• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

November 2014

— Boontjieskraal Landgoed (Deel 1)
 

ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain

image

Op Boontjieskraal Landgoed, naby Caledon in die Suid-Kaap, is wedersydse respek tussen werkgewer en werknemer baie belangrik.

“Ons is almal deel van een groter familie met tweede en derde geslagte wat op die plaas woon en werksaam is; daarom verwag ek dat ons mekaar met respek moet behandel,” vertel mnr Richard Krige (hoofbestuurder van Boontjieskraal Landgoed asook hoofbestuurslid van Graan SA).

“Dissipline vorm die ruggraat van ons samelewing. Die werkers weet almal wat hulle op die plaas moet doen en verstaan wat hulle verantwoordelikhede is en ons verwag dat hulle op hul eie daarna omsien. Ons pas nie mense op nie.

“Ons kom elke oggend bymekaar en bespreek die dag se aktiwiteite, werksaamhede, probleme en beplanning. Die werkers moet deel wees van die besluitnemingsproses en self eienaarskap en verantwoordelikheid aanvaar vir dít waarmee hulle besig is. As hulle inkoop in dít waarmee jy besig is, neem hulle eienaarskap daarvan,” verduidelik Krige. Volgens Krige is geen individu in die boerdery meer of minder belangrik as ‘n ander nie, maar vorm almal deel van ‘n ketting waarvan elke skakel belangrik is.

Hy verduidelik: “As daar nie kos vir die skape gemeng is nie, kan die mense wat die troppe moet nagaan en voer nie hulle werk doen nie. Só is elke individu, gegewe sy verantwoordelikhede, ewe belangrik op die plaas.

“Ek verwag, waar insidente plaasvind, dat hulle dit dadelik rapporteer. As jy roekeloos was en iets breek, moet jy besef dit is tot almal se nadeel, en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Ek sien die werkerskorps as ‘n verlenging van bestuur. Hulle is die oë en hande van bestuur, maar hulle lewer ook ‘n waardevolle bydrae tot die sukses van die onderneming en neem deel aan die besluite wat geneem word,” het Krige gesê.

Erkenning

“Ek sê altyd, ‘n mens hoef nie harder te werk nie, net slimmer. Die waarde van ‘asseblief’ en ‘dankie’ en om die nodige erkenning aan ‘n individu te gee, word onderskat. Mense het nodig dat jy hulle soms moet prys vir werk wat hulle gedoen het. Omdat ons as boerderyondernemings nooit erkenning in dié vorm kry nie, is ons soms traag met die uitdeel daarvan. Ek dink ons moet die beste uit die mens verkry deur hom of haar gelukkig te maak en hulle te laat voel hulle word gewaardeer en gerespekteer,” gee hy raad.

Op ‘n vraag oor wat ‘n mens kan doen om die lewenstandaard van werknemers op die plaas te verbeter, antwoord Krige: “Ons het verskeie prosesse en stelsels gevolg en geïmplementeer. Landelike stigting het ons destyds ‘n reuse-hupstoot gegee in die opheffing van ons mense.

“Ons ontmoedig die inneem van alkohol en probeer eerder gesonde familiebeginsels promoveer. Ons probeer om na ons mense te kyk deur die vergoeding wat hulle kry asook hulle verblyf op só 'n standaard te plaas dat dit beter is as die norm.

“Ek sê altyd vir hulle, as julle jul sleg wil gedra, kan ek sleg na julle omsien wat vergoeding en verblyf betref. Hulle sê immers in Engels: ‘If you pay peanuts, you’re going to get monkeys’.”

Lees volgende maand meer oor arbeidsverhoudinge op dié plaas.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met hul medeprodusente te deel. Stuur 'n e-pos na estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: November 2014

Section: Relevant

Search