• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

June 2014

— Pauciflora Boerdery
 

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Dit is die klein dingetjies wat saak maak, so glo mnr Dirk van Rensburg van Pauciflora Boerdery. Dirk en sy seun, Herman, boer saam in die Arlington-distrik en was verlede jaar finaliste in die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-toekenning.

“Ek glo ‘n mens moet streng met jou werkers wees, maar ook regverdig. Dit is my vertrekpunt as ‘n mens begin gesels oor arbeidsverhoudinge. Daar moet dissipline in enige sisteem wees,” vertel Dirk.

“Jy moet daagliks vir jou werkers die voorbeeld stel en hulle moet weet hulle kan nie slap lê nie. ’n Mens moet egter ook menslik wees en jou werkers menslik behandel.”

Erkenning

“Ek glo dat personeel gereeld erkenning moet kry. Die minimum loon is vir ons irrelevant – ons betaal in elk geval baie meer as dit. Ons betaal volgens meriete en verdienste – ons kom al jare met ons mense saam.

“Ons het ook ‘n bonusstelsel waarvolgens die werkers met Kersfees ‘n meriete bonus ontvang. Verder gee ons twee maal ‘n jaar vir elke werker ‘n oorpak en skoene. Almal het dan eenvormige oorpakke en Maandae, nadat ons met Skriflesing en gebed geopen het, hou ons inspeksies. Die werkers weet hulle moet skoon en netjies wees en hulle skoene moet gepolitoer wees. Ons het gevind dat dit produktiwiteit verhoog. Die Maandagoggendvergadering is daarom baie belangrik. Ek glo dit is die klein dingetjies wat saak maak.”

Werkerskomitee

Pauciflora Boerdery het ‘n werkerskomitee wat die oë en ore van die plaas is. Die komitee word jaarliks self deur die werkers verkies. As die werkers ‘n probleem of 'n versoek het, gesels hulle met dié komitee.

“Ek en my seun het op ‘n weeklikse basis 'n vergadering met die werkerskomitee waar arbeidsaangeleenthede bespreek word. Sou daar ‘n dissiplinêre verhoor wees, sal die komitee insette kan lewer. Ons is egter gelukkig en het nog net nodig gehad om 'n waarskuwing te gee sou ‘n oortreding begaan word.

“Ten spyte van die feit dat ons boerdery aangrensend tot die woonbuurt is, poog ons deur goeie samewerking, hulpverlening en ondersteuning om ‘n goeie gesindheid en menseverhouding daar te stel, wat op sy beurt wedersydse respek en agting vir mens en eiendom daarstel,” het hy gesê.

image

Opleiding

Dirk-hulle glo dat ‘n mens jou werkers moet oplei en Graan SA se Graanprodusentontwikkelingsprogram bied gereeld opleidingskursusse op die plaas aan. “Mense moet hulself kan bekwaam,” benadruk Dirk.

Wenke vir medeprodusente

Dirk gee ‘n paar wenke vir goeie arbeidsverhoudinge op die plaas:

  • Wees streng;
  • Wees regverdig;
  • Wees menslik;
  • Stel die voorbeeld vir jou werkers; en
  • Toon belangstelling in jou werkers – vra vir hulle hoe dit met hulle gaan.

Publication: June 2014

Section: Other Articles

Search