• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

October 2015

— LWO Werkgewersorganisasie (Deel 1)


ANSOFIE TIEDT, bestuurder: Bemarking, LWO Werkgewersorganisasie

Belangrike wysigings aan arbeidswetgewing wat tussen 1990 en 1994 in werking getree het, het ‘n behoefte na dienste wat tipies deur ‘n werkgewersorganisasie aangebied word, sterk na vore gebring. Die LWO Werkgewersorganisasie is in 1990 gestig met die aanvanklike doel om uitsluitlik aan produsente binne die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap bystand te verleen met die hantering van arbeidsreg-aangeleenthede.

Die LWO Werkgewersorganisasie is ‘n lede-organisasie sonder winsbejag met ‘n nasionale voetspoor. Die organisasie is geregistreer as werkgewersorganisasie by die Departement van Arbeid – een van die grootste voordele hieraan gekoppel, is dat ons gemagtig is om ons lede te verteenwoordig by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), op Bedingingsrade en in die Arbeidshof.

Omdat die LWO bestuur word deur ‘n raad wat uit lede van die organisasie bestaan, het die organisasie ‘n unieke voordeel in die mark. Die raad is verteenwoordigend van produsente uit elke provinsie asook sakelui en toonaangewende akademici. Dit verseker dat die LWO in pas bly met behoeftes op grondvlak.

Die organisasie se eerste en belangrikste funksie is om te verseker dat die werkgewer aan al die vereistes van arbeidswetgewing voldoen. Die LWO se visie is om ‘n dinamiese rol te speel in die bestuur van arbeidsverhoudinge wat sal bydra tot ‘n produktiewe en volhoubare werksomgewing vir lede.

Globale Mededingendheidsverslag

Suid-Afrika se arbeidsmark word met reg as hoogs gereguleer beskou. Hierdie siening word beaam in die Wêreld Ekonomiese Forum se Globale Mededingendheidsverslag van 2014/2015 en Suid-Afrika word 143ste uit 144 lande in terme van aanstel- en afdankpraktyke gerangeer. Die verslag rangeer Suid-Afrika verder 136ste vir betaling in lyn met produktiwiteit en 133ste in terme van die koste wat geweld en misdaad vir besighede inhou.

Oor die algemeen word Suid-Afrika 144ste gegradeer in terme van samewerking in werkgewer/ werknemer-verhoudinge. Arbeidsverhoudinge in die landbousektor word gereguleer deur Sektorale Vasstelling 13, wat ‘n raamwerk daarstel van spesifieke wetgewing van toepassing op die landbousektor, insluitend ‘n minimum loon soos jaarliks bepaal deur die Minister van Arbeid.

Die mate waartoe die Suid-Afrikaanse besigheidsomgewing gereguleer word, word ook uitgewys in die Fraser-instituut se Economic Freedom of the World 2015 Annual Report waarin arbeidswetgewing onder meer uitgesonder word as ‘n bydraende faktor tot die beperking van ekonomiese vryheid. In die verslag word ekonomiese vryheid direk gekoppel aan ‘n land se welvaart en is Suid-Afrika besig om agteruit te boer.

In die volgende artikel (in die November-uitgawe van SA Graan/Grain) sal daar gekyk word na waarin die organisasie spesialiseer, wat die LWO se dienste insluit asook wat lidmaatskap aan die organisasie behels.

Vir verdere navrae, kontak die outeur by 0861 101 828 x204 of ansofie@lwo.co.za. Jy kan ook hul webtuiste besoek by www.lwo.co.za.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke
wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met medeprodusente te deel.
Stuur 'n e-pos na
estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: October 2015

Section: Relevant

Search