• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig 3

September 2014

— Rhys Evans Groep
 

ADRI THERON, SA Graan/Grain medewerker

image

In 2013 is die Rhys Evans Groep aangewys as die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar. SA Graan/ Grain het gaan inloer by dié familie boerdery naby Viljoenskroon om by hulle te gaan kersopsteek oor hoe hulle arbeidsverhoudinge en -praktyke hanteer. Mnr Arno Cronjé (hul hoofbestuurder) was aan die woord:

“Ons uitgangspunt is om ons werkers met respek te hanteer (soos ons self hanteer wil word), sonder om dissipline prys te gee. Hulle moet weet wat hul verantwoordelikhede is en ons hou hulle daarby.”

Vir hulle is die grootste uitdaging om hul personeel in die nuutste tegnologie op te lei om by die huidige uitdagende omstandighede aan te pas. “‘n Mens moet deurentyd in gedagte hou dat hulle saam met die boerdery ontwikkel en daarom deel is van die boerdery. Ons probeer om aan ons werkers die beste werksomstandighede te gee en dié wat aan die gestelde vereistes voldoen, verhoging op meriete te gee. Ons wil eerder hê hulle moet voel hulle weet waarheen ons op pad is. Sodoende probeer ons hulle deel maak van die boerdery.”

Opheffing

Die Rhys Evans Groep se werkers bly nie op die boerdery se plase nie en dit maak dit moeiliker om nou betrokke te wees by die gesinne. “Ons is direk en indirek op verskillende maniere betrokke by die gemeenskap, maar veral by skole waar ons graag bystand lewer met die instandhouding van hul sportfasiliteite en skoolgronde.

“Ons hou ook van tyd tot tyd, met behulp van buite-instansies, inligtingsessies vir werkers oor temas, soos persoonlike finansiële bestuur en gesondheidsprobleme, en probeer hulle opvoed om nie in te gee onder die sosiale druk waarmee hulle gekonfronteer word nie.

“Dit is iets wat vir hulle baie moeilik is – veral omdat van hul familielede hoë posisies beklee en daarom baie geld aan duur motors en ander items bestee om hulle sosiale stand in die samelewing te probeer bevestig. Werkers wat onder hierdie tipe druk swig, kry baie swaar as gevolg van die skuldlas wat hulle aangaan om by ‘n lewenstyl bó hulle eie vermoëns te probeer byhou.”

Die groep maak ook ‘n bydrae wat die opheffing van werkers betref deur middel van 'n program waar hulle derdejaar-landboustudente vanaf instansies soos die Potchefstroom Landboukollege inneem om hul praktiese jaar by die Rhys Evans Groep te doen. Hulle word dan aan die totale boerdery blootgestel. “Dit kan gevolglik ook moontlik daarop uitloop dat ons vir hulle poste aanbied. Op presies hierdie wyse het een van ons werkers al gevorder tot 'n junior plaasbestuurderspos en daar is een wat in lyn staan daarvoor. Ons gee egter voorkeur aan ons eie personeel se kinders,” vertel Cronjé.

“Om met die vinnige ontwikkeling van tegnologie tred te hou, het ons ook begin om studente wat gekwalifiseer het as trekkeroperateurs aan te stel, gevolg deur 'n tydperk van intensiewe indiensopleiding. So vind opheffing plaas in die sin dat hulle nie gewone plaasarbeiders is nie, maar hoogs opgeleide trekkeroperateurs. Dit is egter nie iets wat oornag gebeur nie, en moet met groot omsigtigheid aangepak word.”

Dissipline

Hulle het ‘n voltydse arbeidsverhoudingebestuurder en ‘n eie interne dissiplinêre prosedure. Elke afdelingsbestuurder is verantwoordelik vir die dissipline van sy eie werkers en pas alle wetlike vereistes getrou toe. “Waar sake by ‘n sekere vlak verbybeweeg, sal ons van 'n arbeidskonsultant se hulp gebruik maak,” verduidelik Cronjé.

Minimum loon en vakbonde

“My siening van die minimum loon is dat dit ‘n skande is dat van ons produsente steeds nie die minimum loon betaal nie. Sodanige produsente behoort uitgewys en vervolg te word, want dit is een van die faktore wat bydra tot arbeidsonrus en wat aan produsente ‘n slegte naam gee. Produsente kan nie verwag dat mense op lone minder as die minimum loon moet oorleef met lewenskoste wat konstant styg nie. Ons glo daaraan om goeie werkers meer te betaal en sodoende te verseker dat ons kwaliteitwerkers het wat by ons bly. Produsente sal daaraan gewoond moet raak dat hulle minder werkers gaan hê, wat meer betaal sal moet word.”

‘n Bate

“As jy wil hê iemand moet ‘n werk doen, stel hom in staat om dit te doen. Dit sluit toerusting, opleiding en ‘n omgewing wat bevorderlik vir prestasie is, in. As jy wil hê hy moet jou duur trekker bestuur, rus hom toe met die nodige vaardighede om dit te kan doen – en beloon hom dan daarvoor. Party mense sien ‘n werknemer as ‘n las of gereedskapstuk. Ons sien werkers as 'n bate. Wanneer ons hom aanstel, stel ons hom aan met die idee dat ons sy potensiaal wil benut en hom wil ontwikkel, tot ons en sy eie voordeel.”

Publication: September 2014

Section: Relevant

Search