• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

February 2014

- Schoeman Boerdery (Deel 1)
 

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN

“Ons produsente is in ‘n people’s business. Personeel het, soos alle mense, sekere behoeftes en ons moet erkenning daaraan gee. Die wyse waarop ek my personeel hanteer, is gebaseer op Bybelse beginsels – onder meer om ander te hanteer soos wat jy self hanteer wil word.”

Só gesels mnr Kallie Schoeman van Schoeman Boerdery (Delmas). SA Graan/Grain het by hom gaan aanklop om uit te vind wat hulle benadering tot arbeidspraktyke is en ook wat die belangrikste arbeidspraktyke is waarop hulle klem lê.

Schoeman Boerdery bestaan al 96 jaar. “‘n Besigheid kan nie bestaan as dit nie ‘n visie het nie. Ons visie is: ‘Deur die generasies is en bly ons ‘n seën vir ons mense, ons gemeenskap en ons land.’ En ons streef dit na. Vanaand as ek gaan slaap, moet ek myself afvra: Was ek vandag ‘n seën vir my mense?” vertel Schoeman.

“Ek het my personeel in 1994 bymekaar geroep en vir hulle gesê: ‘Ek gaan emigreer.’ Almal was baie verbaas en wou weet waarheen? Ek het geëmigreer na die nuwe Suid-Afrika toe. Baie mense het nog nie daardie kopskuif gemaak nie.

“Kom ons maak ‘n verskil in die land. Raak betrokke by jou gemeenskap; by jou personeel. Behandel jou personeel soos wat jy graag self behandel sal wil word.”

Effektiwiteit van personeel

Op ‘n vraag wat sy siening van die minimum loon is, antwoord hy beslis: “Die vasstelling van die minimum loon is die beste ding wat met landbou kon gebeur het. Hoekom sê ek so?

“Ons is nou geforseer om nuut te kyk na hoe effektief ons personeel is. En as jy die beste werkers wil hê, moet jy die beste in jou sektor betaal.

“‘n Bietjie statistiek vir interessantheid: In 2000 het ons 26,7 ha per arbeider bewerk teen ‘n loon van R219/ha. In 2013 het ons 95,2 ha per arbeider bewerk teen ‘n loon van R835/ha. Dit is ‘n 72% verbetering in produktiwiteit teen ‘n loonverhoging van 281% of 23,4% per jaar. Ten spyte van die groot verhogings gaan ons besigheid van krag tot krag.

“Die negatiewe kant is natuurlik dat ‘n besigheid nou kyk met hoe min mense hy die werk gedoen kan kry. Dit het produsente gedwing om te meganiseer,” verduidelik Schoeman.

Werkskepping

“Werkskepping is tans hoog op die regering se agenda. ‘n Produsent, soos enige ander besigheidsman, is nie daar om werk te skep nie. Hy wil besigheid doen en ‘n wins maak. Dit is die staat se verantwoordelikheid om ‘n omgewing en regulatoriese klimaat te skep waarbinne werkskepping bevorder kan word.

“Die huidige arbeidswette is egter nie bevorderlik vir werkskepping nie. Die wet op permanente verblyfreg veroorsaak byvoorbeeld dat baie produsente, soos ons, hulle personeel eerder ‘n toelaag betaal om in ‘n woonbuurt te bly en uit te ry plaas toe as om vir hulle verblyf op die plaas te verskaf. Dit veroorsaak weer sosio-ekonomiese probleme in die platteland.

“Die produsent het ‘n verantwoordelikheid om volhoubaar te produseer en vir sy personeel om te gee en te sorg so goed as wat hy kan,” het Schoeman gesê.

Hoe motiveer hy sy personeel en gee hy erkenning aan hulle? Volgens Schoeman is geld nie ‘n langtermynmotiveringsmiddel nie.

“Geld maak jou nie gelukkig nie. Dit keer net dat jy ongelukkig word. Maar alles begin ook by geld. As die geld reg is, kan jy begin met die werk wat gedoen moet word. Daarvoor moet jy opgeleide mense hê wat kan deel in die voor- en teëspoed van die besigheid. Almal het ‘n verantwoordelikheid om leiers in die platteland te identifiseer en te help ontwikkel.

“Ons het ‘n metingstelsel en vier keer per jaar word personeel se effektiwiteit en produktiwiteit teenoor doelwitte gemeet. Ons personeel weet hulle word beloon vir prestasie.

“Produktiwiteit is belangrik en dit kan net bereik word as jy teikens stel wat binne ‘n sekere tyd bereik moet word,” verduidelik Schoeman.

Schoeman Boerdery glo aan vier beginsels:

  • Gee vir my die nodige toerusting om my werk mee te doen en die opleiding wat daarmee gepaard gaan.
  • Sê wat bereik moet word.
  • Sê vir my hoe ek vaar – gee terugvoering.
  • Betaal my na verdienste.

image Hoe word geskille op die plaas besleg?

“Ons het ‘n personeel- en plaasbeleid in plek en elke werker weet wat daarin staan. Die dissiplinêre kode, konflikresolusies en griewebeleid is ook vasgestel en almal het toegang daartoe. Nuwe personeel gaan deur ‘n induksieprogram en daar word seker gemaak personeel verstaan hoe die beleide werk,” het Schoeman gesê.

Hou gerus die Maart-uitgawe dop waarin ons meer sal vertel oor Schoeman Boerdery se bydrae tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die arbeiders op die plaas.

Deel jou praktyke met medeprodusente

Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met hulle medeprodusente te deel. Stuur ‘n e-pos na estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: February 2014

Section: Other Articles

Search