• Login
  • Search Icon

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

September 2015

— Die invloed van beurtkrag op arbeid in landbou
 

ELIZE VAN DER WESTHUIZEN, senior bestuurder: Arbeidsverhoudinge, Agri SA

Een van die grootste uitdagings waarmee individue en besighede tans in Suid-Afrika te doen het, is beurtkrag. Dit
beïnvloed die wyse waarop elkeen aktiwiteite beplan – hetsy in die privaat lewe of in die besigheidsomgewing.

Landbou is nie alleen in hierdie stryd nie. Vanweë die kritieke tyd waarin sekere aktiwiteite, soos besproeiing, oes, verpakking en verkoeling moet plaasvind, kan landbou egter besonder hard deur beurtkrag getref word. Indien beurtkrag dus op ‘n kritieke tyd plaasvind, kan dit tot groot verliese lei.

Omdat aktiwiteite rondom beurtkragskedules beplan moet word, beïnvloed dit verskeie bedryfsvertakkinge, op maniere wat ons dalk nie eers besef nie.

Volgens aanduidings gaan beurtkrag nie binnekort iets van die verlede wees nie en sal elke werkgewer sy besigheidsmodel moet evalueer en moontlike veranderings aanbring om die impak van beurtkrag tot ‘n minimum te beperk.

Het iemand egter al gewonder hoe beïnvloed beurtkrag die werkgewer-werknemer-verhouding? Wat is die verantwoordelikhede van elke party in die geval van beurtkrag?

Dit is belangrik om te onthou dat daar ‘n werkskontrak tussen ‘n werkgewer en ‘n werknemer bestaan. In terme van gemenereg en arbeidswetgewing is dit duidelik dat die twee partye wat verbind is tot ‘n kontrak, ‘n verantwoordelikheid het om die kontrak na te kom.

‘n Werkgewer het ‘n verantwoordelikheid om arbeidswetgewing na te kom sowel as om werknemers te vergoed soos ooreengekom, terwyl ‘n werkskontrak stipuleer dat die werknemer die verantwoordelikheid het om sy dienste aan te bied. Indien ‘n werkgewer van ‘n werknemer verwag om sy dienste aan te bied op ‘n spesifieke dag en tyd en die werknemer voldoen hieraan, moet die werkgewer ook sy verantwoordelikheid nakom om die werknemer daarvoor
te vergoed.

Beurtkrag kan dus nie as gronde gebruik word om die “geen-werkgeen-betaling”-beginsel toe te pas nie.

Dit laat dan die vraag wat ek glo elke werkgewer sal vra: Wat van die verlore produksie as gevolg van beurtkrag? Wel die werkgewer het ‘n paar opsies.

Indien beurtkrag beplan word en die werkgewer is bewus van die tye daarvan, kan hy met sy werknemers ooreenkom om werksure te verander om voorsiening te maak vir die beplande beurtkrag. Die werkgewer kan egter nie eensydig hierdie besluite neem nie, maar moet dit met die werknemers onderhandel.

Die ander opsie is om die verlore produksie in te haal deur oortyd in te stel. Dit laat die vraag hoeveel ‘n werknemer dan betaal moet word vir oortydwerk om verlore produksie in te haal. Volgens arbeidswetgewing word oortyd vir operasionele redes geag as oortyd en moet die werknemer vergoed word vir genoemde oortyd dienooreenkomstig die stipulasie daarvan.

Nog ‘n aspek wat in gedagte gehou moet word, is die verantwoordelikheid van ‘n werkgewer ten opsigte van die veiligheid van werknemers oor die algemeen, maar nog meer so in die geval van beurtkrag. Wat gebeur as ‘n werknemer wat in ‘n pakstoor werk, op daardie oomblik op ‘n leer is en die krag gaan af? Wat gebeur as die
werknemer van die leer afval?

Of as die werknemer met masjiene werk wat afskakel as beurtkrag begin – gaan die masjien outomaties weer aangaan as die krag weer aankom? In terme van die Wet op Beroepsveiligheid en Gesondheid is die veiligheid van werknemers by die werksplek die verantwoordelikheid van die werkgewer en moet die werkgewer alles in sy vermoë doen om insidente te voorkom en om ‘n veilige werksomgewing te skep.

In die geval van beurtkrag is dit nie anders nie. Die werkgewer sal ‘n deeglike risiko-analise moet doen, ook ten opsigte van alle risiko’s geassosieer met beurtkrag. Daar sal dan prosedures ontwikkel moet word om die risiko’s of potensiële risiko’s tot die minimum te beperk.

Laasgenoemde sal aan die werknemers gekommunikeer moet word sodat elke werknemer kennis dra van wat van hom verwag sal word ten tye van beurtkrag.

Na aanleiding van die inligting wat in die artikel verskaf is, is dit duidelik dat die instelling van beurtkrag deur Eskom ‘n ander dimensie na die werkgewer-werknemer-verhouding bring wat ekstra verantwoordelikhede op die werkgewer plaas. Dit bemoeilik die omgewing waarbinne die werkgewer sy besigheid moet bestuur en verhoog koste en aanspreeklikhede.

Dit is egter belangrik dat werkgewers weet wat van hulle verwag word en om planne in plek te sit om die risiko’s aan te spreek en aanspreeklikhede na te kom.

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke
wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met medeprodusente te deel.
Stuur 'n e-pos na
estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: September 2015

Section: Relevant

Search