda Gates Stigting

Dit gebeur dikwels dat mense die geleentheid gegee word om grond te besit en te boer, maar dat niemand die nodige tyd en moeite belê in hierdie mense om te verseker dat hulle die nodige kennis het om suksesvol te groei tot volwaardige, volhoubare boere nie.

Die woorde van Bill Gates is egter gepas wanneer ‘n mens kyk na die Bloemfontein-kantoor van Graan SA waarvandaan die Graan SA Ontwikkelende Landbouprogram gekoördineer word. Aan die einde van April 2013, het ek die geleentheid gehad om Jane McPherson (programbestuurder: Ontwikke lende Landbou) en van haar spanlede te besoek en het ek deeglik bewus geword van die waardevolle werk wat hulle doen om Graan SA se droom van ‘n verenigde en voorspoedige landbousektor in Suid-Afrika te laat waar word.

Slegs ‘n handjievol van die personeel van Graan SA se Ontwikkelende Landbou-span is gesetel in Bloemfontein. Die res van die span is verspreid regoor Suid-Afrika om ontwikkelende boere by te staan. Daar is Ontwikkelende Landbou-personeel op Lady brand, Belfast, Nelspruit, Vryheid, Kokstad, Mthatha en die Paarl en hulle is daarvoor verantwoordelik dat ontwikkelende boere die nodige kennis om suksesvol te wees, kan bekom.

Wat doen die program?

Die missie van Graan SA se Ontwikkelende Landbouprogram is om swart kommersiële boere met die nodige kapasiteit te ontwikkel en om by te dra tot voedselsekerheid in huishoudings en nasionaal, deur die optimale gebruik van die natuurlike hulpbronne wat beskikbaar is vir elke boer. Om dit te kan doen, het ont wikkelende boere toegang nodig tot vrugbare grond, geld, insette, arbeid, meganisasie en markte, maar die belangrikste is dat hulle ook toegang het tot die kennis en vaardigheid wat nodig is om al hierdie hulpbronne korrek te kan gebruik.

Danksy die befondsing van verskeie vennote, het ontwikkelende boere toegang tot studiegroepe (wat befonds word deur die Mielietrust en die Wintergraantrust) en die ontwikkelingskoördineerders doen alles moontlik om die voorligtingsbeamptes van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye by die studiegroepvergaderings te betrek. Onderwerpe soos suurgehalte van grond; vrugbaarheid en grondmonsters; voedselsekerheid; onkruidbeheer; grond en klimaat; kalibrering van sproeiers; rekordhouding en begrotings; en vele meer, word behandel.

Demonstrasieproewe is ‘n wonderlike manier om vir boere te wys wat die regte ding is om te doen en die onderskeie streke maak met die insetverskaffingsmaatskappye kontak en betrek hulle by die proewe. Groot sorg word geneem om die proewe te plant en te bestuur op ‘n manier wat progressief sowel as tegnologies gevorderd, maar terselfdertyd binne die bereik van ontwikkelende boere is.

Boeredae word ook gehou om te verseker dat die ontwikkelende boere blootgestel word aan ‘n ondersteuningsnetwerk wat in die toekoms tot hulle beskikking kan wees. Gedurende hierdie boeredae word verskillende rolspelers en aandeelhouers in die boerderysektor uitgenooi om deel te neem en lesings te gee oor hul veld van kundigheid en om die boere beter te leer ken. Opleiding word ook gegee met verskeie kursusse wat beskikbaar is vir die boere en mentorskapprogramme verseker dat die ontwikkelende boere nie alleen gelaat word om te sukkel sonder advies nie.

Skole word nie vergeet nie

Ontwikkelende Landbou fokus egter nie net op die ontwikkelende boere nie, maar verseker ook dat ‘n nuwe generasie boere na vore kom deurdat leerders bewus gemaak word van die moontlikheid om landbou as ‘n beroep te kies. DVD’s word gewys en voordragte gedoen by skole regdeur die land, en gedurende 2012 het die Skoleprogram in samewerking met die Mielietrust, die Wintergraantrust en die AgriSETA, 90 232 leerders in verskeie provinsies bereik.

Befondsingsvennote

Die Bloemfontein-kantoor en die personeel van Ontwikkelende Landbou kan nie bestaan indien hulle nie befondsingsvennote het nie aangesien ledegelde van lede van Graan SA nie gebruik kan word vir hierdie doel nie. Daarom is fondse wat toegeken word deur instansies soos die Mielietrust, die Wintergraantrust, die Sorghumtrust, die AgriSETA, die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling Noordwes, so uiters belangrik.

Sonder die pogings van die span in Bloemfontein en die res van hul kollegas regdeur die land, sal dit vir Graan SA nie moontlik wees om suksesvol te wees in die ontwikkeling van swart kommersiële boere met die nodige kapasiteit om volwaardige boerderye te besit nie.

Die werk wat hierdie toegewyde span doen, sal verseker dat Suid-Afrika voedselsekerheid kan beleef. Die woorde van Frances Moore Lappé (Amerikaanse skrywer en aktivis) is hier van toepassing wanneer sy sê: “It’s clear that agriculture, done right, is the best means the world has today to simultaneously tackle food security, poverty and environmental degradation.”

Publication: June 2013

Section: Other Articles

Search