• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

November 2015

— LWO Werkgewersorganisasie (Deel 2)


ANSOFIE TIEDT, bestuurder: Bemarking, LWO Werkgewersorganisasie

Die LWO Werkgewersorganisasie is in 1990 gestig met die aanvanklike doel om uitsluitlik aan produsente binne die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap bystand te verleen met die hantering van arbeidsregaangeleenthede.

Waarin spesialiseer die organisasie?

Die LWO staan die werkgewer strategies asook op grondvlak by met die bestuur van arbeid as besigheidsrisiko. Deur die bestuur van hierdie risiko uit te kontrakteer, word die produsent in staat gestel om te fokus op sy/haar kernaktiwiteite. Die organisasie spesialiseer in arbeidsregsdienste en tree namens die werkgewer op. Hulle beskik oor ‘n span hoogsopgeleide regsadviseurs – tans lê nagenoeg 250 jaar se toepaslike ervaring op die gebied van arbeidsreg in die LWO se Regsafdeling opgesluit.

Dienste gelewer deur die LWO sluit in:

  • 24/7 telefoniese advies
  • Proaktiewe opleiding
  • Verskaffing van dienskontrakte
  • Bystand met:
  • Dissiplinêre verhore
  • Stakings
  • Herstrukturering
  • Personeelvermindering
  • Vakbondonderhandelinge
  • Departement van Arbeid ondersoeke
  • Verteenwoordiging in Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), Bedingingsrade en die Arbeidshof
  • Alle ander arbeidsregtelike dienste

Die LWO se besigheidsmodel maak voorsiening daarvoor dat dienste nasionaal volgens behoefte op die produsent se plaas gelewer word. Hierdeur word verseker dat boerderyaktiwiteite met die minimum ontwrigting voortgesit kan word.

Hoe werk lidmaatskap by die LWO?

Die LWO is ‘n lede-organisasie en lede sluit aan op een van die ses verskillende lidmaatskappakkette wat die LWO bied en ontvang die ooreenstemmende lidmaatskapvoordele. Hierdie pakkette is doel ontwerp volgens produsente se behoeftes. Daar is standaardvoordele van toepassing op alle lidmaatskappakkette, met bykomende voordele afhangende van die lidmaatskappakketkeuse. Die kostestruktuur bestaan uit ‘n eenmalige aansluitingsfooi en ‘n jaarlikse lidmaatskapfooi (jaarliks of maandeliks betaalbaar); en is van toepassing op alle lede.

Die eenmalige aansluitingsfooi is vir die volgende:

Inligtingsessie
Proaktiewe opleiding met betrekking tot alle fasette van die werkgewer se toepaslike sektor/bedingingsraad. Dienskontrakte, salarisstrokies, beleide, prosedures, dissiplinêre kode en pro-forma arbeidsregdokumentasie (waarskuwings en ultimatums) word verskaf en verduidelik.

Implementeringsessie
‘n Bespreking van terme en voorwaardes van dienskontrakte, beleide, prosedures, dissiplinêre kode en toepaslike wetgewing met werkgewer en werknemers, sodat die lid in alle opsigte voldoen aan die vereistes van die lid se toepaslike sektor/bedingingsraad.

Vir die bestuur van arbeid as ‘n besigheidsrisiko, is die LWO as spesialiste op die gebied van arbeidsreg, onontbeerlik vir werkgewers op ‘n nasionale basis. Die verhouding tussen ‘n werkgewer en werknemer is gebaseer op wedersydse voordele en respek. Duidelike reëls en riglyne verseker dat wrywing en misverstande beperk word, wat op sy beurt nie net produktiwiteit nie, maar ook ‘n positiewe werksomgewing bevorder.

Vir verdere navrae, kontak die outeur by 0861 101 828 x204 of ansofie@lwo.co.za. Jy kan ook hul webtuiste besoek by www.lwo.co.za.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke
wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met medeprodusente te deel.
Stuur 'n e-pos na
estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: November 2015

Section: Relevant

Search