• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

August 2014

— Vlakplaas Boerdery
 

ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain

SA Graan/Grain het hierdie maand gaan aanklop by Janes Barnard van Vlakplaas Boerdery by Hoopstad en met hom gesels oor arbeidspraktyke en -verhoudinge in hulle landboubesigheid. Dié familieboerdery, waar pa Koos en sy seuns Janes, Abraham en Kobus, saam boer, is in 2011 as Graan SA/Syngenta se Graanprodusent van die Jaar aangewys. Volgens Janes probeer hulle om ‘n gunstige werksomgewing vir hulle werkers te skep. “Die plek waar hulle werk moet ‘n vriendelike omgewing wees en goed toegerus en veilig wees.”

Elke werker het ook sy eie trekker wat net hy bestuur en voor verantwoordelik is. “Daar deur gee jy hom verantwoordelikheid en hy pas dit op asof dit sy eie is.” Janes sê hy glo aan die ou gesegde van behandel ander mense (maak nie saak waar hulle in die hiërargie lê nie) soos jy wil hê hulle jou moet behandel. “Ons het nie almal dieselfde geleenthede in die lewe gekry nie, moenie neersien op dié wat minder as jy het nie. Dít wat ‘n mens het, is maar alles net genade en kan enige oomblik van jou af weggevat word.

“‘n Werker het baie meer respek vir jou en jy sal baie meer uit hom as mens kry as hy menswaardig behandel word en jy die voorbeeld stel. Neem die leiding as dit by werk kom, die res sal volg,” sê Janes. Janes-hulle glo dat die beste manier om die werkers te motiveer is om voor te vat. “Ons werk fisies saam met ons werkers en staan nie op die wenakker of sit in die bakkie en kyk hoe daar gewerk word nie. Ek dink nie daar is ‘n beter motivering as dít nie. As hy sien jy sit self ‘n sak kunsmis of saad op jou kop, ek meen hoe wil jy iemand beter motiveer?”

Terugploeg in die gemeenskap

Vlakplaas Boerdery glo jy moet terugploeg in jou gemeenskap en ook probeer om die lewenstandaard van arbeiders op die plaas te verbeter. “Ons het ‘n sokkerveld op die plaas waar die werkers naweke teen die buurplase sokker speel; dan het ons ook ‘n plaasskool waar laerskoolkinders kan skoolgaan totdat hulle hoërskool toe moet gaan op Hoopstad. Verder het ons ook alle werkershuise toegerus met songeisers en lopende water binne die huise,” vertel Janes.

Werk vir gades

Werkers se gades roteer op ‘n driemaande-basis om in die huise as bediendes te werk. “Ons roteer hulle om sodoende almal die geleentheid te gee om te werk en dan weer af te wees om aandag aan hul kinders en huise te gee. In oestyd maak ons ook van die vrouens in die lande gebruik om mielies agter die stropers op te tel.”

Oesbraai

Een keer per jaar word daar vir elke werker ‘n springbok geskiet en met Kersfees word daar ook ‘n paar skape vir die werkers geslag. “Hulle kry dan Desembermaand ‘n dertiende tjek en ná die oes kry hulle 'n oesbonus na gelang van hoe die jaar se oes verloop het en volgens die werker se prestasie deur die jaar. Ons hou ook ná oestyd ‘n oesbraai vir die werkers waar ons lekker eet en saam met hulle kuier.”

Vlakplaas Boerdery is lid van Seesa – wat al hulle arbeidsaangeleenthede hanteer.

Publication: August 2014

Section: Relevant

Search